Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Japanner verwerf PhD in Bloemfontein

Deur Mariëtte Odendaal

“Dit kom maklik voor asof die Ou Testament irrelevant ten opsigte van ons huidige uitdagings is, maar deeglike bestudering van die tekste kan aan ons as hedendaagse Christene ’n diepgaande begrip van moderne probleme gee en vir ons betekenisvolle insig bied.”

Dr Yoshitsugu Onishi
Reformed Church in Japan

Die idioom “bloed is dikker as water” ken ons al van skooldae af; woorde wat mooi vasvat hoe heg die band tussen familie is – dat lojaliteit aan jou familie verbasend sterk is. As hierdie band dan boonop deur gelowiges in Jesus Christus gevorm is, kry dit soveel meer betekenis.

As jy hoor dat ons NG Kerkfamilie se bande tot in die Verre Ooste strek, raak dit jou diep. Om te dink jy kan in die reuse stad Tokio stap en by ’n gereformeerde kerk ingaan en voel jy is tuis – dis alles te danke aan sendelinge soos onder andere Tobie en Annalie de Wet wat hul lewens in diens van Missie Japan in vennootskap met die RCJ (Reformed Church in Japan) gewy het.

Wat dit nog meer besonders maak, is dat die teoloë van die RCJ dikwels hul nagraadse studies aan die UVS (Universiteit van die Vrystaat) in samewerking met Vennote in Getuienis van die NG Kerk Vrystaat doen. Een van hulle wat in April sy doktorsgraad in Bloemfontein ontvang het, was dr Yoshitsugu Onishi.

Ons het met hom gaan gesels om meer uit te vind oor hoe sy pad tot in die Vrystaat geloop het. Met die intrapslag vra hy dat ek hom sommer net Yoshi noem.

Yoshi, vertel ons meer van jouself. Waar het jy grootgeword, skoolgegaan en studeer?

“Ek is in Chiba gebore en het in Saitama grootgeword. Albei hierdie stede is naby Tokio en mense pendel gereeld van hierdie gebiede na Tokio; iets wat een tot twee uur neem en ’n baie tipiese leefstyl is vir mense wat rondom Tokio woon.

“Ek het my skoolloopbaan aan die private hoërskool International Christian University High School (ICUHS) in Tokio voltooi en aan die Hitotsubashi University, ook in Tokio, ’n graad in sosiologie verwerf.”

Kan jy ons meer vertel van die Japannese kultuur, veral met betrekking tot die godsdienste en filosofieë en waar die Christelike godsdiens inpas?

“Alhoewel minder as een persent Japannese Christene is, beteken dit dat van Japan se ongeveer 120 miljoen mense een miljoen Christene is. Die persentasie Christene in Japan is dus klein, maar die invloed van die Christendom op die Japannese samelewing is beduidend. Sendelinge uit die buiteland het baie Christelike skole, universiteite, hospitale, ensovoorts, gestig.

“Die meeste Japannese is gelyktydig Boeddhiste en Sjintoïste. Hulle denkwyse is politeïsties, met ander woorde dit is vir hulle maklik om Jesus as een van baie gode te erken, maar baie moeilik om Hom as die enigste God en Verlosser te aanvaar.”

Hoe het dit gebeur dat jy ’n Christen geword het en wat het jou laat besluit om teologie te studeer?

“Ek is in ’n Christelike gesin gebore. My pa was ’n eerste-generasie Christen, en my ma ’n tweede-generasie Christen. My pa is reeds oorlede, maar hy was ’n predikant. Ek is as kind gedoop en het in my hoërskooljare my geloof bely.

“Nadat ek my BA-graad ontvang het, het ek vir ’n paar jaar by ’n handelsmaatskappy gewerk, maar op dertigjarige ouderdom het ek ’n roeping van God ervaar en besluit om predikant te word.

“Ná my studie aan die Kobe Reformed Theological Seminary het ek vir nege jaar as predikant gewerk. Ek het ook vir ’n paar jaar die Ou Testament deeltyds aan hierdie kweekskool gedoseer, maar ek het besef dat ek verder moes studeer om die kweekskoolstudente op ’n dieper vlak te kon onderrig. Dit was die rede waarom ek besluit het om Suid-Afrika toe te kom om verder te studeer.”

Jy en jou gesin het vir twee jaar in Bloemfontein gewoon terwyl jy jou MTh in Ou Testament voltooi het. Hoe sou jy die kulturele verskille beskryf? Watter uitdagings het jy ervaar en wat het gehelp om die oorgang te vergemaklik?

“Die twee kulture verskil hemelsbreed, maar ons het die verskille geniet. Suid-Afrikaanse kosse is heerlik en ons het dit geniet om elke naweek te braai. Vrugte is soveel goedkoper as in Japan en boonop baie soeter.

“Julle Suid-Afrikaners is baie vriendelik. Ons kinders se klasmaats het hulle byvoorbeeld elke oggend in die klas omhels om hulle te verwelkom. Dit het ons kinders baie gehelp om gou tuis te voel, want hulle kon nie Engels praat toe ons Suid-Afrika toe gekom het nie.”

Wat was die fokus van jou MTh-verhandeling en wie was jou studieleier?

“Die titel van my MTh-verhandeling was ‘Omhels die vreemdeling: die גר (vreemdeling) in die Pentateugiese Wet.’ Ek het die wette rakende die vreemdelinge in die Israelitiese gemeenskap in verskillende groepe ingedeel en probeer om te verstaan hoe God wil hê dat Israel (en ons) vreemdelinge in die gemeenskap moet hanteer.

“My studieleier was prof SD (Fanie) Snyman. Hy was destyds die dekaan van die Fakulteit Teologie.”

Wat het jou gemotiveer om ’n doktorsgraad in teologie te doen?

“In ons kerk, die RCJ, het slegs enkele predikante ’n PhD, en hulle tree almal binne die volgende tien jaar af.

“Om die akademiese gehalte van ons kerkverband en ons Kobe Reformed Theological Seminary te handhaaf, het ek gedink dat as God my die geleentheid bied om verder te studeer, moet ek probeer om ’n PhD te verwerf.

“Ook predikante vir wie ek baie respek het, het my aangeraai om verder te studeer en ’n PhD na te streef ten bate van ons Gereformeerde Kerk en die Kweekskool.

“Dit het my ses jaar geneem om die PhD te voltooi, aangesien ek in hierdie studietyd die enigste predikant van die Takarazuka Gereformeerde Kerk was en ook verantwoordelik was vir verpligtinge teenoor die kerkverband asook onderrig aan die kweekskool. Ek sou waarskynlik my PhD-studie gestaak het as dit vir ’n persoonlike doel sou wees.”

Wat was die fokus van jou PhD-verhandeling en wie was jou studieleier?

“Die titel van die tesis vir my PhD was ‘Genesing van traumatiese herinneringe: Toeëiening van Psalms 74, 79 en 137 in Oos-Asië’. Ek het trauma (individueel en kollektief), kollektiewe geheue en morele wonde as lens gebruik om hierdie Psalms te interpreteer. Al drie hierdie Psalms is Psalms oor gemeenskaplike weeklag tydens die Babiloniese ballingskap.

“Hul weeklagte hou verband met ellende en droefheid as gevolg van oorloë wat deur hierdie interpretasielense met moderne oorloë verbind word. Ek het die interpretasie van Psalms 74, 79 en 137 toegeëien om die ellende en droefheid van die ‘troosvroue’ uit Korea en die Nanjing-slagting in China tydens die Tweede Wêreldoorlog te probeer verstaan. Japan was in daardie era die aanvaller teenoor die Koreaanse en Chinese volke. Deur die interpretasie van hierdie Psalms ten opsigte van trauma, kollektiewe geheue en morele wonde kan ons die diep weeklaag van die slagoffers uit Korea en China beter verstaan. Veral die morele wonde help ons om hierdie weeklaagpsalms as aanvallers te interpreteer.

“My studieleier was prof Lodewyk Sutton.”

Terugskouend, wat sou jy sê is die voordele van jou nagraadse studie in hierdie veld?

“Dit kom maklik voor asof die Ou Testament irrelevant ten opsigte van ons huidige uitdagings is, maar deeglike bestudering van die tekste kan aan ons as hedendaagse Christene ’n diepgaande begrip van moderne probleme gee en vir ons betekenisvolle insigte bied.”

Wat is jou hoop en drome vir die RCJ?

“Ons vier vanjaar die 80ste bestaansjaar van die RCJ wat in 1946, ná Japan se nederlaag in die Tweede Wêreldoorlog, gestig is.

“As gevolg van die radikale verandering van ons Japannese samelewing en ons waardes, het baie mense in daardie tydperk Christene geword.

“Ons vind egter dat nou, na 80 jaar as kerk, die meerderheid van die lidmate bejaard is en ons sukkel om die jonger generasies te evangeliseer.

“Die toekoms van ons kerk is uitdagend, maar ons kan die hoop in die Koninkryk van God sien. Meer as 800 RCJ-lidmate van regoor Japan het vanjaar op 5 en 6 Mei bymekaargekom om ons 80ste bestaansjaar te vier. Tydens die seremonie het ons ook die 80ste bestaansjaarverklaring wat ons as kerk aangeneem het, gelees. Ons soek God se Koninkryk; dit is slegs in die Koninkryk van God waar ons ons hoop en drome kan vind!”

Vir meer inligting kan dr Onishi by onishi.yoshitsugu@gmail.com gekontak word.

 |  Foto’s is deur dr Yoshitsugu Onishi verskaf.

Dr Yoshi Onishi en sy dogters. Hotori (regs) studeer aan die Universiteit van Osaka. Kotone (links) is verbonde aan die Universiteit van Tokio en studeer tans as uitruilstudent in Rwanda vir ’n jaar.
Dr Yoshi Onishi en prof Sutton