Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
’n Nuwe studie deur die gesaghebbende Pew Research Centre[1], getiteld “Pew’s Global Religious Landscape study”, wat op Maandag 9 Junie 2025 vrygestel is, toon dat Moslems die geloofsgroep is wat die vinnigste groei, gevolg deur mense sonder godsdienstige affiliasie. Hoewel Christene steeds die wêreld se grootste godsdiensgroep vorm, het hulle persentasiegewys afgeneem tussen 2010 en 2020.
Die wêreld se Moslembevolking het met 347 miljoen mense toegeneem oor tien jaar – meer as al die ander godsdienste saam – hoofsaaklik as gevolg van natuurlike demografiese groei (bevolkingsaanwas).
Die Christene se getalle het in 2020 op 2,3 miljard gestaan, wat groei van 121,6 miljoen mense sedert 2010 beteken. Die Moslems se getalle het in 2020 op 2 miljard gestaan, wat ’n groei, in dieselfde tydperk, van 346,8 miljoen mense verteenwoordig. Mense wat hulle as lede van geen godsdienstige groep ag nie, is die derde grootste groep. Hulle getalle staan op 1,9 miljard en verteenwoordig ’n toename van 270,1 miljoen mense. Hulle het ook die Hindoes, wat voorheen die derde grootste godsdiensgroep was, in die vierde plek ingedruk.
Die grootste faktor wat hierdie statistiek betref, is dat Moslems teen ’n vinniger tempo kinders kry as wat Moslems sterf. Die verandering in getalle, wat Moslems betref, is bitter min die gevolg van mense wat hul as volwassenes tot Islam bekeer of dit verlaat.
Moslems is hoofsaaklik gekonsentreer in streke met hoë bevolkingsgroei, soos die Midde-Ooste en Noord-Afrika, waar hulle 94.2% van die bevolking uitmaak, en in Sub-Sahara-Afrika, waar hulle 33% van die bevolking verteenwoordig. Die Moslem-aandeel het die meeste toegeneem in die Asië-Stille Oseaan-streek, wat die grootste Moslembevolking huisves, met ’n styging van 16.2% tussen 2010 en 2020.
Hoewel die Christendom steeds die wêreld se grootste geloof is, en die aantal Christene oor tien jaar toegeneem het, het dit persentasiegewys met 1.8% afgeneem weens vinniger groei onder nie-Christene. Dit het geleidelik afgeneem in Europa, Noord-Amerika, die Amerikas, Australië en Nieu-Seeland. In die VSA het die Christelike bevolking van 78.3% tot 64% gedaal gedurende die genoemde studie. In Frankryk, Uruguay, die VK en Australië het die Christelike bevolking tot onder 50% gedaal in dieselfde tydperk. Afrika is nou die tuiste van die grootste Christelike bevolking. Een-derde van die wêreld se Christene woon in Sub-Sahara-Afrika.
Mense sonder godsdienstige affiliasie is nou die derde grootste groep ná Christene en Moslems, met 24% van die wêreld se bevolking wat hulself as sodanig identifiseer. Ten spyte van ’n ouer bevolking en ’n laer natuurlike aanwas, het hierdie groep gegroei omdat mense uit ander groepe deel geword het daarvan weens godsdienstige oorskakeling.
Mense wat alle vorme van godsdiens verlaat, het veral ’n groot impak op die wêreld se Christelike bevolking gehad. Christene sien in hierdie tyd baie mense wat in dié geloof grootgeword het, maar as volwassenes oorskakel na ’n lewe van geen geloof nie.
Boeddhiste is nog ’n groep wat deur hierdie verskynsel (dat mense hulle totaal van enige geloof of denominasie ontkoppel) geraak is. Meer mense het dié geloof verlaat as wat daarby aangesluit het tussen 2010 en 2020. Dit is die enigste godsdiensgroep wat minder lede in 2020 gehad het as in 2010, met ’n afname van 19 miljoen mense.
Hoe moet ons hierdie statistiek interpreteer? Watter boodskap hou dit vir ons in? Hoe kan ons as kerk hierop reageer? Ons kyk juis volgende keer na wat ons reaksie hierop behoort te wees.
[1] Pew Research Centre, 9 Junie 2025, Pew’s Global Religious Landscape study
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Hierdie artikel handel oor ’n verslag van die Pew Research Centre wat bevind het dat Islam die vinnigste groeiende godsdiens in die wêreld is.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

