Sentrum vir Predikantebegeleiding | 6-8 Maart 2023
“Intens maar Fantasties!” was my woorde aan my mentor wat op Dag 2 ingeloer
het om te hoor hoe ek die sentrum ervaar. Intens maar Fantasties, was my eerlike
ervaring.
Ons vier deelnemers het heel onvoorbereid, met min of geen verwagting Maandag
6 Maart 10:00 by Menuha opgedaag. Sommer by die eerste hek, het ek die eerste
mede deelnemer ontmoet, wat heel gaaf, die hekke vir my met ʼn gebreekte been,
toegemaak het. Toegerus met ʼn kaart en uitgetikte aanwysings, al was ons almal al
voorheen by Menuha, het hierdie deurmekaar, rigtingbeduiwelde deelnemer, die
pad aangedurf.
Met my klein karretjie voor en my mede-deelnemer met ʼn nog kleiner karretjie net
agter my, het ons die grondpaadjie aangedurf, so tussen beeste en die natuurskoon
deur, al hoër en hoër op, na die sentrum toe.
By die sentrum het ons ou bekendes mekaar gegroet, en is ons voorgestel aan die
ander deelnemers. Sommer so met die intrapslag het die groep hulle onsekerhede
met mekaar gedeel.
Barnard Steyn, met sy rustige geaardheid, het ons verwelkom. Ons het, soos met
meeste kursusse, meer van onsself aan die groep meegedeel. Dit was heel rustig en
ons het mekaar beter leer ken in die gemoedelike atmosfeer.
Terwyl ons nog so rustig sit en gesels daag daar nog en nog mense op. Sommiges
bekend en ander heel vreemd vir ons viertjies. Ons hoor elkeen van ons kry twee
begeleiers vir die drie dae. TWEE vir een mens… Dan is daar nog ʼn paar
waarnemers ook! Waarin het ons ons begewe?!
Ewe rustig word ons gevra om eers die saal te verlaat, want die begeleiers gaan
nou elkeen vir hulle ʼn deelnemer kies. Ons stap toe uit en sit maar en kuier in die
eetsaal. Ons word weer ingeroep en die begeleiers stel hulself voor aan jou en sê
ook waar ons bymekaar gaan kom vir die res van die program. Maar nou gaan ons
eers saam eet. Die kos was heerlik en ons kuier lekker saam.
Baie streng volgens die program gaan elke deelnemer, begeleier en waarnemers na
hulle aangewysde plekkie. In ons kleingroepies gee ons die 120 sekonde weergawe
van jouself aan mekaar. Die volgende moment spring ons in die program met die
“Oop Kaarte” speletjie. Hoe meer kaarte jy optel hoe moeiliker raak dit om die vyf
kaarte wat jy voel tot jou spreek, te hou. Ons leer ken stukkies van mekaar se harte.
Die spel sluit af waar ons vir mekaar bid, ‘n gebed oor die vyf kaarte wat jy gekies
het.
Die program is van so aard dat elke deelnemer eers tyd kry vir voorbereiding gevolg
met gesprekvoering, of rollespel (daaroor sal ons nog moet praat!), en dit sluit dan
af met evaluering. Met die “In-mandjie” waarmee ons wegspring, kry jy die prentjie
van hoe die drie dae gaan verloop.
Ons sluit die aand af met ʼn lekker braai waar ons saam rondom die gesellige
vuurtjie kuier. Tradisies wat vorige dierbare predikante ingestel het, word voortgesit
so om die vuurtjie. Met ʼn redelike ligte gemoed, al is jy uitgeput, het ons vier
deelnemers in ons beddens geklim.
Dinsdagoggend begin ons met lekker koffie en beskuit, voor ons die “duisende” (dit
het so gevoel met ʼn afbeen) trappies opklim na die kapel. Hier is ons net weer
bewus gemaak daarvan dat predikante ook gebed nodig het. Ons het die terugtog
weer ondertoe aangepak, terwyl ons almal kort-kort gestop het vir ʼn foto of twee
van die mooi natuurskoon om ons.
Waar ons elkeen by ons aangewysde plekkies kom, word daar ʼn papier in jou hand
gestop (darem nie regtig so kort en kragtig nie), en jy moet voorberei vir ʼn rollespel,
wat fokus op net agt, van vele gedragsbekwaamhede. Rollespel is nie vir enige een
nie. Die begeleiers maak beurte om saam met jou ʼn rollespel deur te gaan. Die
eerste een is heel gemoedelik, die tweede een ruk die mat onder jou voete uit. Jy het
miskien gedink jy weet iets van konflikhantering, maar hier het jy nie eintlik ʼn kat se
kans gehad nie. Jy besef dalk dat jou gedragsbekwaamhede dalk toe nie so
bekwaam is nie.
Dinsdagaand kuier ons weer almal om die vuurtjie en ons persoonlike dominee-sjef
bederf ons behoorlik saam met al die ander braaiers. Ons vier deelnemers gesels so
met mekaar oor ons ervarings terwyl ons so om die vuurtjie kuier. Nie te laat nie
gaan verdwyn ons vier deelnemers na ons kamers toe. Van ons het nog hier en daar
geliefdes probeer bel om te kuier, maar ons het sommer behoorlik omgekap in ons
beddens en ʼn dooie hou geslaap.
Woensdagoggend word ons maar swaar wakker, jy is moeg, ʼn anderste soort
moeg. ʼn Emosionele moeg. Hier word diep in jou innerlike wese gegrou. Ons almal
gaan drink weer saam koffie en eet ʼn beskuitjie voor ons die optog na die kapel
aandurf. Die trappies het definitief na ʼn heerlike buitjie reën in die nag meer geword.
Ons doen die oggendwyding saam rondom Psalm 46 en sluit af met lied 519
“Wees stil en weet”. Ons sê weer vir mekaar ons moet tyd maak vir stil wees. Of stil
wees te midde van jou tuinwerk, ʼn tydjie in jou huis stil word by ʼn bankie of stil
wees tussen jou familie of selfs stil word met harde rock musiek, maar ons het stil
wees en stil word nodig.
Terug in ons kleingroepe word die 360°-vraelyste se uitslae met jou bespreek. Die
agt gedragsbekwaamdhede waarop jy geëvalueer is deur die vraelys, verras en
verbaas jou. Jy sien jouself ook deur die ander respondente in jou gemeente, wat
saam met jou die vraelys ingevul het. Vanuit hierdie gesprek kies jy drie
gedragsbekwaamhede waaraan jy wil werk.
Volgende bespreek jy jou organiese gawes, wat jy saam met Elsabé hanteer het. Jy
leer hoe jou “organikins”, wat al van jou geboorte af saam met jou is, met mekaar
gesels, hoe hulle jou help en wat hulle jou leer. Soos ek gesê het, hier word diep in
jou binneste gegrou. Ons almal het al verskeie kere persoonlikheidstipe toetse
gedoen, op die oog af sou dit vir jou kon lyk of die “360°” en die ‘Organic scorecard’,
maar net weer so iets is, maar dit is glad nie. Hierdie twee grou in jou diepste
binneste, maar ook jou innerlike wese as bedienaar. Jy leer as te ware jouself as
predikant ken.
Ons almal gaan terug na die saal om in die groot groep terugvoer te gee. Dit vind
plaas deur die deelnemers wat een vir een, deur een van hulle begeleiers ondervra
word. Selfondersoekend, introspeksie en intens-fantasties is van die woorde wat in
die terugvoer uitkom. Die introverte is nie gemaklik met die rollespel nie, maar die
ekstroverte sê sommer, al het ons baie daaruit geleer, is dit niks lekker nie. Maar
waaroor ons almal instem is, dat dit insiggewend was, en dat ons ongelooflik baie
geleer het. Ons sal tot kollegas aanbeveel om dit ook by te woon. So as iemand my
vra hoe was hierdie drie dae, sal ek weer sê:
“Intens maar fantasties!”
Foto verskaf