Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.
JESAJA 60:1 (AFR83)
Lig het ’n belangrike plek in ons lewe. Die lig van die son is lewe-gewend. Die son gee energie, laat groei, maak warm, maak dat ons kan sien en nog vele meer. Wanneer die son ondergaan, word dit donker. Ons was gewoond daaraan om, wanneer dit donker word, net ’n skakelaar te druk en dan was daar lig. Nou, met beurtkrag, is dit anders. Ons moet allerhande planne maak om die donker van die nag te verdryf. Met sonpanele, batterybanke, kragopwekkers en LED-ligte oorkom ons die probleem van nie kan sien nie. Jy weet ook hoe handig jou selfoon se liggie is wanneer die donker jou onkant betrap.
Ons het weer bewus geraak van ons afhanklikheid van lig. Veral van die bron van lig. Ons het in ons lewe van elke dag lig nodig. God se lig. Meer nog, God is die lig vir die wêreld. En dan daarmee saam die oproep: Laat skyn die lig. Laat skyn God se lig in die wêreld. En dit is waaroor Jesaja 60 vers 1 en verder handel: “Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.”
Israel self is nie die oorsprong van die lig nie. Hulle het die lig ontvang en hulle skyn in die donker wêreld. Die gelowiges weerkaats die lig wat hulle van Jesus ontvang het, in die wêreld.
Waar en hoe gebeur dit?
Dit gebeur in die daaglikse lewe van elke gelowige en gesamentlik as gemeente, as kerk. Ek fokus meer op die roeping van die gemeente, as kerk om die lig uit te straal. Ons is hier met ’n doel geplaas: Die doel gaan nie oor onsself nie, maar om hier in God se wêreld, in sy Koninkryk, ’n verskil vir Hom te maak. Om Sy lig hier te laat skyn!
Hoe lyk ‘n gemeente waardeur God se lig na die wêreld straal? Enkele opmerkings hieroor:
- Die gemeente is ‘n gemeenskap van gelowiges wat gereeld saamkom om God te aanbid, om in lofprysing liedere te sing, voor Hom te buig in aanbidding, saam te lees en te luister na sy Woord. Om gereeld die eredienste by te woon, is ’n getuienis dat ons Jesus se lig ontvang het.
- ‘n Gemeente waar die lede nie net vir hulself lewe nie, maar ook daar is vir mekaar en om in die gemeenskap waarin hulle is, ’n verskil te maak.
- Die gemeente weet almal het verskillende gawes. Gelowiges is nie duplikate van mekaar nie. Ons het elkeen die ruimte om God se lig te weerkaats op maniere wat by ons pas.
- Ons hou mekaar verantwoordelik. Die kerk kan nie ‘n nuwe gemeenskap wees as ons mekaar nie help om nuut te leef nie.
- ‘n Gemeente wat in God se lig lewe, is ‘n gemeenskap van hoop. Ons word nie deur hooploosheid of duisternis gekenmerk nie, maar deur hoop. Die lewende hoop wat daar in Jesus Christus is.
Breekbaar
Natuurlik faal ons baie kere as ligdraers. Baie keer laat val ons die gloeilamp van getuienis. Dit is nie die einde nie. God vertrou ons met die lig. By wyse van spreke: ‘n Breekbare gloeilampie soos jy, dis waardeur Jesus die lig vir die wêreld wil laat skyn. Jou werk is nog nie klaar nie. Die NG Kerk Vrystaat se opdrag word beskryf met die woorde: “Lig in duisternis, hier vir God, mekaar en die wêreld”. Ons werk is nog nie klaar nie.