Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

En steeds is dit Koninkrykstyd …

Koninkrykstyd is die langste van ons kerklike seisoene. Soms ook die seisoen met die minste “opwinding”. In al die ander seisoene vier ons immers iets of gebeur daar iets groots, maar geen groot heilsgebeure val binne hierdie tyd nie. Dis dalk hoekom die kerk soms nie so lekker weet wat om met hierdie seisoen te doen nie!

Maar die teendeel moet waar wees: die kerk moet haar aktief besig hou in hierdie tyd met vrae soos: Hoe leef ons nou, in die lig van alles wat God reeds gedoen het? Ons het die koms van Christus gevier. Ons het by die kruis stilgestaan. Ons het die leë graf met vreugde begroet. Ons het Pinkster gevier en God gedank vir die gawe van die Heilige Gees. Nou volg die vraag wat ons die hele seisoen moet oordink en vir onsself (en die wêreld) moet antwoord: Hoe lyk ’n kerk (in breër verband) en ’n gemeente (in plaaslike verband) wat werklik onder die heerskappy van die Koning leef? Hoe word die koninkryk van God meer sigbaar deur sy kerk gemaak in hierdie tyd en wêreld waarin ons leef?

Vir ons as kerk in die Vrystaat het hierdie seisoen besondere betekenis. Ons leef in gemeenskappe waar mense daagliks gekonfronteer word met armoede, werkloosheid, misdaad, gebroke gesinne, eensaamheid en ’n groeiende onsekerheid oor die toekoms. Juis in so ’n wêreld in ons mooi provinsie roep Christus ons om sy koninkryk sigbaar te maak deur as sout van die aarde en lig vir die wêreld te leef.

Koninkrykstyd herinner ons daaraan dat die Here sy kerk ook in hierdie provinsie geplaas het om ’n tasbare teken van sy Koninkryk te wees. Waar daar verdeeldheid is, moet die kerk versoening bring. Waar daar wanhoop is, moet die kerk hoop verkondig. Waar daar nood is, moet die kerk dien. Waar mense na betekenis en sin soek, moet die kerk altyd gereed wees, gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat ’n verduideliking eis oor die hoop wat in ons lewe – soos Petrus dit in 1 Petrus 3:15 duidelik stel.

Hierdie seisoen daag ons as kerk ook uit om weer na die “basiese” terug te keer (back to basics). Die vroeë kerk het nie oor indrukwekkende geboue, groot begrotings of gevorderde tegnologie beskik nie. Handelinge 2 vertel ons hulle het hulle toegewy aan die Woord, aan gebed, aan die gemeenskap van gelowiges, aan die breek van die brood en aan die versorging van mense in nood. Dáár het die wêreld iets van God se Koninkryk raakgesien. Dit is steeds ons roeping in hierdie seisoen.

En terwyl ons dit doen, bid ons saam met die kerk deur al die eeue die woorde van ons Here: Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. (Matteus 6:10)