Wéés kerk aanlyn!
“Dit is oulik, maar dis nie regtig kerk nie,” sê hy vir my. “Die mense kan darem die Woord hoor tot ons weer regtig kerk hou.”
Nie die eerste of laaste keer wat ek dit sou hoor nie. Wanneer gelowiges praat oor aanlynbediening kom ons heel gereeld by die vraag of aanlynkerk nou regtig kerk kan wees? En die maklikste antwoord is sekerlik: Nee! Hoe kan ons gemeenskap van gelowiges om die Woord van God en onder die weerklank van ons lofliedere nou vervang met alleen sit voor ’n skerm?
As daar egter een ding is wat die grendeltyd ons kom leer het, is dit om kritiese vrae te vra oor ons kerkwees. Maar kerk, weet ons, is baie meer as net ’n byeenkoms in ’n gebou. So, hier is vyf maniere waarop ons aanlyn ten volle kerk kan wees:
1. Soos byna elke predikant die laaste ses maande uitgevind het kan die evangelie met groot sukses aanlyn verkondig word. Trouens, die Goeie Nuus kan nou baie wyer verkondig word aan ’n baie groter gehoor as wat Sondag in die kerkgebou sou sit. Die uitdaging is om dit só te deel dat ander daarna sal luister.
2. Aanlyn kan ek betekenisvol kontak maak met ander. Die navorsing is duidelik hieroor – jy kan digitaal ’n betekenisvolle emosionele konneksie maak met iemand. Dit beteken jy kan ander gelowiges emosioneel ondersteun, jy kan hulle laat weet dat hulle nie alleen is nie.
Om die waarheid te sê, dit is so effektief dat daar wêreldwyd nou groot aanlynterapiesentrums is – waarvan baie deur mediese fondse onderskryf word! Platforms soos Togetherall (https://togetherall.com/en-gb/) en Talkspace (https://lp.talkspace.com) het duisende kliënte wat reken hulle kry beter resultate as met konvensionele terapeute. Dit het natuurlik verreikende gevolge vir pastoraat. Huisbesoek kan ’n totaal nuwe betekenis kry. Dit hoef nie almal se voorkeur te wees nie, maar waar fisiese kontak nie ’n opsie is nie of mense se komplekse lewensritmes dit andersins onmoontlik maak, bied hierdie ’n sinvolle alternatief.
3. Aanlyn gebedstoeps en -platforms maak dit al hoe makliker vir gemeenskappe om vir mekaar te bid. Nie dat jy enigiets meer as WhatsApp nodig het om uit te vind waarvoor jy vir iemand kan bid nie.
4. Die meeste kerke het reeds buiten die tradisionele bankbesonderhede ook aanlynbetaalportale soos Payfast of Zapper en Snapscan ontdek. Dit help natuurlik ook om die risiko van kontanthantering te verminder (en mense is geneig om meer te gee aanlyn! https://nonprofitssource.com/online-giving-statistics/).
Die geleenthede om aanlyn te gee help ook om hulpbronne baie vinniger en baie verder te versprei. Jy kan aanlyn onmiddellik en direk betrokke raak by noodverligting ongeag waar dit is.
5. Dan is daar natuurlik die uitdagendste manier om kerk te wees aanlyn – deur jou eie teenwoordigheid. Net soos in die res van ons lewe het ons aanlyn die geleentheid om deur ons eie woorde en gedrag vir ander te wys hoe Jesus lyk. Die soms negatiewe, bitter digitale kultuur van ons tyd maak dit eintlik maklik om uit te staan. In ’n wêreld van fopnuus, selfgesentreerdheid, haatspraak en mense wat altyd iets kry om oor kwaad te wees is dit maklik om uit te staan met ’n teenwoordigheid wat getuig van hoop, geloof en liefde.
Lees ook: Digiklesia: Nuwe deel van die kerk is besig om op te staan
Wéés so kerk aanlyn! Voordat ons die geboue terugkry en dalk te vinnig weer gemaklik raak daarbinne.
As jy belangstel in die moontlikhede wat digitale bediening bied sowel as die uitdagings wat dit aan die plaaslike gemeente bied, kyk gerus uit vir Digiklesia se gratis webinaar later vanjaar waar kenners in die velde van teologie, tegnologie en kuns gemeentes sal bedien met kennis en hulpbronne om die bediening te ondersteun.
Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.