Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

RICD: “Ons gooi toue uit om te help.”

Deur Mariëtte Odendaal

Eerstens is dit van belang om te weet dat ons nie die projekte inisieer nie; dit kom uit die gemeenskappe self. Ons rol is om bestaande projekte by bogenoemde kerke te ondersteun, die projekleiers te mentor en ook om die prosesse van die projekte te fasiliteer.

Elbie Conradie
Ontwikkelingsbeampte: RICD

Nie een van ons sal ooit daardie mens vergeet wat ’n tou na jou toe uitgegooi het toe jy gevoel het die lewensgolwe verswelg jou nie.

Net so ken ons die plekke in ons gemeenskappe waar daar nood is en waarheen ons ’n tou kan uitgooi om te help.

Vennote in Getuienis, een van die NG Kerk Vrystaat se vyf bedieninge, se Reformed Initiative for Community Development (RICD) het juis dit ten doel – om lewensvatbare samewerkingsprojekte van NG Kerk-, VGK- en NGK in Afrika-gemeentes te ondersteun. 

Aan die stuur van RICD staan Elbie Conradie wat sedert 2022 daarby betrokke is en met wie ons oor hierdie opwindende inisiatief gaan gesels het.

Elbie, waar het jy grootgeword, skoolgegaan, jou opleiding ontvang en gewerk voordat jy by die NG Kerk Vrystaat betrokke geraak het?

“Ek het in Smithfield in die Suid-Vrystaat grootgeword as een van drie kinders waar ek tot Standerd 8 skoolgegaan het. My laaste twee skooljare het ek aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein voltooi.

“Ek het eers laat in my dertigerjare as maatskaplike werker deur UNISA begin studeer. My eerste werk was by die Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) in Bloemfontein met Batho as die werksarea wat aan my toegewys is. Daarna het ek in Zastron gewerk en daarna is ek na die Jimmie Roos Skool vir gedrags-moeilike kinders. 

“Tans werk ek steeds op kontrak by Jimmie Roos en lei studente in maatskaplike hulpwerk, asook jeugwerkers op.” 

Vertel ons meer van die RICD-projekte en wat jou betrokkenheid daarby behels.

“Eerstens is dit van belang om te weet dat ons nie die projekte inisieer nie; dit kom uit die gemeenskappe self. Ons rol is om bestaande projekte by bogenoemde kerke te ondersteun, die projekleiers te mentor en ook om die prosesse van die projekte te fasiliteer.

“Ons ondersteun ’n hele paar projekte en ek noem vervolgens ’n paar daarvan:

“Die eerste en grootste projek is ’n kinderhuis in Botshabelo genaamd Setshabelo.  Die befondsing kom via Missie Japan danksy ons susterskerk in Japan, die Reformed Church in Japan wat dié projek ondersteun.  Wat hierdie projek betref, ondersteun die RICD die onderhoudswerk aan die Setshabelo-geboue.

“Ons ondersteun ook die gemeenskapsrugbyspan in Clarens waar ds Jan Venter voorvat. Ons het hulle byvoorbeeld ondersteun deur die span met rugbystewels te voorsien.

“In Bethlehem-Oos is daar ’n ondersteuningsgroep vir mans wat uit die gevangenis vrygelaat is en ’n stryd met middel-afhanklikheid het. Ds Gideon Lamprecht neem die leiding daar en hulle kom weekliks bymekaar.

“In Bultfontein ondersteun ons ’n groentetuin-projek van die NG Kerk in Afrika. Ds Phillip Garbers is die predikant wat daar die voortou neem. Ons het watertenks en ’n boorgat vir hierdie projek befonds en dit vorder fluks. Ons beoog om dit in meer gemeenskappe te doen.

“Ons ondersteun ook ’n kinderhuis daar in die gemeenskap en fokus ten opsigte van hierdie projek op veral fasilitering en mentorskap.

“In Zastron het ons ’n step down-kamer in die ouetehuis befonds waar mense wat ná ’n operasie moet herstel, in die ouetehuis kan aanbly en naby hulle mense kan wees. Ds Werner Burger neem die voortou daar.

“Hier gaan ons ook die projekleiers van ’n groentetuin mentor en ’n waterkar verskaf wat gebruik kan word as daar brande in die omgewing uitbreek. Dit sal ook kan dien as hulpmiddel as daar ’n waterkrisis in die gemeenskap ontstaan.”

Hierdie ondersteuning moet beslis baie vir die onderskeie gemeenskappe beteken, né?

“Ja, beslis. Die projekte maak veral ’n beduidende verskil aan kleiner groepe in gemeenskappe. Ek vertrou dat insette in die kleiner groepe mettertyd sal uitkring na die groter gemeenskap. 

“Ons vertel graag in die volgende Vrypos-uitgawes meer in besonderhede wat elke bogenoemde projek behels en hoe gemeentes of lidmate daarby betrokke kan raak.”

Vir meer inligting kan Elbie Conradie by elbieconradie@gmail.com of dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za gekontak word.

  |  Verskaf: Elbie Conradie, ontwikkelingsbeampte: RICD