Dit is maklik om Lesotho te sien as ’n nie-amptelike tiende provinsie van Suid-Afrika, maar die oomblik wat jy die grens oorsteek, weet jy hierdie is nie meer Suid-Afrika nie. Lesotho is ’n land van eenvoud en rustigheid; buiten die ongelooflike prag van die berge en valleie is dit steeds verstommend om daar aan te kom en opnuut te besef hoe min is eintlik nodig om ’n goeie lewe te leef.
Gedurende die afgelope wintervakansie, van 26 Junie tot 5 Julie, het ’n groep studente Lesotho op ’n uitreik besoek. Ons het Lesotho nie besoek met die idee dat Christus nie daar is nie, of dat beskawing nie daar bestaan nie; inteendeel, dit is keer op keer ons voorreg om, soos Paulus skryf in 1 Tessalonisense 5:11, iets te beleef van die bemoediging en vashou deur mede-gelowiges, ongeag hul burgerskap.
Vir die eerste week het ons tyd deurgebring in Qomo-Qomong, ’n afgeleë nedersetting in die berge van Suid-Lesotho waar daar vir die afwesigheid van lopende water meer as vergoed word deur die gasvryheid en openheid waarmee ons jaar na jaar ontvang word. Hier het ons programme met die kinders van die gemeenskap gefasiliteer, besoeke gebring, gesprekke gevoer en gebid vir persone wat ly as gevolg van siekte of ouderdom. Een van die hoogtepunte was om Sondag saam met die gemeenskap kerk te hou.
In Lesotho gaan jy nie Sondag kerk toe nie, Sondag is kerk. Dít het my laat dink aan daardie bekende grappie van die ouderling wat vir die predikant sê: “Preek oor enige iets, net nie oor ’n uur nie.” Nietemin, die passie en ywer waarmee hierdie klein gemeenskap hul geloof uitleef, was ’n inspirasie om te beleef en ’n voorreg om aan deel te neem.
Ná die erediens het ons vetrek na Morija, die teologiese seminarium van LECSA (Lesotho Evangelical Church of Southern Africa). LECSA is die grootste gereformeerde kerk in Lesotho en in die afgelope paar jaar het ’n sterk en gesonde verhouding tussen LECSA en die NGKVS ontstaan, waarvan hierdie uitreik deel vorm. By Morija het ons ten doel gehad om Vrystaatse studente en Lesotho-studente aan mekaar bloot te stel, meer spesifiek om hopelik ruimte te skep waarin teologie-studente van die NGK en LECSA hul ervarings kan deel en tentatief verhoudings kan begin kweek. Een van die drome is dat meer en meer gemeentes in die Vrystaat hul weg begin oopsien om ook betrokke te raak in Lesotho.
Indien hierdie kort artikel iets in jou hart wakker gemaak het, voel asseblief vry om die kantoor van Vennote in Getuienis te kontak om meer uit te vind oor betrokkenheid in ons pragtige buurland.
- Tel: +27 (0)51 406 6729 | E-posadres: missio@ngkvs.co.za
Groete in Christus
Ds Ruan Janse van Rensburg
Sel: 071 635 2898