Deur Mariëtte Odendaal
Die Ring van Bloemheuwel – Better Together
“Die projek help dat gemeentes wat te min kinders het en finansieel nie daartoe in staat is om ’n belydeniskamp aan te bied nie, dit wel kan doen as dit saam met ander gemeentes in Bloemfontein, asook ander gemeentes in die Vrystaat, gedoen kan word. Dis dan ook baie meer bekostigbaar en baie meer kinders kan dit bywoon.”
Ds Christo Louw
Voorsitter: Ring van Bloemheuwel
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ’n bedrag van R30 000 aan elk van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die voorwaarde was dat die projekte in samewerking met ’n sinodale bediening onderneem moes word.
In die geval van die Ring van Bloemheuwel het hulle by die sinodale bediening vir Diens van Barmhartigheid ingeskakel. Ons het meer gaan uitvind by hul ringsvoorsitter, ds Christo Louw, oor hoe hul ring hierdie fonds aangewend het.
Christo, julle ring het as projek ’n ‘Better Together’-kamp aangebied. Vertel meer.
“Die ‘Better Together’-inisiatief is as konsep uit die Ring van Bloemheuwel gebore met die doel om as ringsgemeentes meer doeltreffend saam te werk, soos byvoorbeeld by die aanbied van kampe. Dit het sedertdien mooi gegroei en word nou ook deur ander gemeentes, selfs buite Bloemfontein, ondersteun.
“Tydens die naweek van 11 tot 13 Oktober 2024 het 100 belydenisklas-katkisante en kerkleiers vanuit agt gemeentes die belydeniskamp te Mooigenoeg bygewoon. Die gemeentes wat deelgeneem het, was Heuwelsig, Klipkerk, Langenhovenpark, Bainsvlei, Brandfort, Heuwelkruin, Vaalpark en Hugenote.
“Die tema vir die naweek was #EKGLO. Dit was opgedeel in vier sessies, waartydens ons die vier vrae van belydenisaflegging hanteer het. Dit is die vrae waarop die katkisante tydens belydenisaflegging moet antwoord. Die deeglike bespreking van hierdie vrae tydens die kamp was van onskatbare waarde vir die katkisante.
“Daar is ook vier werkswinkels aangebied wat gehandel het oor gebed, lewenskeuses, menseverhoudings en jou verhouding met God. Die temas vir die werkswinkels is deur die tieners self vooraf gekies, wat die werkswinkels dus baie relevant en uiters waardevol gemaak het.
“Die temas is deur verskeie predikante behandel en die groepbesprekings is deur leiers uit die verskillende gemeentes gefasiliteer. Teologiestudente het die aktiwiteite en speletjies onder leiding van die leraars behartig.
“Die musiekgroep Lightly Salted onder leiding van John Matthews het die lofprysing en aanbidding behartig.
“Vrystaat-gemeentes wat graag in 2025 wil deel wees van Better Together is welkom om ds Tano Bongers by 072 176 5092 of Cecilna Grobler by 084 583 2925 te kontak.”
Hierdie projek was sekerlik tot groot voordeel van jul ringsgemeentes en ander wat dit bygewoon het?
“Ja, beslis. Die projek help dat gemeentes wat te min kinders het en finansieel nie daartoe in staat is om ’n belydeniskamp aan te bied nie, dit wel kan doen as dit saam met ander gemeentes in Bloemfontein, asook ander gemeentes in die Vrystaat, gedoen kan word. Dis dan ook baie meer bekostigbaar en baie meer kinders kan dit bywoon.
“Nog ’n groot pluspunt is dat die kinders die geleentheid kry om deur ’n verskeidenheid leraars met verskillende gawes geleer en begelei te word ten opsigte van hul verhouding met die Here.
“Die musiekgroep Lightly Salted dra ook baie daartoe by om musiek te speel wat aansluit met die behoeftes en taal van ons jeug. Dit dra daartoe by dat ons kinders se geestelike ervaring van Christus en hul verhouding met die Here ’n betekenisvolle impak op hulle het.”
’n Mens ondervind ook soms ’n paar uitdagings met die aanpak van so ’n projek, né?
“Ek moet sê, danksy die goeie samewerking tussen al die gemeentes wat deel was van die kamp, was die uitdagings gelukkig min.
“Die grootste uitdaging is egter om geskikte vrywilligers te kry, omdat studente en jong werkendes nie altyd in die tye wat ons kamp, kan verlof of vakansie neem om ons op so ’n kamp te kan help fasiliteer nie.”
Hoe is die GOUF-bedrag ten opsigte van die Ringsprojek aangewend?
“Die finansiële hulp wat ons van GOUF ontvang het, is gebruik om die koste van die kampterrein en ’n groot deel van die koste ten opsigte van die etes vir die kamp te dek.
“Op hierdie manier kon die kamp so goedkoop as moontlik aangebied word, sodat alle kinders wat die kamp wou bywoon, dit kon doen, ongeag die ouers se finansiële vermoë.
“Hierdie sinodale bydrae is van onskatbare waarde vir die waarde wat dit toevoeg ten opsigte van die geestelike toerusting van ons volgende generasie gelowiges; iets wat ons land en die ganse wêreld, veral in hierdie morele rigtinglose tye, baie nodig het.”
Kontak
Vir meer inligting kan ds Christo Louw by christo.louwgm@gmail.com gekontak word.







