Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
In aansluiting by die vorige artikel, waar ons gekyk het na die Pan-Islamitiese oorlog wat op die oomblik woed in en om die Persiese Golf en die Straat van Hormuz, sal dit goed wees om ook te kyk na die politieke sy van Islam. Party het al gesê dat Islam eintlik nie ’n godsdiens is nie, maar ’n politieke beweging wat ’n godsdiens het. Dit is waarskynlik te sterk gestel, maar dit is tog belangrik dat ons ook na hierdie aspek van Islam kyk.
Zohran Mamdani is in 2026 ingesweer as die burgemeester van New York. Hy is New York se honderd en twaalfste burgemeester en die eerste wat ’n Moslem is. Hy is derhalwe ook die eerste burgemeester van New York wat, met sy hand op ’n Koran, ingesweer is – nie op die Bybel nie. Daar is ook ’n aantal stede in Engeland waarvan die burgemeesters Moslems is. Die doel van hierdie artikel is nie om hierdie verskynsel as goed of sleg te beoordeel nie, maar om te sien dat politieke uitbreiding nog altyd deel van Islam se strategie van totale uitbreiding was.
Medina is naas Mekka die mees heilige stad vir Moslems. Vandag word geen persoon daar toegelaat wat nie ’n Moslem is nie. Mohammed het in 622nC uit Mekka daarheen gevlug. Wat meeste mense egter nie weet nie, is dat Mekka op daardie stadium ’n stad was wat in die eerste plek deur die Jode bewoon is. Daar was drie groot Joodse groepe, naamlik die Banu Nadir, die Banu Qaynuqa en die Banu Qurayza.
Toe Mohammed na dié stad (die Hijra) verskuif het, het hy die Grondwet van Medina ingestel – ’n verdrag wat aanvanklik die Joodse stamme as deel van die gemeenskap ingesluit het met die regte om hul godsdiens te beoefen. Ná politieke en militêre konflikte met Mohammed is die Joodse stamme egter uiteindelik verban of uitgewis, en die stad is hernoem na Madinat al-Nabi (“Stad van die Profeet”), uiteindelik verkort tot Medina.
Hoewel Mohammed ’n godsdienstige leier was, was sy oorname van Medina die duidelike aanvang van sy rol as politikus. Sy vroeë optrede toon verskeie strategiese politieke oogmerke, byvoorbeeld die vestiging van ’n verenigde gesag. Voor Islam is Medina geteister deur ’n burgeroorlog. Deur sy rol as politikus het Mohammed politieke mag in homself gesentraliseer en deelname deur stamme in die besluitnemingsproses met ’n enkele wetlike gesag vervang.
Een van die mees radikale politieke verskuiwings was die oorgang van ’n samelewing gebaseer op afkoms (volk of nasie) na een gebaseer op ideologie. Die Grondwet van Medina is reeds as voorbeeld genoem. Hierdie dokument het alle deelnemers wetlik gedefinieer as een Ummah (gemeenskap) vir die doeleindes van verdediging en burgerlike orde.
Die historikus Bill Federer,[1] in ’n artikel “Historian Bill Federer argues Islam functions as a political-military system incompatible with the Constitution”, het na aanleiding van Mohammed (en Islam) se oorname van Medina ’n raamwerk gekonstrueer wat hy die “immigreer, vermeerder, elimineer”-raamwerk noem. Hy stippel daarmee ’n herhalende patroon oor 1 400 jaar van Islamitiese uitbreiding uit. Hierdie raamwerk is Federer se eie analitiese konstruk. Hoofstroomhistorici van Islamitiese uitbreiding beskryf ’n meer komplekse prentjie wat handel, bekering, ondertrouery en militêre verowering in wisselende verhoudings oor verskillende streke en eeue behels.
Die feit van die saak is dat Islam nie net in ’n godsdienstige sin die wêreld wil oorheers nie, maar ook in ’n politieke sin. Dit staan in sterk kontras met die Here Jesus wat in Johannes 18:36 gesê het dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Die feit dat Hy dit juis aan Pontius Pilatus gesê het, die verteenwoordiger van die politieke bestel van die dag, beklemtoon nie net dat die Christelike geloof nie ’n soeker is na politieke mag nie, maar dat die Christendom en Islam onversoenbaar is op hierdie punt. Islam het ’n pertinente politieke agenda.
In Matteus 4 en Lukas 4 het ons die verhaal van die versoeking van Jesus deur Satan. Deel van die versoeking is dat al die koninkryke van die wêreld (politieke mag) vir die Here Jesus aangebied word, wat Hy van die hand wys.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za
[1] https://kimmonson.com/news/historian-bill-federer-argues-islam-functions-as-a-political-military-system-incompatible-with-the-constitution/
’n Reeks Islam-artikels. Hier is ’n artikel oor Islam se politieke aspirasies.

