Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Gretig vir nagraadse studie oor die Bybel?

Deur dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, UV

Nuuskierigheid en leergierigheid loop hand aan hand. Dit was juis my eie nuuskierigheid oor die tekste van die Nuwe Testament wat my paadjie gerig het na die akademie, en wat my betrokkenheid in die bediening verryk het. Nagraadse studie is ’n sinvolle opsie vir diegene wat reeds ’n voorgraadse kwalifikasie behaal het en behoefte het aan verdere spesialisering. ’n Nagraadse kwalifikasie in ’n teologiese dissipline is allermins slegs ’n verdieping op akademiese vlak – dit vorm jou as mens, en is dikwels ’n reis tot verdere integrasie tussen kopkennis en hartskennis, en teorie en praktyk. Verdieping in die Bybelwetenskappe en verwante velde hou groot waarde in vir die kerk en vir geloofsgemeenskappe, gegewe die sentrale rol van die Bybel in ons aard en roeping.

Die Fakulteit Teologie en Religie bied verskeie nagraadse kwalifikasies aan waaroor meer inligting aanlyn beskikbaar is. Vervolgens gaan daar egter gefokus word op nagraadse  kwalifikasies in die Departement Ou- en Nuwe-testamentiese Studies. Hier volg ’n bondige opsomming van elk, met verdere besonderhede en voorvereistes beskikbaar in die Fakulteit Teologie en Religie se 2025 Rule Book (insluitende inligting oor bevoegdheid in die grondtale, Hebreeus en Grieks):

BTh Honneurs (een jaar voltyds, twee jaar deeltyds)

Ideaal vir diegene wat ’n voorgraadse kwalifikasie in Teologie voltooi het, en verder in ’n spesifieke vakgebied wil spesialiseer met die oog op navorsing. Die program bestaan uit verskeie modules in die spesifieke dissipline wat grotendeels in selfstandige modus voltooi word. Dit sluit ’n verpligte module oor Navorsingsmetodologie, sowel as ’n navorsingsverslag van 10 000 woorde in. Spesialisering is moontlik in Ou Testament, Nuwe Testament, of Nuwe Testament Grieks en Vroeë Christelike Literatuur.

MTh (Dissipline-georiënteerd) (een jaar voltyds, twee jaar deeltyds)

Hierdie gestruktureerde M-kwalifikasie bestaan uit selfstandige kursuswerk en ’n mini-verhandeling van 20 000 tot 30 000 woorde. Studente voltooi twee verpligte jaarmodules in die gekose dissipline (waarvan een die mini-verhandeling behels), en twee elektiewe semestermodules uit ’n beperkte lys verwante ander teologiese dissiplines. Studiebegeleiding vorm ’n belangrike deel van die voltooiing van die mini-verhandeling. Spesialisering is moontlik in Ou Testament, Nuwe Testament, of Nuwe Testament Grieks en Vroeë Christelike Literatuur.

MTh (Navorsing) (een jaar voltyds, twee jaar deeltyds)

Hierdie kwalifikasie word behaal deur die suksesvolle voltooiing van ’n verhandeling van 30 000 tot 50 000 woorde. As eerste stap moet ’n navorsingsvoorstel vir die gekose studie ontwikkel, aangebied en aanvaar word deur die Navorsingskomitee van die Fakulteit. Die student ontwikkel die navorsingsvoorstel en daarna die verhandeling in geheel onder leiding van ’n studieleier. Die verhandeling word skriftelik deur meerdere eksaminatore beoordeel, wat die finale uitslag daarvan bepaal. Die doel van hierdie soort MTh-kwalifikasie is om die vermoë tot selfstandige navorsing te demonstreer binne ’n bepaalde vakgebied en aan die hand van ’n bepaalde tema. Spesialisering is moontlik in Ou Testament, Nuwe Testament, of Nuwe Testament Grieks en Vroeë Christelike Literatuur.

PhD in Teologie (met spesialisering) (minimum twee akademiese jare, oftewel vier semesters)

Diegene wat oor ’n geskikte M-kwalifikasie beskik wat met ’n goeie uitslag behaal is, en graag ’n nuwe bydrae tot ’n vakgebied wil maak, kan gerus ’n PhD in Teologie oorweeg. Die kwalifikasie bestaan uit ’n omvattende navorsingsprojek (tesis) van 70 000 tot 100 000 woorde. Soos in die geval van ’n MTh (Navorsing), ontwikkel die student eers ’n navorsingsvoorstel vir die gekose studie, wat aangebied word by en aanvaar moet word deur die Navorsingskomitee van die Fakulteit. Die tesis word skriftelik deur meerdere eksaminatore beoordeel. Die navorsingsproses vind onder leiding van ’n studieleier plaas. Weereens is spesialisering moontlik in Ou Testament, Nuwe Testament, of Nuwe Testament Grieks en Vroeë Christelike Literatuur.

Maak gerus kontak met die lede van die Departement vir meer inligting, of maak ’n afspraak om studiemoontlikhede te bespreek. Onthou, die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 September!

  • Prof Lodewyk Sutton: Departementshoof en Ou Testament spesialis – SuttonL@ufs.ac.za
  • Dr Annéli Machin: Nuwe Testament Grieks en Vroeë Christelike Literatuur spesialis – MachinA@ufs.ac.za
Nina-Muller-van-Velden-profile

 | Verskaf: Dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, UV.