Deur Mariëtte Odendaal
Gebruik minder plastiek – dra positief by tot ’n skoner aarde
Is jy dalk al moeg daarvan om gedurig te hoor hoe belangrik dit is om minder plastiek te gebruik? Wel, moet nooit daarvoor moeg word nie; raak wakker en begin daadwerklik iets daaraan doen.
Waarom is dit so belangrik om minder plastiek te gebruik?
Plastiek neem honderde jare om af te breek. Dit het dus ‘n langtermyn-impak op stortingsterreine en natuurlike habitatte.
Mikroplastiek fragmenteer en dring uiteindelik ons water- en voedselbronne binne, wat gesondheidsprobleme kan veroorsaak. Dit is by uitstek belangrik om mikroplastiek in ons voedselketting te verminder. Groot supermarkte maak hulle veral skuldig aan die oormatige gebruik van plastiek.
Plastiek word meestal van fossielbrandstowwe gemaak en stel kweekhuisgasse vry tydens produksie en verbranding; iets wat grootliks tot klimaatsverandering bydra en drasties verminder moet word.
Plastiekbesoedeling in oseane bedreig duisende seediere wat plastiek insluk of daarin verstrengel raak. Dit lei dikwels tot hul dood. Jy hoef maar net Desembermaand langs die see te gaan stap om te sien hoeveel plastiek daagliks uitspoel, veral in gebiede soos natuurparke waar daar nie altyd skoonmakers is wat die kilometer-lange kusgebiede daagliks kan opruim nie. Plastiek is ’n enorme bedreiging vir ons seelewe wêreldwyd.
Wat kan ons doen om ‘n onmiddellike en positiewe bydrae tot die omgewing te lewer?
Sorg dat jy altyd jou eie herbruikbare inkopiesak (sakke) in jou handsak byderhand het. Dis ’n gewoonte wat baie maklik aangeleer kan word en sodoende help jy om honderde plastieksakke per jaar minder te gebruik.
Vermy enkelgebruik-plastiekprodukte. Skakel oor na herbruikbare waterbottels, koffiebekers en eetgerei.
Koop in groot maat en plaas jou aankope in jou eie lapsakke. Vermy ook produkte in plastiekverpakkings om sodoende afval te verminder.
Vermy plastiek-drinkstrooitjies. Gebruik eerder herbruikbare of bamboesstrooitjies, of drink eenvoudig jou sap sonder ‘n strooitjie.
Gebruik eerder herbruikbare en biologies afbreekbare produkte. Sodoende verminder jy afval en hou die aarde skoner.
Deel jou storie
Stuur gerus ’n storie of video na skakel@ngkvs.co.za van wat julle dorp, skool of gemeente alreeds doen om van ons aarde ’n mooier, plastiekvryer plek te maak.