Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Gaan die Vrystaatse Sinode die Algemene Sinode verlaat?

Gaan die Vrystaatse Sinode die Algemene Sinode verlaat? Moet ons die bande verbreek? Dis die vrae wat vroeër hierdie week indringend bespreek is. Dr Leon M Foot gee sy indrukke:

Tydens die sinodesitting in Maart vanjaar was daar voorstelle dat die Vrystaat volgens Artikel 37 van die Kerkorde ons bande met die Algemene Sinode moes verbreek. Die vergadering het op die ou end besluit om drie studiegroepe aan te wys en om dan die kwessie te bespreek by streeksbyeenkomste, voordat ons volgende jaar ʼn buitengewone sinodesitting hou om ʼn besluit oor die saak te neem.

Drie streekskonferensies is gehou: Twee en tagtig mense was in Kroonstad, 111 in Bloemfontein en 64 in Bethlehem. Die besorgde gemeentes het hulle saak in detail voorgelê. In kort is hulle ontevrede omdat die AS, volgens hulle, onwettige besluite geneem het oor onder andere die bose, en selfdegeslagverbintenisse (SGV). Dit sou wees omdat sodanige besluite, volgens hulle, ruimte skep waarvoor die Woord, die belydenis of Kerkorde nie ruimte laat nie.

Hulle vra vir ʼn “welwillende weg” om dit vir besorgde gemeentes moontlik te maak om nog deel van die NG Kerk te bly, maar nie meer deel van die AS hoef te wees nie. Hulle voorstel vra dat die Vrystaat tydelik onttrek op grond van Artikel 37 en in twee (streek)sinodes verdeel. Gemeentes kry dan tyd om te kies by watter sinode hulle wil inskakel. Die een sinode kan dan weer aansluit by die AS, terwyl die ander sinode voortgaan los van die AS as “vrygemaakte” NG Kerk. Die besorgdes vra vir ʼn “exit with grace”.

Die Taakspan Kerkorde het hulle verstaan van die Artikel 37-proses verduidelik. Omdat daar in die sestig jaar van die AS se bestaan nog nooit so ʼn proses was nie, is daar baie onsekerheid oor hoe so ʼn proses moet verloop en wat al die praktiese uitdagings gaan wees. Hoe word besluite byv hieroor geneem? Is ʼn gewone meerderheid genoeg, of is ʼn twee-derde meerderheid nodig?

Ten grondslag van baie van die verskille in die kerk, lê Skrifhantering. In die aanbieding van die studiegroep hieroor, is aangetoon dat daar al sedert ʼn eeu gelede ten minste twee uitgangspunte hieroor is. Skrifverstaan lê op ʼn spektrum van aan die eenkant mense wat ʼn objektiewe waarheid uit die Skrif wil ontsluit, tot hulle aan die verste ander punt wat van die grensdrade van die belydenis niks wil weet nie. Almal hou vas aan die gesag van God se Woord, en iewers tussen hierdie pole bevind alle Christene hulself.

Uit die besprekings was dit duidelik dat sommige ernstige wantroue teenoor die AS koester: Hulle verwar ons, ek vertrou nie meer die AS nie, hulle probeer in pas wees met die WRK se program, ons word nie gehoor nie, ons ervaar vervreemding, die AS moet net vir die gays sê om hulle te bekeer. Ook onder diegene wat meer positief voel oor die AS was daar kommer uitgespreek: Dalk is die AS se ruim huis te ruim en moet ons aan die sykant dalk kamers afbreek.

Daar was ook baie stemme wat opgegaan het vir ʼn behoud van die bande: Ons het mekaar nie gekies nie – Christus het, sal ʼn onttrekking tot eer van God wees, wil ons werklik ruimte skep vir mede-gelowiges om die verband te verlaat, God haat egskeidings. Sommige het dit selfs sterker gestel: Ek beleef dat jy wil my nie meer vashou nie, ek beleef dat ons gedreig word.

Terugskouend was daar ʼn aantal momente wat waarskynlik die proses vorentoe gehelp het.

  • Die Vrystaat het nog nie met die AS in gesprek getree oor die 2019-besluit nie.
  • Ons kom uit ʼn era toe die NG Kerk klem gelê het op eendersheid. Gaan dit nie eerder om ons eenheid in Christus nie?
  • As ons op grond van Artikel 37 uit die verband tree, beteken dit ons moet mekaar in die oë kyk en sê: Jy is nie meer ware kerk nie. Is dit werklik wat ons wil doen?
  • Ons is nie net twee groepe nie – waarskynlik eerder drie: Daar is diegene wat teen SGV is en Artikel 37 wil toepas, daar is diegene wat teen SGV is, maar nie Artikel 37 wil toepas nie, en dan is daar diegene wat vir SGV is en derhalwe ook nie Artikel 37 wil toepas nie.

Die bejaarde dr Talbot Sadler (ʼn voormalige skriba van die sinode) het in Kroonstad gesê: “Die Bybel ken net een kerk – hoe meer verdeeldheid, hoe groter die ongeloof in die wêreld.”

Mag ons God vir ons wysheid gee op die pad vorentoe.

Leon M Foot


Hierdie is ‘n opiniestuk. Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van NG Kerk Vrystaat nie.