Deur Mariëtte Odendaal
Gee aandag aan die emosionele en geestelike welstand van ringsleraars
“Die wegbreek het aan ons nie net ’n geleentheid van rus gebied nie, maar ook ’n geleentheid waarin ons mekaar kon herinner aan ons roeping ten spyte van die uitdagings van die NG Kerk in die breë, asook die uitdagings wat ons in ons onderskeie dorpe beleef.”
Ds Hannes van Deventer
Ringskriba: Harrismith
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elk van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die voorwaarde was dat die projekte in samewerking met ’n sinodale bediening onderneem moes word.
In die geval van die Ring van Harrismith het hulle by die sinodale bediening vir Bedieningsbegeleiding ingeskakel. Ons het meer gaan uitvind by hul ringskriba, ds Hannes van Deventer, oor hoe die ring hierdie fonds aangewend het.
Hannes, vertel meer van julle ring.
“Ja, graag. Die Ring van Harrismith is geleë in die Oos-Vrystaat. Aan die heel suidelikste punt van ons ring is Harrismith geleë en aan die heel noordelikste punt, Villiers. Hierdie twee dorpe is ongeveer 154 km uitmekaar, met die oos- en wes-punte 138 km uitmekaar.
“Ons ring bestaan uit tien gemeentes en funksioneer as gevolg van die groot afstande dus redelik onafhanklik van mekaar.”
Dit kan natuurlik veroorsaak dat ’n mens maklik geïsoleerd voel. Wat doen julle ring om dit te vermy en as kollegas mekaar te ondersteun?
“Ons ring het ’n besluit geneem dat ons een maal per jaar as leraars van ons gemeentes vir ’n paar dae sal wegbreek en in mekaar se emosionele en geestelike welstand sal belê.
“Dit was om hierdie rede dat ons ring besluit het om van die Gemeente-ondersteunings- en Uitbreidingsfonds (GOUF) gebruik te maak om in 2024 vir drie dae as leraars na die ATKV Drakensville weg te breek.”
Vertel meer oor die waarde wat hierdie geleentheid tot die emosionele en geestelike welstand van die ringsleraars bygedra het.
“Tydens hierdie wegbreekgeleentheid het ds Elize Klut in die rol as predikanteversorger aan ons ’n paar sessies aangebied. Dit is ingelei met Skriflesing, sang en gebed waarna Elize, aan die hand van die gedeelte wat ons gelees het, ons begelei het in ons roepingsbewustheid, emosionele en geestelike welstand.
“Dit het ons net weer bewus gemaak van die belangrikheid daarvan om as predikante aandag aan ons emosies te gee en dat ons dit nie moet ignoreer nie. Ons het ’n groot emosionele lading wat ons moet dra; iets waarmee die Here ons help en lei en waaraan ons baie aandag moet gee.
“Dit het aan ons nie net ’n geleentheid van rus gebied nie, maar ook ’n geleentheid waarin ons mekaar kon herinner aan ons roeping – ten spyte van die uitdagings van die NG Kerk in die breë, asook die uitdagings wat ons in ons onderskeie dorpe beleef.
“Tydens hierdie drie dae kon ons as predikante mekaar beter leer ken en meer van mekaar se persoonlike lewens te wete kom, asook wat in ons gemeentes aan die gang is.
“Ons het ook die geleentheid gekry om te gesels oor die Buitengewone Sinodesitting wat op 3 Oktober 2024 plaasgevind het; iets wat broodnodig was.
“Vir gemeentes en predikante wat hoofsaaklik self hul eie uitdagings in hul gemeentes moet hanteer, was dit ’n wonderlike geleentheid om te besef dat ons nie alleen is nie en dat ons mekaar kan ondersteun, al is dit net om ’n vinnige oproep na ’n kollega te maak.
“Ons het hierdie wegbreek uiters waardevol ervaar. Ons is daar innerlik opgebou en versterk.”
Hannes, watter voordele het dié ringsprojek vir julle as ring ingehou?
“Dit het beslis ’n groot positiewe invloed op ons onderlinge verhoudinge gehad.
“Dit het ook aan ons die geleentheid gegee om as kollegas ons uitdagings en drome vir die toekoms met mekaar te deel.
“Nog ’n baie groot voordeel was dat ons bedien is in plaas daarvan om ander te bedien; ons kon behoorlik rus.
“Aangesien ons as ring meestal onafhanklik van mekaar funksioneer, kan dit ons werk as leraars baie geïsoleerd maak. Tydens dié wegbreek kon ons mekaar daaraan herinner dat ons daar is vir mekaar – dat ons mekaar kan ondersteun en ook ná ‘n uitdagende jaar saam kan rus.
“Danksy die GOUF-bedrag kon ons na ’n ander plek as gewoonlik gaan en kon ons ook ’n gasspreker bekostig; iets wat ons sinode beslis moet bly ondersteun.”
Kontak
Hannes van Deventer by 81 393 4905 of by dominee75@gmail.com vir meer inligting.
