Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Woord, ’n waterpas en die “gebaande weg” van Sybrand Strauss

 | verskaf: Ds Jan Lubbe

Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Argiefkomitee, NG Kerk Vrystaat

 “Liewe Jan,” so begin die WhatsApp van 18 Mei, “ek het nou groter duidelikheid oor die geskrifte en wil dit graag met jou deel. Hoofsaak is dat dit aan die Vrystaatse Kerkargief gegee word, … dit beslaan maar net ’n gedeelte van my oorspronklike versameling … my kosbare Bavinck en Berkouwer-boeke is na studente en ander … Ek soek alles van biografiese-, kerkhistoriese- en teologiese belang vir jou uit … Wil jy nie tog maar by ons langs kom nie? Ons altwee wil jou so graag sien …”

Dit was mos Paulus aan Timoteüs: “Doen jou bes om nog voor die winter te kom …” (2 Timoteus 4:21). Ná ’n oproep of twee om dit te reël, stop ek die middag van 4 Augustus by die Aftree-oord in Parys. Hy wag vir my aan die bo-punt van die lang gang van die Versorgingsafdeling, broos en geboë, soos die vader van ’n verlore seun voel dit vir my half. Ons groet innig en drink koffie. Verneem na familie (ons is verlangs aangetroud). Hy was óók die nuwe studenteleraar op Kovsies in my koshuisdae. Toe na Kampen, Nederland, om oor Klaas Schilder en die verbond te promoveer: “Alles of Niks.” Toe “Professor”, agter die lessenaar vir ons mondelinge in Dogmatiek en Etiek. Sy intreerede: “Op soek na die Dogmatiese Tradisie van die NG Kerk: Die Stellenbosse Lyn” (1993). Die verlies van ’n geliefde. Later die besoeke aan Vredefort en ’n oornag op die plaas. Nou gesels ons oor gesondheid, en die pad vorentoe. Walda is by, en dan gaan dit altyd ook oor musiek, die orrel en haar ouerhuis eens in Berg-en-Dal. Dra uiteindelik die vyf kartonne motor toe. Terug in Bloemfontein, na die Kerkargief. Binne vier dae laat weet Helena Smit, ons Argiefbeampte my opgewonde, dis klaar, ek moet kom kyk.

 

“Die Sybrand Strauss Persoonlike Versameling.” Dit beslaan 12 kartonhouers, en Helena het dit netjies sorteer: Daar is sy artikels in vele tydskrifte, knipsels en rubrieke in Die Volksblad. Daar is manuskripte van hoofstukke in boeke. Daar is die aantekeninge vir referate en optredes, byvoorbeeld 29 Augustus 1984, by “ORDES” (dit was ’n gespreksforum op kampus) oor “Genadedood” saam met dr Chris Barnard. Daar is die korrespondensie, so ver terug soos ’n uitnodigingskaartjie na sy proefpreek op 4 Junie 1972 in Malmesbury se Moedergemeente én die telegram van “Pa Sypie” vyf maande later: “Twee duim sagte reent. Ons juig. Liefdegroete”, van Leeuspruit af. Dié drie – VDM en gewone lewe en die grond, die plaas – was die landskap van sy lewe, dít sien jy in sy argief. Daar’s die fotoversameling met byskrifte in twee kartondose, getiteld “Loopbaan” 1966-1994 en 1995-2005. Van die eerste foto van ’n baie jong Sybrand by die gesin van ds Ben Schutte, by wie hy in Januarie 1971 sy prakties in die gemeente Bryanston in Johannesburg gaan doen het. Verstommend hoe presies hy als destyds uitgeskryf het: die treinreis, aankoms, die braai, “6.00 vm. Opstaan en voorberei”, die oggenddiens uit Jesaja 35:8-10 (“Daar sal ’n gebaande weg wees”), kategese daarna, die aanddiens uit die Kategismus, en “8.00 nm. Tee”. Tot by die laaste foto’s; een uit 2011, die vier dosente verbonde aan die departement Dogmatologie aan die Fakulteit Teologie: SA Strauss, Rian Venter, Anlené Taljaard en Pieter Potgieter. En dan waarskynlik die hart van die versameling, die kartondose met pakkies handgeskrewe preke: Genesis tot Deuteronomium, die Koningsboeke, Psalms, die Profete, die Evangelies, Briewe en Openbaring. Wéér ’n keer, uitgeskryf tot by die laaste een: Kersdag 2024 in Vredefort. Nou is die handskrif bewend, die liturgie kort, die tema kripties dog duidelik: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (Hosea 11 en Matteus 2). Die Woord is één. Dit is “vervuld”, en het nie maar so “uitgekom”; dit is ’n “belofte”, nie maar bloot ’n “voorspelling”, het hy gaan preek. Die agt-en-sewentigjarige VDM in sy geliefde gemeente.

 

Só ’n persoonlike versameling in die Kerkargief gee ’n indringende blik op die identiteit en bediening van die NG Kerk in die Vrystaat, oor die afgelope halfeeu. Ons kort méér daarvan. Want dis uiteindelik méér as net herinneringe. Dit vertel eerstehands in kleur van ’n lewe en teologie en soeke op weg deur dié Vrystaatse landskap. Dis primêre bronne wat met ’n eie stem getuig van geloof en volharding in ’n komplekse tyd en konteks, die dekades van oorgang uit ’n “ou” bedeling na ’n “nuwe”; hoe dit beleef is en wat dit na die kerk gebring het en hoe daar op geantwoord is. Die vraag oor wie Sybrand Strauss was en sy bediening van die Woord, help ons om onsself – wat deur hom opgelei is en saam bedien het – te verstaan. Selfondersoekend, soos hy dit gedoen het. Meer nog: dit wys heen na dié getroue en genadige God wat eens en steeds mense roep.

 

Mag daar eendag tóg ’n biograaf kom wat dié argiefversameling kerkhistories sal ontsluit, teologies deurgrond en in ’n sintese beskryf. Mag hy of sy dan óók dié twee kosbare artikels in die kartondose kry: ’n klein voosgevatte Bybeltjie, met die inskripsie in die bekende handskrif voorin:

 

“In die 20 jaar wat ek professor was, het ek, sover as moontlik,

elke lesing met ’n gepaste kort Skriflesing laat begin.

Meestal was dit uit hierdie klein Bybeltjie (1983-vertaling).

SA Strauss.”

 

En die tweede, verrassend: ’n klein geel waterpas. Van sy Oupa Sybrand A. Strauss, na wie hy vernoem is. Die storie van die waterpassie is lankal vergete, maar die simboliek tussen al hierdie dokumente, blywend. Sybrand Strauss sal vir sy liefde vir die gereformeerde konfessie en die Vrystaatse NG Kerk onthou word, met ’n ewewig, wég van die ekstreme af. Soos mens by bouwerk ’n waterpas dophou, só die Woord op die “gebaande weg” van jou lewe:

 

“Die helige pad sal dit genoem word.

Dié wat losgekoop is, sal daarlangs gaan;

dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer,

hulle sal in Sion aankom met jubelkrete …

Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig,

en verdriet en ’n gesug sal wegvlug.”

(Jesaja 35:8-10)

Vir meer inligting kan ds Jan Lubbe by janlubbe1964@gmail.com gekontak word.

 | Verskaf: Ds Jan Lubbe, voorsitter van die Argiefkomitee, NG Kerk Vrystaat

  | Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief