Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die invloed van ’n moeder op haar nageslag

Deur Mariëtte Odendaal

Hier gaan dit oor die pyn en onverwerkte trauma wat volgens navorsing outomaties oorgedra word van ’n vorige na ’n volgende geslag. Generatiewe pakkies van pyn word dus van geslag na geslag oorgedra indien die verwonde ouers nie die toerusting ontvang het om hul trauma mee te verwerk nie.

Prof Wentzel Coetzer

Wanneer ’n baba gebore word, het die ouers van die kind alreeds nege maande agter die rug van afwagting en voorbereiding op die koms van hul baba. Die fisieke en emosionele band wat veral ’n ma in dié tyd alreeds met die kind gevorm het, duur daarna nog vir maande (selfs jare) voort met die voeding en verdere versorging waarvan die pa natuurlik ook deel kan wees.

As normaalweg die primêre versorger van ’n baba, het die ma ’n sterk bepalende en veelvlakkige invloed op haar kind, wat selfs in die volgende generasies neerslag kan vind.

Om meer hieroor uit te vind, het ons met prof Wentzel Coetzer, professor aan die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom by die Fakulteit Teologie, Departement Praktiese Teologie, asook pastorale konsultant en skrywer, gaan gesels. Hy het op 10 Februarie ’n pastorale beradingskursus via Zoom aan ons predikante aangebied oor die invloed van ’n ma op haar toekomstige generasies.

Wentzel, hoe het dit gebeur dat jy in hierdie onderwerp begin belangstel het en hoe het dit aanleiding tot die skryf van jou talle boeke gelei; dit wat die grondslag van jou Zoom-kursus was?

“Die tema van innerlike genesing en emosionele verwonding interesseer my al jare lank omdat dit so ’n wye veld dek. Hoe meer jy daarop ingaan, hoe meer ontdek jy en kring hierdie studieveld uit.

“Ek het aanvanklik ’n boek gepubliseer, naamlik Emosionele bagasie – emosionele genesing van die pyn van die verlede waarin ’n hele klompie relevante aspekte behandel word en mettertyd bly groei het. Dit beklemtoon onder andere die rol van beide die ma en pa in die emosionele en sosiale vorming van ‘n kind.

“Daarna het ek nog ’n boek, Emosioneel verwonde pa’s – Heling aan kinders wat worstel met pa-wonde, gepubliseer. Hier het ek redelik diep ingegaan op pa’s wat emosioneel verwond geraak het en met trauma worstel wat nooit hanteer is nie. In hierdie boek word daar gekyk na die impak wat sulke onverwerkte pyn reeds op pa’s as kinders gehad het.

“Aan die einde van elkeen van hierdie twee boeke verskyn ’n uitgebreide werksdokument wat deurgewerk kan word met iemand wat worstel met ma- of pa-wonde. 

“Dit het toe verder gegroei, waarna ek die boek, Getraumatiseerde en emosioneel-verwonde kinders – hoe begelei ons hulle pastoraal? geskryf het. Dit fokus op die pyn en trauma wat kinders deurgaan wat sonder begeleidende hulp die lewe moet ingaan.

“Daarna het Stukkende en moedelose jongmense – Hoe help ons hulle om weer heel te word? gevolg. Dit is meer gefokus op tieners en adolessente.

“Die boek Mense wat beroof is van hul seën – God se bouplan om dit terug te gee, het vervolgens die lig gesien. Met die skryf van hierdie boek het ek sterk geleun op die boek The Blessing deur Gary Smalley en John Trent. Trent het in sy doktorale studie gefokus op alle plekke in die Bybel waar een persoon ’n ander geseën het en waar daar telkens vyf elemente aanwesig was, soos byvoorbeeld fisieke aanraking. Smalley en Trent het dan die lyne deurgetrek na huidige situasies. Dit gaan oor volwassenes wat hul seën misgeloop het. Daar is byvoorbeeld nooit fisiek aan hulle geraak nie, nooit woorde van bemoediging oor hulle gespreek of erkenning aan hulle gegee nie. Dit gaan dus oor persone wat in ’n disfunksionele huis grootgeword het waar daar ’n stukkende ma of pa was, en die pynlike gevolge wat dit gehad het. Dit skakel direk in by die kursus wat ek op 10 Februarie aangebied het oor die impak van die moeder op toekomstige generasies.

“Daarna het ek ook ’n boek, Die vernietigende effek van verwerping, gepubliseer; iets wat almal al êrens in hul lewens in mindere of meerdere mate beleef het – dikwels as gevolg van ’n stukkende ma of pa. Dié boek het die basiese tema van my navorsing verder belig.

“Nog ’n boek wat ek geskryf het, is Gebuk onder die bagasie van vorige geslagte – Intergeneratiewe trauma. Hier gaan dit oor die pyn en onverwerkte trauma wat volgens navorsing outomaties oorgedra word van ’n vorige na ’n volgende geslag. Generatiewe pakkies van pyn word dus van geslag tot geslag oorgedra indien die verwonde ouers nie die toerusting ontvang het om hul trauma mee te verwerk nie.

“Ter voorbereiding van die kursus het ek sterk gesteun op Henry Cloud en John Townsend se boek, Our Mothers, Ourselves: How Understanding Your Mother’s Influence Can Set You on a Path to a Better Life. Hierdie boek belig die onderwerp vanuit ʼn effens ander hoek met treffende voorbeelde, toepassings en praktiese raad; ietwat anders as wat ek in bogenoemde boeke beskryf. Die wyse waarop die ma se verwonding haar moederlike vaardighede direk negatief beïnvloed, kom sterk na vore in hierdie publikasie.”

 

Wat is tot dusver die belangrikste aspekte van positiewe moederskap op ’n kind se ontwikkeling wat volgens jou navorsing telkens na vore kom? Dalk kan jy hier wenke gee vir jong ma’s?

“Voornemende ma’s en selfs vroue wat alreeds ma’s is, kan gerus na hierdie twee dokumente gaan kyk, naamlik Dogters en hul ma’s – bindingsteorie en Wat kinders by hul ma leer.”

 

Is daar hoop vir kinders wat ’n baie negatiewe ervaring van hul ma gehad het?

“Ja, beslis. Kyk gerus na die volgende inligting, naamlik Samevattende en pastorale praktiese perspektiewe: Praktiese riglyne onderweg na heling en Om erkenning te gee aan pynlike gevoelens.

“Bogenoemde dokumente bevat praktiese riglyne ten opsigte van die proses van heling van diegene wat seergekry het in hul verhoudings met hul ma’s.

“Dit gee ook riglyne oor die rol wat die Kerk in hierdie verband kan speel, aangesien dit veral gaan om pastorale begeleiding binne die konteks van die Kerk, veral wat betref gesonde rolmodelle van byvoorbeeld geestelik- en emosioneel-gebalanseerde substituut-ma’s wat as rolmodelle kan funksioneer en sodoende ook kan kompenseer vir die hartseer en pyn van die slagoffers se verlede.”

 

Wie sou jy uitsonder as kundiges oor hierdie onderwerp by wie jy gereeld gaan kers opsteek?

“Ek vind baie aanklank by die werk van die psigiater L Brizendine se The female brain wat verduidelik waarom ’n vrou maklik kan seerkry en wat die gevolge daarvan op haar kinders is.

Becoming a family that heals is geskryf deur Beverly en Tom Rogers, beide met doktorsgrade in sielkunde maar ook persone wat pastoraal deeglik ingewerk en bekende internasionale sprekers is. Hulle is pastoraal baie betrokke by die American Association of Christian Counsellors waarvan ek al ’n paar konferensies bygewoon het.

“Nog insiggewende bronne is For Sons of Unloving Mothers, Confusion and Lasting Wounds deur Peg Streep, asook Susan Forward se Mothers Who Can’t Love: A Healing Guide for Daughters waarin sy verskillende kategorieë van emosioneel verwonde moeders bespreek.

“Dr David Seamands se twee treffende boeke, Healing of Memories en Healing for Damaged Emotions is ook noemenswaardig. Hy was jare lank in die sendingveld en daarna terug na die akademie. Hierdie kombinasie van praktiese ervaring en ’n goeie akademiese basis verseker uitstekende stof tot nadenke.

“Dan is Stephen Arterburn en David Stoop se Take Your Life Back ook ’n treffer en in Afrikaans beskikbaar as Neem Beheer van jou Lewe. Dit gaan oor verwonde mense wat as ontvlugting van hul pyn in verslawing vasgeval het. Dit bied ook praktiese stappe om by heling uit te kom.

“Pia Melody se Facing Codependence: What It Is, Where It Comes from, How It Sabotages Our Lives handel oor mede-afhanklikheid in disfunksionele huisgesinne waarin daar stukkende ouers is. Dit bevat ook praktiese stappe om by heling uit te kom.

“Claudia Black se It Will Never Happen to Me: Growing Up with Addiction as Youngsters, Adolescents, and Adults, is ook noemenswaardig. Haar pa was ’n alkoholis en sy het later ’n spesialis geword ten opsigte van terapie en begeleiding op die terrein van verslawing.

“Donna Jackson Nakazawa het ook ʼn treffende boek geskryf, Childhood Disrupted: How Your Biography Becomes Your Biology, and How You Can Heal. Hierin toon sy aan hoe jou liggaamlike probleme (biology) as gevolg van onverwerkte pyn en trauma in jou kinderjare (biography) ’n impak op jou liggaam het en hoe dit genees kan word.

“Verder het ek ook die artikel The Mother Wound deur CW Davis besonder insiggewend gevind.

Ander bronne van belang is Father and Mother Wounds deur R Lewis en The Mother Wound: 9 Signs You’re Experiencing It (& How to Heal) deur A Luna.

“Die webwerf Focus on the Family bied ook heelwat bruikbare stof en insiggewende perspektiewe.”

Stel jy as leser dalk belang in prof Coetzer se Zoom-aanbieding?

Hier is goeie nuus – jy kan die opname as volg bekom:

 

Kontak prof Coetzer by wentzelc@gmail.com of WhatsApp na 083 660 0409.

 

’n Oorbetaling van R300 kan dan gemaak word in die volgende rekening en die betalingsbewys aan hom ge-e-pos word:

Naam van rekening: Prof WC Coetzer

Capitec spaarrekening: 1487438425

Takkode: 470010

Potchefstroom

 

Die skakel sal dan aan jou gestuur word waar jy die kursus kan volg.

 

Die handboek is ook beskikbaar teen R250 plus R120 vir koerierdienste.

 

Vorige temas wat via Zoom aangebied is, kan teen R300 aangekoop word.

Belangrike inligting

Prof Coetzer se volgende Zoom-aanbieding, ʼn Pastoraal-holistiese benadering tot kanker, vind plaas op 21 April. Die aanbieding is veral gebaseer op ’n boek van die Christen pediatriese chirurg, dr Bernie Siegel, Love, Medicine & Miracles. Aanvullend hiertoe is ook die boek,  When the Body Says No: Exploring the Stress-Disease Connection, deur dr Gabor Maté  en waarvan ’n hoofstuk oor kanker handel. 

Prof Wentzel Coetzer

 | ʼn Pastoraal-holistiese benadering tot kanker