Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Hoe om teenoor Moslems, wat aan jou bekend is, te getuig

Ons het al by geleentheid gekyk na hoe om teenoor Moslems te getuig in ’n situasie waar tyd ’n beperkende faktor is. Ons bevind ons egter al hoe meer in ’n situasie waar Moslems ons bure, kollegas en selfs vriende is. Dit is daarom ’n belangrike vraag: Hoe getuig ons oor die liefde van Christus binne hierdie verhoudings met Moslems?

Sommige Moslems is ernstiger oor hul geloof as ander. Daar is diegene wie se harte meer oop is en wat opreg belangstel om gesprekke oor Christenskap te voer. Bid dat die Here vir jou sal wys wie se harte daarvoor oop is. As jy egter bure het wat Moslems is, hoe hul hart ook al is, is dit belangrik om hulle met die Evangelie te bereik, aangesien die Here hulle oor jou pad gebring het. Vra die Here om hulle harte oop te maak vir Sy Gees.

Moslems word gewoonlik nie vir die Here gewen deur slim argumente teen Islam nie. Dit is beter om Moslems in vriendelikheid te benader. Stel opreg belang in iemand as ‘n persoon eerder as net ‘n potensiële bekeerling. Onthou’, Moslems is gewone mense soos ons. Hulle ervaar dieselfde vreugdes, hartseer en angs as wat ons ervaar. Leer ken hulle as mense en stel belang in hul lewens en kultuur en deel terselfdertyd inligting oor jou lewe, oor wat dit beteken om ‘n Christen te wees, en oor jou verhouding met Christus.

Wanneer jy vriendskappe bou, kan dit baie maklik wees om net ‘n sosiale verhouding met Moslems te hê. Baie Christene doen dit om nie hul Moslem-vriende aanstoot te gee nie. Jy moet aan die begin van die bediening aan Moslems besluit dat jy ernstig is om die Evangelie te deel. Sodra ‘n vriendskap ontwikkel het, word dit al hoe moeiliker om Christus te deel as jy dit nie reg van die begin af gedoen het nie.

Jy mag dalk sê: “My lewe spreek van my geloof”, maar dit is nie genoeg nie. Jy moet ook oor Christus praat. Om jou geloof te deel, moet natuurlik kom. Dit is belangrik om te wys dat ons geloof vir ons baie belangrik is.

Volgende keer kyk ons na hoe ons met Moslems in gesprek kan tree deur stories uit die Bybel met hulle te deel. Hoewel daar ’n baie belangrike plek vir ingewikkelde onderwerpe in die gesprek met Moslems is, behoort die gesprekke tussen vriende en bure op ’n meer informele manier, met die Bybel in die hand, gevoer te word.