Die afgelope tyd gaan daar heelwat stemme op wat vra na die rol van die kerk, of die kerk se stem binne die geo-politieke moeras waarin ons land haarself bevind. Media- voorblaaie word oorheers met berigte van die kragkrisis tot die hospitaalwerker-stakings tot dienslewering-betogings by Ventersburg.
Die term moeras is dan dalk ’n baie gepaste term.
’n Moeras is ’n geografies baie moeilike terrein om te navigeer en ook moet jou toerusting redelik aangepas wees vir die omstandighede. Dis maklik om langs ’n moeras te staan, maar ’n heel ander prentjie om daarin te beweeg. Dis dalk presies hier waar die kerk en baie van die “civil society” of die burgerlike samelewing in Suid Afrika hulle tans bevind. Die vraag is dalk by baie: Betree jy die moeras of staan jy eerder op die kant?
Die realiteit van ons land is dat die land nie meer op die kant staan nie. Die land is in die moeras wat eintlik in effek beteken dat ons, die kerk en “civil society” of die burgerlike samelewing, klaar deel is van die moeras. Dit mag dalk eerder ’n geval wees van of ons navigeer of ons word verswelg. Die roeping van die kerk is duidelik deur die eeue om nie verswelg te word nie, maar om juis te navigeer en ook ander te help navigeer. Om ander toerusting te skep waarmee jy beter kan beweeg en beter kan navigeer.
Hierdie week skryf een van ons oud-ministers, Mcebisi Jonas, ’n ope brief (2 Maart 2023) aan die biskoppe van die Anglikaanse Kerk in Suider-Afrika. Hy vra juis na die stem van die kerk maar gaan ook verder en maak konkrete voorstelle vir verbetering. Sy voorstelle is navigering-gerig en wil help om beter toerusting daar te stel. Dit is ’n stem. Dit is eintlik nie net ‘n brief vir die Biskoppe nie. Dit is ‘n brief aan elke lidmaat en kerkraad en skool en munisipaliteit en vakbondlid. ’n Brief aan jou en my.
Dit is nie die eerste brief nie. Dit is ook nie die eerste stem nie. Hierdie week het die ASM ’n verklaring (Kerkbode Aktueel, 3 Maart 2023) uitgereik wat ook die konkrete realiteite van ons land aanspreek. Tussen Kersfees en Nuwejaar het ons in eie geledere ook gereageer op die lelike gesig van rassisme wat ook ‘n bydrae maak tot die moeras-omstandighede in ons land.
Briewe en verklarings help ons navigeer. Dit is stemme. Doel-geboude toerusting help ons beweeg. Die stem van die kerk is daar. Dalk is dit nou tyd om hand aan die ploeg te slaan en toerusting te skep waarmee ons in die moeras kan beweeg. Die bou van toerusting lê nie eintlik by Biskoppe en Moderature nie. Dis gewone mense wat op grondvlak toerusting bou wat werk in hulle konteks. Wat se toerusting is nodig in Vrede, Harrismith, Bethulie en Jacobsdal? Mcebisi Jonas raak prakties en maak vyf konkrete voorstelle. Daar is egter meer. Watter planne het gemeentes en lidmate vir hulle dorpe en woonbuurte? Dalk is die vraag “hoe kan ek/ons help?” nou meer nodig as ooit.