Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Geleentheid vir gebed vir ons land, Suid-Afrika

Deur ds Marnette van Rensburg,

leraar van NG Gemeente Pearly Beach, Sinode van Wes-Kaapland

Uit Pearly Beach het die inisiatief ontstaan om, in aanloop tot die nasionale verkiesing op 4 November 2026, ’n geleentheid vir gebed vir ons land te skep.

Ons hoor dikwels mense sê: “Net God kan ons land red.” Hoewel ons weet dat God nie ’n towerstaffie is wat ons na willekeur kan gebruik nie, weet ons ook dat Hy sy kinders oproep om te bid. Paulus herinner ons immers: “Maak alles deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:6)

2 Kronieke 7:13–16 (AFR20)

“As Ek die hemel sluit sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkane stuur om die land kaal te vreet, of as Ek ’n pes onder my volk loslaat, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my teenwoordigheid opsoek en hulle van hulle verkeerde paaie bekeer, sal Ek uit die hemel hoor, hulle sonde vergewe en hulle land genees. My oë sal oop wees en my ore aandagtig luister na die gebede wat op hierdie plek gebid word. Ek het hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.”

Ons nooi graag elke gelowige en elke Christelike gemeente, kerkverband en geloofsgemeenskap uit om deel van hierdie gebedsinisiatief te wees. Dit is nie nodig dat almal op dieselfde dag byeenkom nie. Die belangrikste is dat gelowiges regoor Suid-Afrika doelbewus saam voor God intree vir ons land, sy mense en sy toekoms.

Versprei hierdie uitnodiging asseblief wyd na kerke, denominasies, bedieninge en gebedsgroepe waarvan u bewus is, sodat soveel moontlik gelowiges kan deelneem.

’n Voorstel vir ’n eenvoudige liturgie en gebedsriglyne sal binnekort beskikbaar gestel word om gemeentes en groepe te help met die beplanning van hierdie geleentheid.

Lees ook die Kerkbode-artikel vir meer inligting oor hierdie gebedsinisiatief.

Vir enige navrae kan ds Marnette van Rensburg van NG Gemeente Pearly Beach (Sinode van Wes-Kaapland) gekontak word by marnette1@gmail.com