Deur Ethan Kleynhans, derdejaar-teologiestudent (BDiv) aan die UV,
Kopanong-Studentebediening, Vennote in Getuienis
Geloof in uitdrukking: Kopanong se uitreik na Lesotho
Geloof is nooit bedoel om slegs in boeke of kerkgeboue te bly nie. Dit word eers werklik sigbaar wanneer dit uitgeleef word in diens, gemeenskap en die verkondiging van die evangelie. Met hierdie oortuiging het ’n groep studente van Waypoint-Studentebediening vanuit die Vrystaat gedurende die winter na Lesotho uitgereik om saam met ons broers en susters in Christus te leef, te leer en te dien.
Op Saterdag, 27 Junie, het die span vanaf Kopanong-Studentebediening uit Bloemfontein vertrek. Die uitreik is gelei deur ds Wouter van Velden, wie se jarelange toewyding aan sendingwerk en die uitleef van die evangelie vir die span ’n groot voorreg en inspirasie was.
Die eerste bestemming was die afgeleë dorpie Qomoqomong in die Quthing-distrik, waar moruti Paul en sy kerkraad ons hartlik ontvang het. Reeds die eerste aand het die groep saam stil geword rondom die tema wat die hele uitreik sou kenmerk: om, saam met Broer Lawrence die teenwoordigheid van God bewustelik in die alledaagse te beoefen.
Die Sondag het ons die plaaslike erediens bygewoon. Die gemeente het elke lid van die span met ’n Sesotho-naam vereer, ’n besondere gebaar van aanvaarding en verbondenheid. Daarna is ons genooi na ’n tradisionele gedenkmaal ter nagedagtenis aan ’n oorledene. Dit was ’n kosbare geleentheid om die Basotho-kultuur en gasvryheid van naby te beleef. Een van die ligter oomblikke van die dag was toe ’n baie entoesiastiese ouer Basotho-man onverwags ‘n huweliksaansoek aan een van ons spanlede gedoen het, ’n aanbod wat vriendelik maar beslis van die hand gewys is.
Tyd saam met die kinders in Qomoqomong
Maandag is saam met die kinders van die dorpie deurgebring. Speletjies, lag en nuwe vriendskappe het die dag gevul. Later het die groep ’n berg uitgeklim na ’n grot waar skaapwagters steeds hulle vee oppas – ’n regstreekse ervaring van die indrukwekkende Lesotho-hooglande. Die middag is ’n rolprent met behulp van ’n projektor teen die binnemuur van die kerk vertoon. NG Gemeente Bloemfontein-Wes het ook klere geskenk wat met groot dankbaarheid deur die gemeente ontvang is.
Dinsdag het die span na Morija vertrek om by die Lesotho Evangelical Church in Southern Africa (LECSA) se teologiese skool aan te meld, waar ons tot 8 Julie diens gedoen het. Vanaf die Woensdag het ons saam met die teologiestudente van LECSA aan verskeie herstelprojekte gewerk. Slaapkamers in die koshuis is geverf, ongeveer 150 meter waterpyp is aangelê om die teologiese skool van water te voorsien, en ’n plafon is in een van die historiese geboue geïnstalleer. Hierdie praktiese dienswerk het gewys dat die evangelie nie net verkondig word nie, maar ook sigbaar word in liefdevolle diens aan ander.
Kerk in Qomoqomong, Quthing-distrik
Die uitreik het egter nie slegs uit fisiese arbeid bestaan nie. Omdat die teologiese skool tans nie ’n dosent in Hebreeus het nie, het ek soggens basiese Hebreeuse klasse aangebied. Die doel was om studente toe te rus met die grondbeginsels van Bybelse Hebreeus en hulle te help om digitale hulpmiddels op hulle selfone te gebruik wat hulle eksegese en uiteindelik hulle prediking kan verryk.
Wat die span waarskynlik die diepste geraak het, was die buitengewone gasvryheid van ons Lesotho-broers en -susters. Elke aand is water vir ons gekook sodat ons kon was, en Vrydagaand is ons genooi om saam met hulle die nagmaal te vier. Om as broers en susters saam aan die tafel van die Here te sit, het die eenheid van die liggaam van Christus op ’n tasbare manier bevestig.
Op die Sondag het ons aanbid in die historiese kerkgebou van Morija, wat reeds in 1833 opgerig is. Daarna het ons die plaaslike museum besoek, waar ons meer geleer het oor Lesotho se geskiedenis, die ikoniese Basotho-komberse en die streek se rotskuns. Deur die hele uitreik heen het ons die opregte geloof, nederigheid en gasvryheid van die Basotho-gelowiges beleef.
“Ons geloof word immers, soos Jakobus verder sê, deur ons dade sigbaar.” (Jakobus 2:18)
Op Woensdag, 8 Julie, het die span die terugreis na Bloemfontein aangepak, met ’n middagete onderweg op Ladybrand. Terug by Kopanong het ons uitgepak, afskeid geneem en elkeen weer ons eie roeping tegemoet gegaan.
Hierdie uitreik het ons opnuut herinner dat geloof veel meer is as kennis wat opgebou word. Dit vind sy ware doel wanneer dit sigbaar word in diensbaarheid, gemeenskap en liefde. Deur saam te werk, saam te aanbid, saam te leer en saam die tafel van die Here te deel het ons iets beleef van die wêreldwye kerk waarvan Christus die Hoof is.
Soos Jakobus skryf: “So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood.” (Jakobus 2:17)
Daarom is sending nie bloot iets wat die kerk doen nie; dit is die manier waarop die kerk leef. Wanneer die evangelie ons harte vorm, word ons geloof noodwendig sigbaar in ons hande, ons voete en ons verhoudings. Ons geloof word immers, soos Jakobus verder sê, “deur ons dade sigbaar.” (Jakobus 2:18)
Dít is teologie in uitdrukking.
[1] Waypoint is die studentebedieningsnetwerk van die NGKV in Bloemfontein, wat uit verskeie bedieningspunte bestaan.




