“Om goeie teologiese opleiding vir die NG Kerk in hierdie sentrale streke van ons land te verseker.”
Dít is volgens ds Jan Lubbe, voorsitter van die Kuratorium, die taak van hierdie kommissie van die NG Kerk Vrystaat. Hy verduidelik: “Dit behels besinning oor die vereistes en inhoud van teologiese opleiding met die oog op die bediening, toesig oor die aanbieding van opleiding en die begeleiding van ons teologie-studente in hul voorbereiding en afronding met die oog op legitimasie in die verskillende bedieningsbane van die NG Kerk.”
Opdragte van die Sinode
In Maart vanjaar het die NG Kerk Vrystaat tydens die Sinodesitting opnuut hierdie breë opdrag aan die Kuratorium gegee waarvan ds Lubbe enkele punte uitsonder: “Eerstens moes ‘n nuwe ooreenkoms rakende ons opleiding met die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat gefinaliseer en onderteken word. Dit is op 23 Augustus onderteken.
“Tweedens moes die kerklike vorming van studente verder verdiep en ontwikkel word sodat veral die konfessionele identiteit, kenmerkende spiritualiteit en geskiedenis van die NG Kerk vir hulle ontsluit kan word en hulle met die nodige bedieningsvaardighede toegerus kan word om die evangelie verantwoordbaar en met integriteit in gemeentes en ’n samelewing in nood te kan bedien.
“Daar is ook opdrag gegee dat ons moet herbesin oor die formele akademiese opleidingsvereistes vir studente met die oog op volle leraarsbevoegdheid (tans ‘n BDiv-, daarna ’n MDiv-graad en dan ‘n Nagraadse Diploma) – die bekende ses jaar van teologiese opleiding.
“’n Vierde opdrag was om reeds bestaande netwerke en vennootskappe in teologiese opleiding (byvoorbeeld met die VGKSA en NGKA) uit te bou en moontlikhede met kleiner reformatoriese kerkverbande te ontwikkel. Hiermee hang ook saam ‘n ondersoek na die akkreditering van ander instansies vir teologiese opleiding, soos byvoorbeeld aan die Noordwes Universiteit (NWU).
“’n Laaste opdrag van die Sinode in Maart was om vrae en besorgdhede oor die huidige teologiese opleiding vir die NG Kerk, te hanteer.”
Wie dien in die Kuratorium?
Vanjaar was daar 32 lede in die Kuratoriumvergadering, wat dit ‘n groot vergadering maak. Die voordeel daarvan is dat dit wye verteenwoordiging én diepgrondige kundigheid verseker; iets wat onontbeerlik is om oor die uitdagings en moontlikhede van teologiese opleiding vir ons kerkverband te kan besin.
Die Kuratorium bestaan uit ‘n dagbestuur van tien lede, aangewys deur die Sinode, van predikante wat in diens staan van die NG Kerk Vrystaat. Ds Jan Lubbe (NG Kerk Berg-en-Dal) is sedert 1999 lid van die Kuratorium en dien tans as voorsitter, met ds Gideon Lamprecht (NG Kerk Bethlehem) die skriba. Dan is daar ses vak-eksaminatore wat in die verskillende velde van die teologie gedoktoreer het, naamlik Ou- en Nuwe Testament, sistematiese teologie, kerkgeskiedenis en kerkreg, praktiese teologie en sendingwetenskap. Dr Martin Laubscher dien as verteenwoordiger van dosente verbonde aan die NG Kerk in die Kuratorium. Die insluiting van ’n verteenwoordiger uit elke ring in die Vrystaat verseker dat die hele kerkverband insae het en betrokke is by die fasilitering van die opleiding. So ook verteenwoordigers uit elk van die ander sinodes in die NG Kerk; van die Kaap en Natal tot in Transvaal. Vanjaar was daar vir die eerste keer in twee dekades weer ‘n verteenwoordiger uit Namibië, naamlik ds Hanno Visser. Die NGKA, VGKSA en die Reformed Church in Africa het elk ook ‘n verteenwoordiger in die Kuratorium.
Punte van belang vanjaar bespreek
Ds Lubbe werp lig op die volgende sake van belang wat tydens die afgelope vergadering bespreek is: “Tydens die opening van die vergadering met Matteus 28:18-20 as teks, het ons by ’n inskripsie op ’n gedenksteen in Madzimoyo (Zambië) stilgestaan waar die sendingwerk van die NG Kerk Vrystaat onthou word: Passing on the Gospel. Wat is ons roeping vandag? Waarvoor lei ons studente op? Ons het dit gedoen deur onder andere ons verband met die Reformed Church in Zamibia en hul opleiding in Lusaka by die Justo Mwale Theological University te onthou; ons opleiding reik oor alle grense heen.
“Soos tevore, was die besoek van die dekaan en dosente van die Fakulteit Teologie en Religie aan ons vergadering ‘n voorreg en hoogtepunt. Hul jaarverslag en oorsig van die studente- en dosentekorps, asook navorsingsprojekte van dié fakulteit is aan ons voorgehou. Dosente soos Juanita Meyer, Henco van der Westhuizen (beide van die NG Kerk), Eugene Baron en Eugene Fortein (beide van die VGKSA), is onderskeidelik tot medeprofessor en senior lektor bevorder.
“Dan moes ons ook afskeid neem van en demissie verleen aan prof Rian Venter wat vir 18 jaar verbonde was aan die Fakulteit Teologie, onder andere as sekundus-dekaan en departementshoof van sistematiese teologie. Hy tree vanjaar af en ‘n dankwoord is aan hom gerig vir sy werk as dosent, sy klem op ‘n Trinitariese teologie en sy bewusmaking van studente van die konteks waarin ons ons as kerke bevind.”
“Tydens die vergadering is daar ’n uitgebreide gesprek oor ons opleidingsbehoeftes en die akademiese roete na volle leraarsbevoegdheid gevoer. Vrae soos of die inhoud en aanbod van die 4-jarige BDiv-graad ‘n genoegsame professionele voorbereiding vir ‘n gemeentelike bediening bied, is bespreek. Ook die vraag of daar meer ruimte moet wees vir die tradisionele geesteswetenskappe, soos sielkunde, sosiologie en filosofie. Dit hang saam met die kwessie van die ‘indiensneembaarheid’ van studente na legitimasie; dit wil sê die moontlikhede dat hulle deur ‘n breër opleiding ook in ander professies as ‘n ‘tentmaker’ ‘n aanvullende beroep sou kon beoefen, byvoorbeeld in die onderwys,” sê ds Lubbe. “Ons het gepraat oor die taalvaardighede van studente – Afrikaans en Engels en in die toekoms ook Sotho.
“Dit is goedgekeur dat studente voortaan reeds in hul vyfde jaar van opleiding die nagraadse diploma in teologie kan doen met die gepaardgaande praktiese Gemeentejaar in opleidingsgemeentes onder leiding van ‘n begeleierpredikant. Daar is besluit dat, indien hulle sou wou, hulle aan die einde van daardie jaar vir legitimasie as diensleraars aansoek kan doen.
“In hul sesde jaar kan studente dan ‘n MTh in een van die teologiese spesialisrigtings doen, met aanvullende byvakke sodat hulle ‘n goeie akademiese afronding kan ontvang. So ‘n MTh sou aan hul toegang tot ‘n PhD kon bied. Die sesde jaar sou ook deeltyds gedoen kon word met die moontlikheid dat die studente dus steeds in ‘n opleidingsgemeente kan werk. Hul kerklike afronding in die seminarium strek oor al ses jaar van hul opleiding.”
Daar is natuurlik bekommernisse wat ook aangespreek is, soos die kleiner hoeveelheid studente wat vir formele leraarsopleiding aanmeld. Ds Lubbe verduidelik: “Dit is aan verskeie faktore toe te skryf, waaronder ons veranderende kerklike demografie, toekoms-onsekerhede en die duur koste van tersiëre studie. Hier het ons opnuut na ons beskikbare beursfondse gekyk waardeur alle huidige en voornemende studente gehelp kan word. Ons het gepraat oor die werwing van nuwe studente en hoe dit deur gemeentes se kategese en die bediening van predikante kan geskied; hoe jongmense gehelp kan word om die roepstem van God te hoor. Skolebesoeke en die opgradering van ons webblad is verdere doelwitte vir die komende jaar.
“Verder is besluit om ons seminarium by die relevante owerhede vir Hoër Onderwys vir akkreditasie te registreer. Dit gaan aan studente die opsie bied om met ons sertifikaat vir kerk-eie vorming en al die programme daarby ingesluit, hul aansoeke by vakante gemeentes, maar ook in ander professionele hoedanighede, te versterk.
“Gesprek is gevoer oor die akkreditasie van die NWU se Fakulteit Teologie teen die agtergrond van inligting wat reeds vroeër vanjaar deur die Algemene Kuratorium versamel is. Die NWU is ook ‘n ekumeniese fakulteit soos Kovsies en moet onderskei word van die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP) – laasgenoemde staan onder beheer van die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika en is in die proses van omskakeling na ‘n Gereformeerde teologiese akademie wat op ‘n losser basis aan die NWU geaffilieer sal wees; ’n situasie soortgelyk aan hier in Bloemfontein. Dit ís ’n tekortkoming dat daar nie ‘n NG Kerk-eie vormingsbaan in Potchefstroom is nie en die feit dat die Goudland Sinode nie geld daarvoor kon vind nie.”
Ds Lubbe sluit af: “’n Belangrike deel van die jaarlikse Kuratoriumvergadering se werksaamhede is die finale kerklike evaluering van kandidate wat aansoek gedoen het om legitimasie. Ons is baie bly en dankbaar dat al ons gelegitimeerdes van verlede jaar na gemeentes beroep en bevestig is; één van daardie klas is nog met verdere studie besig. Vanjaar het ons ses kandidate vir volle leraarsbevoegdheid gehad: Daar was vier uit die Gemeentejaarprogram, een wat tevore as diensleraar gelegitimeer is, maar intussen aan alle vereistes vir volle bevoegdheid voldoen het en een nádat hy ‘n colloquium doctum voltooi het. Drie kandidate is vanjaar as diensleraars gelegitimeer.”
Hoe baat die NG Kerk Vrystaat dus by die Kuratorium?
Op hierdie vraag, antwoord ds Lubbe as volg: “Ek hoop dat uit al die bogenoemde inligting dit wél duidelik sal wees hoe ons gemeentes probeer help deur die uitkomste van ons opleiding. Enersyds ‘n akademiese opleiding wat spreek van hoë standaard – in ‘n ekumeniese fakulteit en aan ‘n publieke universiteit wat aan ons studente ‘n breë wetenskaplike oriëntering bied én hul blootstel aan die groter Suid-Afrikaanse werklikheid – en andersyds toegewyde kerklike vorming en begeleiding wat hul identiteit versterk, hul spiritualiteit verdiep, hul persoonlike vaardighede slyp en hul blootstelling aan die praktyk konkreet maak en inoefen. Ons is oortuig daarvan dat met die regte leiding deur kerkrade, hierdie jong teoloë spoedig hul voete in die kerklike bediening sal kan vind, die Woord met onderskeiding sal kan bedien en meewerk aan die uitbreiding van Gods Koninkryk op aarde.”
Hoe gemaak as ek, as geroepene, meer wil uitvind?
Belangstellende studente, kandidate wat as diensleraars opgelei wil word en lidmate of leraars wat meer oor die teologiese opleiding wil weet, kan ds Jan Lubbe by 082 784 9362 kontak of dr Johan Nel, bestuurder van die seminarium en beursfondse, by 051 406 6700. Vir opleiding aan ouderlinge en diensleraars kan ds Peet Louw by 084 522 0079 gekontak word. Algemene navrae oor opleiding kan aan ds Gideon Lamprecht, skriba van die Kuratorium, by 082 417 0507 gerig word.
LEGITIMASIEPLEGTIGHEID 2022 – PROPONENTE
