Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

VROUEDAG, VROUEMAAND, VROUELERAARS

Augustus is Vrouemaand en 9 Augustus is Vrouedag. Skryf iets oor ons vroueleraars, vra Vrypos se redakteur. Dus:

Kinder, Küche und Kirche (kinders, kombuis en kerk), lui ’n ou Duitse beskrywing wat ’n vrou se plek in die huis en gemeenskap netjies afgebaken het. Maar “kerk” het in hierdie geval natuurlik niks te doen gehad met ’n vrou in enige amp nie. Vroue het die onsigbare, ondersteunende agterhoede gevorm en was in baie gevalle die onsigbare ruggraat van die gemeente gewees. Dit was dalk so iets van “vroue moet gesien en nie gehoor word nie”. Hulle was stemloos.

Natuurlik vervul vroue nog steeds daardie onontbeerlike, dikwels onsigbare, nie-gehoorde liefdesdienste in gemeentes, maar intussen het die ampte oopgegaan en vroue staan hulle plek vol in kerkrade en op die kansel, ook in sinodesittings. Hulle het ’n stem gekry.

Baanbrekerswerk is gedoen deur die voorlopers soos Carin van Schalkwyk, Yolanda Dreyer, Marina Strydom en ander; hulle het die pad oopgemaak vir ’n leërskare vroue wat deesdae met groot vrug as leraars in gemeentes arbei. Daar word nie meer skeef opgekyk wanneer ’n vrou op die kansel verskyn nie, inteendeel, daar is groeiende waardering vir die spesifieke en unieke bydraes wat vroue na die bediening bring.

Wat sien jy as waardevolle en unieke bydraes wat spesifiek vroue na die bediening bring? vra ek vir ’n  paar mense in gemeentes wat deur vroue bedien word.

’n Manlike lidmaat: “Daar is twee vrouepredikante in ons gemeente. Die ouer vrou het baie empatie en warmte, maar ook ’n stille krag. Die jonger een werk met die kinders en is baie geliefd. Die gemeente het groot waardering vir hulle.”

 ’n Vroulike lidmaat se eerste kennismaking met ’n vrou op die kansel: “Dit was vir my vreemd, maar ek was aangenaam verras deur die sagtheid wat ek ervaar het. En tog was ek dadelik bewus daarvan dat sy ’n formidabele vrou is.”

Nog ’n vroulike lidmaat: “Die kombinasie van sterkte en terselfdertyd groot deernis by haar speel ’n belangrike rol in ons gemeente. Ek dink ook, oor die algemeen, die rol van ’n vrou in haar gesin gee haar baie meer insig in probleme, waar ’n man vanweë sy werksituasie nie so baie blootstelling aan die alledaagse het nie.”

Vroulike lidmaat oor haar dominee: “Ek voel by haar kwaliteite aan wat net ’n wyse ma kan hê: Sy is bereid om die werklikheid in die oë te kyk, om die mense in haar sorg se ware aard raak te sien, om diep erkenning te gee aan ander se pyn en vreugde. Ook om weerloos teenoor hulle te wees en hulle diep in haar eie realiteit te laat inkyk. Om met sagte oë te kyk, maar ook soms baie ferm en beslis die waarheid voor te hou, terwyl sy die mens vashou en veilig maak. Ek dink daar is fasette van liefde wat ’n vrou aan ’n gemeente kan gee waarmee mans soms nog sukkel.”

’n Manlike dominee: “My ervaring met vrouepredikante is dat hulle ’n oog en hart het vir randfigure en afgeskeepte of skynbaar minderwaardige standpunte. Die feit dat hulle in die minderheid is in ’n manlik-dominante beroep en wêreld, lê hulle in die wieg daarvoor. Hulle het al dikwels aan eie lyf gevoel hoe dit is om nie die hoofmelodie te sing nie. Miskien is dit ook die rede waarom … [’n bekende vrouepredikant] so ’n kampvegter is vir die klein stem van die kontemplatiewe spiritualiteit. Van daardie spiritualiteit gepraat: Ek dink vroue sal toenemend, soos regdeur die geskiedenis, ’n belangrike rol daarin speel, omdat dit meer van ’n vroulike energie het. Wat my ook laat voorspel dat vroue in die toekoms ’n veel groter rol in die teologie oor die algemeen gaan speel, omdat daar ’n ontwaking van die vroulike oor ’n breë front ook daar plaasvind.”

Nog ’n manlike dominee: “Vir my het die kwessie van ’n vrou op die kansel ’n ‘non-issue’ geword. Die Bybelse voorskrif van byvoorbeeld “’n vrou moet haar stil gedra” is ’n weerspieëling van ’n sosio-kulturele milieu waar vroue ’n totaal ondergeskikte rol gespeel het: Nie geleer het nie, nie gestem het nie, nie professionele werk gedoen het nie, ensovoorts. Die geloof (die dominante narratief) was dat vroue nie bevoeg of in staat sou wees nie … en in elk geval moet sy kinders grootmaak, kosmaak en huishou sodat die mans wat meerdere vermoëns sou hê, hul “belangrike en swaarwigtige” werk kan doen. Hierdie geloof is ge-eggo deur die godsdiens-instellings. Intussen het die gemeenskap agtergekom dis valse persepsies wat nie water hou nie, en aanbeweeg. Net soos ons gemeenskap nie meer met perdekarre ry en op papirusrolle skryf nie maar aanbeweeg het, word die vrou nie meer onderskat nie. My ervaring in drie gemeentes met vrouepredikante waar ons betrokke was en is, is dat daar geen vrae of kwessies daaroor bestaan nie. Inteendeel, hierdie vroue se hardwerkendheid, goeie teologiese insig en lewensgetroue kontekstuele Skrif-interpretasie en toepassing maak hulle geliefd en gewaardeer.”

En my eie belewenis van vroueleraars? Ná die onlangse vroueleraarsretraite in Bloemfontein voel ek die kerk is in goeie hande met hierdie vroue wat meewerk aan die toekoms daarvan.

Hierdie vroue is volronde mense wat tuis is in hulle eie vel en met hulle eie persoonlikhede, van die intense introvert met haar sterk kontemplatiewe fokus tot die uitbundige ekstroverte wat ons almal aan die lag gehad het … en alles tussenin. Ernstig en toegewyd, kreatief en innoverend, nugter en aards, positief en entoesiasties, cowboy wat van die heup af skiet … elkeen uniek, elkeen met ’n eie stempel om na die bediening te bring.

Maar wat my die heel sterkste opgeval het, was die onwrikbare roepingsbewustheid by elkeen van hierdie vroue. Wat ook al hulle fokus, hul roeping bly die poolster en gids in hulle bediening.

Ek salueer julle. 

116 | Maatskaplike NOODLYN