Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ds Poppie van Grootfontein

Het jy al gehoor van ’n huiswerker wat uit die kombuis antwoorde gee op Bybelklasvrae wat sy langsaan in die sitkamer hoor? En dat dié huiswerker vandag ’n gelegitimeerde standplaasleraar is? Dit is die merkwaardige storie van ds Poppie Haramses van die NG Wildevy-gemeente op Grootfontein, Namibië.

Die NG Wildevy-gemeente beslaan ’n area van 18 000 vierkante kilometer. Dit word tans bedien deur ds Poppie Haramses, ’n Hai//om (uitgespreek as Haikoem), een van die vier Boesman/San-groeperings, asook twee ander predikante, ds Josef Gevers op Tsintsabis en ds Regina Nauses op Henta. Ds Regina was die heel eerste swart vrou wat in 2012 as leraar bevestig is.

Ds Poppie bedien ook verskillende plaaswyke en klein nedersettings buite Grootfontein saam met die kerkraad. Ons het meer by ds Poppie self gaan uitvind oor haar besondere bediening.

Ds Poppie, waar het jy grootgeword en hoe het dit gekom dat jy die Here leer ken het?

“Ek is op Grootfontein, Namibië gebore en het in Tsumeb grootgeword. Daarna het ek op Grootfontein skoolgegaan, maar om verskeie redes is ek weer terug na Tsumeb waar ek skool ná standerd vyf moes verlaat. Ek is toe terug na Grootfontein waar ek op ’n mielieplaas naby Grootfontein gaan werk het, waar ons mieliekoppe met die hand gepluk het.

“Daarna het ek as huiswerker in Grootfontein by verskeie mense gaan werk en toe my seuntjie vir drie jaar versorg voordat ek in 2008 by mevrou Amanda Engelbrecht, vrou van ds Koos Engelbrecht, gaan werk het. Ek het later ook sommer as skoonmaker en kok by die DEGNOS Sentrum gewerk.”

DEGNOS, voorheen bekend as Boesmansending, staan vir Diens en Getuienis Noordooste Streek. Ds Koos was die leraar van die NG Wildevy-gemeente en het in ’n huis op die perseel van die DEGNOS Sentrum in Grootfontein gebly.

Ds Poppie vertel verder: “Die Engelbrechts het ’n evangelisasiegroep gehad wat mense tuis besoek en hulle dan met die Woord van die Here bedien het. Ek het ook begin saamgaan en op hierdie manier vir Christus leer ken en Hom as my Here aangeneem.

“By DEGNOS was daar verskeie studentegroepe soos die Boesmans/San, Damaras en Ovambo’s wat Bybelklasse geneem het. Terwyl ek dan in die kombuis besig was met werk, kon ek duidelik volg wat in die Bybelklasse aangebied word. Só het dit dan dikwels gebeur dat vrae waarop niemand die antwoorde geweet het nie, ek uit die kombuis die antwoorde sou gee.”

Ds Andries Gous, bestuurder van DEGNOS vertel: “Terloops, hierdie opleiding was die begin van die opleiding van standplaasleraars soos ons dit nou in die NG Kerk kry. Dit is in 2002 begin met die doel om leraars vir die VGK en die Boesman/San NG Kerk op te lei. Dit was die opleiding van hierdie gelowiges wat later uitgeloop het op die bevestiging van Boesman/San-leraars. Dit was ook die begin van die vier bane van opleiding van leraars in die NG Kerk wat heelwat later deur die breë NG Kerk aanvaar is; ’n storie op sy eie oor hoe die Here by die minste begin werk het om die grote NG Kerk anders te laat dink oor bedieningsopleiding.”

Ds Poppie, hoe het dit toe gebeur dat jy standplaasleraar geword het?

“Op daardie stadium het ek nog nie die Bybel goed geken nie, maar het toe ingeskryf by DEGNOS om as standplaasleraar opgelei te word. Dit het bestaan uit die modules: Vaste fondamente, Veritas se modules 1 en 2 (wat as assessering gebruik is om praktiese implementering van kennis te toets), asook drie kursusse van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, naamlik gemeentebou, prediking en pastoraat. Verskillende kursusse oor die belydenisskrifte van die NG Kerk is ook gedoen. Ek het die opleiding in vyf jaar voltooi. Dit was baie interessant, maar die skryf van toetse op Vrydae was moeilik!

En hoe het dit toe gebeur dat jy as standplaasleraar van NG Wildevy georden is?

“Daar was baie mense wat my tydens my studiejare ondersteun het, veral my ma. Sy is ongelukkig vier maande voordat ek as predikant gelegitimeer is, oorlede.

“Ek is deur die kuratorium van die NG Kerk Sinode Namibië tydens die algemene jaarvergadering van DEGNOS se afsluiting by die NG Kerk op Grootfontein op I Julie 2023 gelegitimeer.

“Aangesien NG Wildevy op Grootfontein ná ds Koos Engelbrecht se aftrede toe vakant was, was dit nodig dat iemand die leiding tydens eredienste moes neem. Ons ouderling, mnr Claasen, het toe vir my gevra om die Woord te bring. Ek kon die Woord lees, maar hoe kon ek dit verduidelik? Ek weet nie hoe dit gebeur het dat die Here my so gehelp het dat ek vandag die Woord kan uitdra nie.

“Die seer oor my ma se dood het mettertyd verdof, want die mense vir wie ek bedien, is bly dat ek nou hul predikant is; daar is nou iemand wat vir hulle die Woord van God kan bring, want daar was nooit iemand wat dit gedoen het nie.”

Vertel vir ons meer van die evangelisasiewerk wat uit jou bediening gevloei het?

“Daarna het ek besluit om ná werk ook daar by die vullisgate huisbesoek te gaan doen. Dis ’n plek waar die amstes van die armes, hoofsaaklik Boesmans/San tussen die afval op die vullishope gaan grawe vir ‘n stukkie kos om te eet, of gaan soek na skrootmateriaal of hout wat hulle as inkomste kan verkoop. Aanvanklik was hulle versigtig vir my en moes hulle my leer vertrou. Ek het dan saam met hulle op die grond gaan sit en met hulle gesels en ietsie te ete van hulle gevra. Dit was my manier om met hulle kontak te kon maak sodat hulle nie vir my bang sou wees nie.

“Toe begin die mense sê dat daar al baie predikante in die dorp was, maar nog nooit het mense by hulle kom sit en kuier met die Bybel nie.

“Sommige mense van Grootfontein het gewonder waarom ek elke dag vullisgate toe gaan en of ek nie bang is nie, maar ek het so ’n sterk behoefte daaraan gehad om hierdie mense te gaan besoek en geestelik te gaan bedien.

“Daarna het ek hulle uitgenooi om ook na my huis toe te kom, wat hulle toe gedoen het. Dis vir my belangrik om na daardie mense toe te gaan wat nog nie die Woord gehoor het nie. Dit dryf my.”

“Ek sal byvoorbeeld die Bybel in Afrikaans lees, maar dit dan in Damara verduidelik, want dan verstaan hulle die Woord beter. Ek het toe begin om vir die mense van die barmhartige Samaritaan te vertel; hoe jy mekaar moet help en jou naaste moet liefhê. Hulle was so bly, want dit was die eerste keer dat iemand die moeite gedoen het om met hulle vriende te maak en hulle van Jesus Christus te vertel.

“Ek doen ook traumaberading. Dit is belangrik om dit saam met die Woord te doen, want die mense sit met baie seer en dit moet deurgepraat word met begeleidende hulp, anders word dit nooit verwerk nie en sal die mense nooit tot bekering kom nie. Op hierdie manier bring jy die mense nader aan die Here, maar dis nie maklik nie.”

Ds Poppie, hoe word julle eredienste by NG Wildevy ingerig en aangebied? Is dit soos ons tradisionele kerkdienste, of is dit anders?

“Die manier van kerk-wees is heeltemal anders as in die tradisionele NG Kerk. Die leraar is die een wat die skrif verduidelik en die toepassing daarvan word deur die ouderlinge (wat meestal ongeletterd is) verduidelik. Dit is baie kosbaar om te sien hoe die gemeente as ’n geheel die bediening hanteer.

“Die kerk wat by ons huis gehou word, word gewoonlik om nege-uur Sondagoggende oopgemaak. Dan sing almal lekker saam. Daar is nie aparte sitplekke vir mans en vroue soos jy dikwels nog hier rond sien nie; ons sit almal saam; ons is almal kinders van die Here. Ook die kerkraad sit tussen die mense, nie soos by baie ander Afrika-kerke waar die kerkraad spesifieke sitplekke het nie.

“As ons almal klaar gesing en gebid het, sal ek vir hulle uit die Woord lees. Daarna sal Addie, my man, die preek waarneem.

“Ek en my man bedien die gemeente saam. Alhoewel Addie nie kan lees nie, het hy diep geestelike insig. Ons twee bedien dus die gemeente as leraarspaar.”

Vertel ons meer van jou drome vir die NG Wildevy-gemeente.

“Dit is om verder uit te reik; om die evangelie verder te gaan verkondig. Ons moet nie net ons eie denominasies bedien nie, maar ons moet almal bymekaar bring. Mense moet ervaar dat hulle nie uitgesluit word nie, maar dat almal welkom is. Ons moet die Woord vir almal gee.

“Ons moenie mense dreig met bekering nie, maar net die Woord bring. Die Gees van God sal Self in die mense werk en hul harte aanraak. Daar is nog baie mense wat die Woord moet hoor. Ons moet ook daaraan dink om so gou moontlik ’n ouderling by Berg Aukas te kry.

“Die Wildevy-gemeente het sowat 65 buite-bedieningspunte met drie leraars wat geen vervoer van hul eie het nie. Hulle is absoluut afhanklik van vervoer wat deur DEGNOS verskaf word, maar DEGNOS moet met dieselfde bakkie ook die ander drie Boesman/San-gemeentes bedien waar daar ’n verdere 80 buite-bedieningspunte is.

“Die NG Wildevy-gemeente se predikante kan miskien een keer elke twee of drie jaar by ’n buite-bedieningspunt uitkom en daarom is opgeleide ouderlinge van kardinale belang vir die versorging van die gemeentes, anders begin jy met elke besoek amper weer van voor af.

“Hierdie buite-bedieningspunte was van 2015 tot en met 2021 glad nie bedien nie, want daar was net eenvoudig nie fondse, predikante en voertuie om dit mee te doen nie.”

Mag die Here hierdie besondere bediening van ds Poppie en haar kollegas in oorvloed seën. Ons hoor graag weer getuienisstories uit daardie geweste.

Soek jy dalk meer inligting? Kontak dan vir ds Andries Gous by by 00264 81 361 2480 of gousandries74@gmail.com

Ds Poppie Haramses van Grootfontein.
Ds Poppie Haramses en haar man br Addie Haramseb
Dr Wynand Fourie van die Namibiese Kuratorium saam met ds Poppie en br Addie.

 | verskaf: Ds Andries Gous, DEGNOS.