Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

My God is hier!

1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.

9 Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!”

JESAJA 40:1, 9 (AFR83)

In een van die museums in Londen tref ‘n mens ‘n baie interessante kaart agter verseëlde glas aan. Die vergeelde datering daarop is 1525. Die kaart bestaan uit ‘n primitiewe voorstelling van die oseaan. Die kartograaf, of dalk iemand ná hom, het dit goedgedink om op bepaalde plekke op die kaart, soos die gebruik was om by onbekende plekke te doen, waarskuwings in te skryf, in Latyn: “Hic sunt dracones” –   “Here be dragons”,  “Hier is drake”!

Wat die kaart egter nog merkwaardiger maak, is die feit dat ‘n ander Britse ontdekkingsreisiger, Sir John Franklin, dit in die vroeë 1800’s gebruik – of ten minste onder oë moes gehad het. Hy het nie net die waarskuwings van sy voorganger met dik hale doodgetrek nie, maar in groot letters dwarsoor die hele kaart geskryf: “HIER IS GOD.” Ook by die onbekende plekke, daar is God!

Wanneer Jesaja in hoofstuk 40 met die volk praat, dan is Israel in ballingskap. Hulle is mense wat beleef het dat God se stem stil geword het, dat God hulle verlaat het. En dit is dan in hierdie moedelose situasie waarin die volk verkeer, in hierdie “God-lose” wêreld, in hierdie onseker tyd in hulle lewe wat die aankondiging kom: “Die uitkoms is hier!” (vers 1), wat beteken: God self is hier. “Sê vir die stede van Juda: Julle God is hier!” (vers 9).  God self is teenwoordig in hulle onseker tye.

Ja, die toekoms is onbekend. Voor ons lê ongekarteerde landskappe, onontdekte oseane en kontinente. Die drake en kontinente het by ons ander name: My eindeksamen, keuring, of werk, my kinders, my gesondheid, die toestande in ons land, ensovoorts. Daar is baie dinge wat ons bang en bekommerd maak. Daar skuil waarskynlik drake om elke hoek en draai. Groot uitdagings met laagtepunte, hoogtepunte, vreugdes en bekommernisse en baie ander … elkeen het sy/haar eie uitdagings.

Die aankondiging van Jesaja aan Israel van ouds is ook vir ons bedoel. Die uitkoms is hier! God self is hier. Julle God is hier! Hy is teenwoordig!

Daarom kan ons maar ons penne uithaal en in groot letters oor alles wat ons bang en bekommerd maak, skryf: MY GOD IS HIER!

116 | Maatskaplike NOODLYN