Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Engo-sorgverlaterskamp rus jongmense toe vir ’n onafhanklike toekoms

Engo-mediaverklaring: Vrystelling op 10 April 2026

Bloemfontein, Vrystaat – Tydens die Maart/April-skoolvakansie het 38 sorgverlaters vanuit jeugsorgsentrums regoor die Vrystaat deelgeneem aan ’n unieke en lewensveranderende Sorgverlaterkamp.

Die kamp fokus daarop om jongmense wat hulle voorberei om die sorgstelsel te verlaat, toe te rus met noodsaaklike lewensvaardighede en selfvertroue om suksesvol hul eie pad vorentoe te stap.

Deelnemers het tydens die kamp opleiding en blootstelling ontvang aan verskeie kernaspekte van onafhanklik leef, insluitend begrotingsvaardighede deur middel van ’n praktiese “Care Leavers Currency”-aktiwiteit, gesonde verhoudings, asook werksplekvoorbereiding en toepaslike werksetiek.

As deel van die program is die jongmense by 23 verskillende werksplekke geplaas, waar hulle praktiese ervaring opdoen in velde soos maatskaplike werk, verpleging, rekeningkunde, administrasie, regswese, die weermag, kleinhandel en die gasvryheidsbedryf. Hierdie blootstelling help om hul vaardighede te ontwikkel en brei hul toekomsgeleenthede uit.

’n Belangrike tema van die kamp is die arend-simbool, wat die proses van onafhanklikheid verteenwoordig. Deelnemers is bekendgestel aan sewe karaktereienskappe van ’n arend en hoe hierdie eienskappe toegepas kan word in hul eie lewens wanneer hulle die “nes verlaat”.

Die kamp het ook gefokus op hoop en deursettingsvermoë. Tydens ’n spesiale “Stories of Hope”-sessie het voormalige sorgverlaters hul persoonlike ervarings gedeel en jongmense geïnspireer met hul suksesverhale. In twee gevalle het deelnemers selfs permanente werk bekom by organisasies waar hulle tydens vorige kampe geplaas was.

Die volgende Sorgverlaterkamp vind in September 2026 plaas. Persone wat belangstel om betrokke te raak of by te dra, word aangemoedig om kontak te maak.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak gerus:

Elmarie Els-Hammann (Maatskaplike Werker by Engo Jeugsorgsentrums)

elmarie@vironskinders.org.za | 079 599 4135

Besoek ons gerus by www.engo.co.za – Engo Vrystaat – Ewige hoop.

 | Foto’s is verskaf deur Engo.