Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Suidoos-Bloemfontein

Deur Mariëtte Odendaal

Ondersteun bedieningsopleiding en barmhartigheid

“Die fondse wat hiermee ge-in word, word volledig gebruik om met die verligting van die nood van  mense in die dorp te help. Die gemeente is self in ’n oorlewingstryd gewikkel en hierdie projek help om die druk op die gemeentebegroting aansienlik te verlig.“

Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ’n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ’n sinodale bediening gelewer moes word. 

“Wat die Ring van Suidoos-Bloemfontein betref, is daar by die sinodale bedieninge Bedieningsbegeleiding, Diens van Barmhartigheid en Vennote in Getuienis ingeskakel,” vertel ds Charles James, skriba van die Ring van Suidoos-Bloemfontein. Hulle ring ondersteun bedieningsopleiding en ’n barmhartigheidsprojek. Ons het meer gaan uitvind.

Charles, vertel ons meer van die bedieningsopleiding wat deur julle ring ondersteun word.

“Graag. Ons het die opleiding van dr Elrika Senekal van der Berg, lidmaat van die NG Gemeente Pellissier, as diensleraar ondersteun.

“Dié ringsfonds het dit vir haar moontlik gemaak om die baan as diensleraar te voltooi. Na haar legitimasie is sy in die pos van spanleier vir die sentrale streek van die Bybelgenootskap aangestel en is sy deur die NG Gemeente Pellissier beroep met opdrag Bybelgenootskap.

“Ons het ook dié fonds aangewend om Andreas Nieuwoudt se opleiding in pastoraat en prediking by die Hugenote Kollege as bedienaar te subsidieer asook sy bedienaarsbaan by die kuratorium van die NG Kerk Vrystaat.

“Andreas is deel van die NG Gemeente Ooshoek en die NG Gemeente Pellissier se Handevat-projek, die Meervoudige Standplaasbedienings-inisiatief. Andreas dien ook as ouderling op Pellissier se kerkraad en bedien saam met ds Pikkie Maritz by Ooshoek.“

Julle ondersteun ook ’n paar projekte. Vertel meer van Ds Fanie se Winkel.

“Dit was ’n groot skok vir ons om van ds Fanie Spamer se skielike heengaan te hoor. Hy was baie entoesiasties oor hul gemeenteprojek en het ’n maand voor sy dood as volg daaroor verslag gelewer:

“Die NG Gemeente Reddersburg het bykans twee jaar gelede, onder leiding van die barmhartigheidsbediening, met ’n tweedehandse klerewinkel begin. Klere, linne, gordyne en kombuisware word teen baie lae pryse verkoop. Die fondse wat hiermee ge-in word, word volledig gebruik om met die verligting van die nood van  mense in die dorp te help. Die gemeente is self in ’n oorlewingstryd gewikkel en hierdie projek help om die druk op die gemeentebegroting aansienlik te verlig.

“Met die fondse wat ons van die ring ontvang het, kon ons die winkelruimte meer prakties inrig. Tien staaltafels (teen R1 400 elk) is aangekoop waarop die klere permanent uitgepak kan word.

“Die projek, onder leiding van 12 dinamiese vroue uit die gemeente, groei geweldig en voorsien in die hele gemeenskap se behoeftes aan goeie gebruikte klere. Verkopings word een keer per week op ’n Woensdagoggend van halftien tot elfuur gehou. Die winkel is ook elke eerste Sondag van die maand ná die erediens oop.

“Hierdie projek bied ’n wonderlike geleentheid aan ons lidmate om eienaarskap te neem vir die gemeente en ook om oor grense heen saam te kom terwyl daar terselfdertyd kosbare verhoudings gebou word.

“Die projek is geheel en al afhanklik van skenkings van lidmate en ook van mense wat van die projek te hore kom.

“In die kort periode wat die projek aan die gang is, was daar nog nooit ’n tekort aan voorraad nie. Elke week is daar oorgenoeg! Die Here is goed vir ons en ons eer Hom daarvoor!”

Die Vrydag voor ds Fanie se begrafnis het die gemeente die winkel ’n amptelike naam gegee: Ds Fanie se winkel.

Charles, julle het ook gaan aanklop by Igrow Recovery vir verslaafdes. Vertel meer.

“Die groot toename in verskeie soorte verslawings en die geweldige impak wat dit op die verslaafde asook soveel mense rondom daardie persoon het, het ons ring laat besluit om van die Ringsfonds beskikbaar te stel vir die vestiging van ’n Igrow Recovery-ondersteuningsgroep in ons ring.

“IGrow is ’n bedieningsgroep wat hoop en ondersteuning bied aan persone wat sukkel met afhanklikheid, asook hul gesinne of geliefdes wat direk daardeur geraak word. Die primêre fokus is nie net op die rehabilitasie van verslawing nie, maar ook die aanleer van vaardighede in die herstelproses van verslawing.

“Waar nodig, bied hierdie geleentheid ook toegang tot verdere programme en ’n multi-dissiplinêre span. Vennote is onder andere Bloemcare, Aurora, CAD en die Kairos Restoration Centre.

“Die groep kom weekliks bymekaar en 25 mense skakel tans in. Mense wat met enige soort verslawing worstel, kan op Woensdagaande  by die groep inskakel. Kontak Renier Gouws by 072 011 6225 vir meer inligting.“

Ringsontbyt en ringskonferensie

“Ons wou ook weer ’n slag ons ringsleraars opgewonde kry oor die funksie en werksaamhede van ons ring, asook ’n geleentheid skep sodat ons mekaar beter kan leer ken; iets wat van kardinale belang is. Danksy die Ringsfonds kon al ons ringsleraars toe saam ontbyt geniet en lekker saamkuier.

“Van die fondse is toe ook gebruik om ’n een-dag-ringskonferensie op 12 April vanjaar by BeHuman te hou. Dit was ’n baie geseënde dag.“

Kontak

Kontak ds Charles by charlesjames@vodamail.co.za vir meer inligting.

 | verskaf: Ds Fanie se Winkel.

116 | Maatskaplike NOODLYN