Deur Mariëtte Odendaal
Ons leier met ’n toegewyde hart vir die Vrystaat en die NG Kerk
In hierdie uitdagende tye is die rol van ons kerkleiers belangriker as ooit tevore. Hulle wys die weg na ‘n hoër roeping aan – ‘n lewe van hoop, liefde en onwrikbare geloof in ‘n wêreld wat smag na rigting en stabiliteit. Hulle is ons geestelike gidse wat help om ‘n pad van integriteit, geloof en deernis te baan.
In die NG Kerk is ons gelukkig om ds Jan Lubbe as moderator van beide die NG Kerk Sinode Vrystaat en ons Algemene Sinode te hê; iemand wat deur al bogenoemde eienskappe gekenmerk word, aldus die mense wat daagliks met hom saamwerk.
Dit is dus met groot dankbaarheid dat ons hom met sy sestigste verjaarsdag gelukwens.
Wense uit die kantoor van die Algemene Sinode
Dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk, laat weet: “’n Boodskap van opregte gelukwense en seënbede aan ds Jan Lubbe met sy 60ste verjaarsdag.
“Uit die kantoor van die Algemene Sinode bid ons na aanleiding van Numeri 6:24-26 dat die Here sy goedheid oor Jan sal gebied. Ons bid vir God se beskerming, dat Hy met deernis na Jan sal kyk, ag sal slaan op sy gebede, en dat Hy Jan met diep innerlike vrede sal seën.
“Ons waardering vir Jan se menswees lê in sy opregte, pastorale hart. Ons sien die vrug van die Gees in sy lewe. Ons sonder Jan se goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing uit. Die Here het Jan as ‘n geskenk aan ons gegee en ons wens hom net die mooiste toe vir sy nuwe lewensjaar.”
Dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk
Wense uit die kantoor van die NG Kerk Vrystaat
Dr Johan Nel, bestuurder van die seminarium van die NG Kerk Vrystaat se kuratorium, laat weet: “Ek en Jan loop al ’n lang pad van ongeveer twintig jaar saam. Ek het hom leer ken toe ek nog voltyds predikant was van die Hervormde Gemeente Langenhovenpark. Dit het my toe al opgeval hoe ’n toegewyde predikant hy was; ons het mekaar dikwels laataand na-ure by hospitaalbesoeke raakgeloop.
“Ses jaar gelede het ons nouer met mekaar begin saamwerk nadat ek by die seminarium aangestel is met Jan as voorsitter van die kuratorium. Ek het ontsettend baie by hom geleer oor hoe ’n mens ’n teologiestudent begelei om uiteindelik gereed, afgerond en gevormd die bediening te betree.
“Wat vir my uitstaan van Jan, is sy geloof in mense en ook sy deursettingsvermoë. Ons het byvoorbeeld soms ’n uitdaging met ’n student, dan is Jan die een wat vir ons sê: ‘Gee kans; hierdie persoon gaan nog ontwikkel.’ En dan kom daar ’n verandering in daardie student wat niemand sien kom het nie, maar dan het Jan in daardie persoon bly glo. Elke student tel vir hom. Hy sal alles vir hulle doen ter ondersteuning van hul uitdagings en elkeen op meriete oordeel.
“Ek sien dit ook nou in sy leierskap as moderator – hy sien kans vir nog ’n gesprek; nog ’n geleentheid om te herbesoek, weer te besin, om onvermoeid te kyk hoe ons mekaar kan vind. Hy gee nie op nie.
“Hy is baie begaafd en veelsydig – ook baie deeglik; feite word geverifieer en foute glip nie deur nie. Mense verwag soms te veel van hom, maar hy sal alles in sy vermoë doen om iets te laat werk; dikwels ten koste van homself.
“Jan, ons waardeer jou deernis en ware omgee, jou toewyding en deursettingsvermoë. Dis wonderlik om saam met jou te werk. Mag die Here jou leierskap in alle opsigte seën.”
Dr Johan Nel, bestuurder van die seminarium van die NG Kerk Vrystaat se kuratorium
Dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis, laat weet: “Beste Jan, baie geluk met jou verjaarsdag; jy het ‘n groot mylpaal in ouderdom bereik. Ek wil ook vir jou leierskap in die kerk baie dankie sê. In hierdie uitdagende tye met komplekse kwessies wat opgelos moet word, bly jy altyd kalm en gefokus. Jy het die vermoë om beide die groter prentjie te sien en aandag te gee aan die detail. Dit is ‘n besondere balans wat jy handhaaf. Ek waardeer dit opreg. Dankie vir jou leiding gedurende hierdie moeilike tyd. Jy bring duidelikheid en vertroue na elke gesprek.
“Ons bid vir jou ‘n geseënde jaar toe – vir jou, Hanneke, en julle gesin. Mag die Here vir jou nuwe geleenthede gee, en kosbare tye van saamwees tussen al jou verantwoordelikhede. Ons waardeer wat jy vir die kerk doen, en is dankbaar dat jy altyd jou tyd en energie insit. Dankie ook aan Hanneke – dat sy jou met ons deel.”
Dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis
Ds De la Harpe le Roux, uitvoerende amptenaar van Diens van Barmhartigheid, laat weet: “Aan my vriend, my kollega, my leier. Ek eer jou vir jou toewyding aan die Kerk van die Here, die mense van die Kerk, en die Here van die Kerk. 1 Korintiërs 15:58 kom by my op: ‘… geen inspanning in diens van die Here is tevergeefs nie’.
“Mag jy aanhou beleef dat dit die Here self is wat deur, in en met jou werk, Jan. Baie seën op hierdie mylpaal wat jy bereik het. En mag jy aanhou wandel in die Here se genade.”
Ds De la Harpe le Roux, uitvoerende amptenaar van Diens van Barmhartigheid
Dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding en skriba van die Moderamen, laat weet: “Ek wonder of Jan al ooit regtig kwaad geword het. Hy straal ‘n kalmte uit wat indrukwekkend is. Dit maak hom die ideale persoon om in hierdie uitdagende tyd moderator van beide die Vrystaat en die Algemene Sinode te wees. Dis beslis nie ‘n maklike tyd nie; hy het in ‘n buitengewoon moeilike fase van die kerk se leierskap as moderator oorgeneem.
“Ek het nog altyd sy kalmte en leierskap baie waardeer, maar terselfdertyd het ek ook simpatie met hom, want die verantwoordelikheid wat hy dra, is baie veeleisend. Hoe hy ook al na die beste van sy vermoë optree en wat hy ook al sê, iemand sal altyd ontevrede wees, maar te midde daarvan sal hy kalm bly. Jan bly ‘n beginselvaste mens wat presies weet waar hy staan. Hy het die vermoë om vergaderings rustig te lei en dit tot by ‘n sinvolle punt te bring.”
Dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding en skriba van die Moderamen
Die Here seën jou, en bewaar jou
Skyn Sy aangesig vir jou,
mag Hy genade bewys
Die Here draai Sy, gesig na jou
Mag Hy jou vrede gee
Mag Sy guns rus, oor jou lewe
En ’n duisend generasies
Jou familie, en jou kinders
En hul kinders, en hul kinders
Mag Sy vrede jou vooruitgaan
agter jou staan, en langs jou staan
Dit omring jou, Hy is in jou
Hy is met jou, Hy is met jou
In die oggend, in die aande
In jou doen, en jou late
In jou hartseer, in jou vreugde
Hy is vir jou, Hy is vir jou
Luister gerus na die lied Die Seën soos vertolk deur Riana Nel en Retief Burger.
Adriaan de Ruiter, hoof- uitvoerende amptenaar van Ondersteuning
| verskaf deur ds Jan Lubbe: Groepfoto
Kontak
Ds Jan Lubbe kan gekontak word by:
janlubbe1964@gmail.com