Deur ds Joe Müller,
skriba van die Teologies-kategoriale Ring en leraar van NG Gemeente Kroonstad
Op Vrydag 13 Junie 2025 het ’n geskiedkundige gebeurtenis plaasgevind. Drie gemeentes, NG Gemeentes Harrismith, Kroonstad en Parys-Suid het by Harrismith-gemeente bymekaargekom om die eerste Teologies-kategoriale Ring van die Vrystaat te stig. Ons Ring se naam heet ook so: Die Teologies-kategoriale Ring van die Vrystaat. Die naam is só gekies om dit so breed en wyd as moontlik te maak, ingeval ander gemeentes later sal bykom. Dit is die eerste keer dat gemeentes in ’n verband met mekaar staan, nie op grond van geografiese ligging nie, maar op grond van teologie en geloofsoortuigings.
Die Kategoriale Ring wil gemeentes in die NG Kerk bymekaarbring wat dieselfde teologiese oortuigings het. Die doel is om eensgesind en getrou aan God se woord, gemeente te wees saam met ander gemeentes wat dieselfde oortuiginge het. Ons teologiese beleid bevestig die Bybel as geïnspireerde, genoegsame, onfeilbare Woord van God wat ons moet rig en stuur. Dit is ons baken waarby alle kerklike besluite geneem moet word. Die Skrif geld vir alle mense vir alle tye en daarom moet die Kerk ’n teen-kultuur wees wat die Woord bo alle menslike invloede en interpretasies plaas.
Daarom het die Ring weer ons geloof in God Drie-enig verklaar, die gesag van die Bybel bevestig, Jesus as enigste Verlosser tussen mens en God erken, die krag van die Heilige Gees bely, die regverdigmaking van sondaars, en die belang om die Bybelse evangelie en verlossingsleer te verkondig. Daarom is ’n groot deel van die eerste Ringsitting gewy aan ’n teologiese inslag in die vorm van ’n gespreksdokument* vir die Ring wat hierdie sake bevestig.
Die Ring is steeds deel van die NG Kerk, maar die Ring stem nie saam met die huidige besluite van die Vrystaatse Sinode en Algemene Sinode nie. Daar is talle sake soos Skrifbeskouing, Gereformeerde belydenis, teologiese opleiding, kerkverband, huwelik en seksualiteit en selfdegeslagverbintenisse, kategesemateriaal, ensovoorts waarmee die Ring nie saam kan gaan nie. Dit is ook onaanvaarbaar dat daar oor aanbidding saam met ander geloofsgroepe, buite die Christendom, gepraat word en selfs oor die bestaan van die bose, en dat gemeentes self oor sulke sake kan besluit, en so verwarring by lidmate skep. Daar is nog ander sake ook waarmee die nuwe Ring, in die lig van ons verstaan van die Skrif, nie kan saamstem nie.
Die geskiedkundige eerste Ringsitting is bygewoon deur drie afgevaardigdes van elke gemeente, asook drie verteenwoordigers van die NG Kerk Vrystaat Moderamen. Die drie verteenwoordigers van die Moderamen was ds Hannes du Plessis (skriba van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat), ds De la Harpe le Roux (Diens van Barmhartigheid) en dr Dawie Botes (Ondervoorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat). Die Moderator, ds Jan Lubbe, het elektronies ingeskakel en groete oorgedra namens die Kerk.
Die stigting van die nuwe Ring is moontlik gemaak deur ’n besluit wat geneem is op die buitengewone Vrystaatse Sinodesitting van 3 Oktober 2024. Die Sinode het ’n paar moontlike opsies op die tafel geplaas, waaronder een die moontlikheid was om teologies-kategories met ander gemeentes verbind te word. Dit is eenparig deur die Sinodevloer ingestem. Die Ring het ook gehoor dat die Vrystaatse Sinode hulle verhouding met die Algemene Sinode wil hervertolk en dit is ’n uiters belangrike saak vir ons. Hierdie moontlikheid het duidelik uitgespel dat dit ’n welwillende weg is vir gemeentes om by so ’n nuwe Ring aan te sluit. Juis omdat daar teologiese verskille in die Vrystaatse Sinode onder verskeie gemeentes is, is hierdie opsie deur die drie gemeentes van die nuwe Ring gekies.
Die saak is na die Moderamen en Interimkomitee verwys en die Interimkomitee, saam met die Sinodale Taakspan Kerkorde, het op 11 Februarie 2025 ’n werkswinkel met belangstellende gemeentes gehou.
Die werkswinkel is deur ’n aantal gemeentes (10 gemeentes met verteenwoordigers) bygewoon, maar omdat daar drie gemeentes was wat reeds kerkraadsbesluite geneem het en amptelik versoek het om na die Kategoriale Ring oorgeplaas te word, is besluit dat hierdie drie gemeentes die eerste Ring sal vorm, konstitueer en stig. Daar is reeds ’n klompie gemeentes in die Vrystaat wat aangedui het dat hulle so ’n skuif oorweeg, asook een gemeente uit die Kaap.
Vir gemeentes in die Vrystaat wat deel wil word van die Ring is daar ’n bepaalde Kerkordelike weg wat hulle kan volg. So ’n versoek moet aan die Moderamen gerig word, kennis gegee word by hulle huidige Ringe, gesprek moet gevoer word met die Ringskommissies oor hoekom hulle wil skuif, en aansoek word by die Kategoriale Ring ingedien. Die Moderamen gee dan goedkeuring nadat alle prosesse in plek gestel is. Die volgende Moderamenvergadering is op 25 Augustus 2025, daarna eers weer later in die jaar op 24 November. Kerkrade wat deel wil vorm van die Ring moet voor 25 Augustus hulle prosesse in plek hê. Vir gemeentes buite die Vrystaat moet Artikel 32 gevolg word om eers van Sinode te skuif en daarna by die Ring in te skakel.
Omdat die Kategoriale Ring op teologiese gronde berus, is dit belangrik dat die gemeentes wat so ’n skuif oorweeg op dieselfde bladsy is met die teologiese inhoud van ons gespreksraamwerk. Dit is ’n gespreksdokument en is nog nie afgehandel nie. Bykomende gemeentes sal deel vorm van die formulering van die inhoud van die dokument.
Die Ring wil poog om gelowiges opnuut op te roep tot die belangrikste boodskap van alle tye. Glo in Jesus Christus as die enigste weg tot die Vader en jou eie persoonlike saligheid en leef deur sy Gees. Mag hierdie getuienis die wêreld rondom ons bereik en ongelowiges tot bekering bring.
Die Ring roep ook die Kerk terug na haar roeping en roep haar op tot bekering oor vorige nie-Skriftelike besluite, sodat ons deur die volle waarheid van die Skrif gevorm sal word en besluite sal neem.
Vir navrae, kontak
- Ds Ulrich Ohlhoff (081 436 7488) – Voorsitter
- Ds Joe Müller (082 337 6442) – Skriba
*Die gespreksdokument is op aanvraag beskikbaar.

