Deur dr Martin Laubscher | Erediens Netwerk
Dit is September, begin van die lente, en ons besing die seisoen van die skepping. Lente-lofprysings weergalm oral in gemeentes, want ons vingers is mos groen soos dit jeuk waar dit immers moet. Daar is lewe en groei, en dit stimuleer ons sintuie. Die Botaniese Tuin in ons stad is ’n lushof soos kinders baljaar en speel, want winter is verby en die somer kom. Wonderlik, ons bloed het sommer nou nog ’n ander skakering van groen (en goud, goedheid en guns) bygekry. En tog, stadig oor die klippe, want “Om hierdie wêreld as God se skepping te sien” is, volgens Ernst Conradie se nuwe boek, Kontra-intuïtief (2023, Bybel-Media), ’n Gevaarlike én verbysterende belydenis.
Een van die sterk aksente in die teks is beslis die fyn aanvoeling vir trinitariese taal in ons nadenke oor die skepping. Nóg skepping, nóg verlossing, nóg voleinding, kan of wil man-alleen sonder enige van die ander. Die kruis se Eksodus het ’n besliste Genesis, en dit dui op sowel God se toekoms as ons toekoms. God se Advent kom ons oop-en-toe openlik tegemoet. Ons bestemming is vol belofte! Gedagtig aan die gebeure van die agtste dag weet ons tog die Sabbat is voorwaar die eintlike kroon van die skepping. Genesis en Eksodus (en die nuwe stad met al die volke daarin tuis) staan langs mekaar in meer as een sin, en ons kan onsself en die res van die skepping oorgee aan die “perichoretiese” orde. Elke (boom)huis het immers sy kruis, want die kruis was tog eens ’n boom.
Skeppingsteologie en al die skynbare “wet en orde” wat dit in ons samelewings sou meebring, het al vir baie pyn en lyding deur die eeue gesorg. Versigtig Pappie, want hier is beslis meer vrae as antwoorde om mee te worstel. Die chaos (in plaas van die “wet en orde”) van die kruis is die lewensaar wat ons beslis help om uiteindelik hierdie gekruisigde skepping te kan eien vir wat dit in werklikheid is. ’n Paar keer haal Conradie vir Oepke Noordmans aan wat ons daaraan herinner dat ons die skepping eers begin (raak)sien soos dit verlig (is) by en rondom die kruis, en natuurlik ook omgekeerd. Verlossing maak ons nie blind vir ons (kleine) voete van (grote) klei waarmee ons probeer ontvlug met – of erger nog – na ’n “pie in the sky” (ontaarde) bestaan nie, maar juis vry en bevrydend om meer geanker en geaard deelnemend voete op die aarde te plant en te ontluik as ’n onderdeel van die nuwe skepping. Of, soos ’n ander refrein van Conradie deur die teks ’n paar maal opklink: “Enige verstaan van die skepping loop die gevaar om posisies van mag in die samelewing te weerspieël en te legitimeer. … Waar die magtiges en groot grondeienaars dalk die skoonheid van God se skepping raaksien, sien werkloses en haweloses net hekke en heinings wat hulle uitsluit” (7). Wie nie die verband kan sien tussen die kruis en al die ander bome daar buite nie, veral dié waaraan mense deur die eeue gelynch sou word (James Cone), moet dalk begin wonder of hulle ooit die Lig op die houtkruis sien val het.
Intuïtief wil ons spontaan uitbars met ’n loflied in hierdie dae met sy bloeisels en eerste lentereëns wat ek sweerlik al kan ruik hoe dit aankom, en tog kan dit ook nie sonder die kontra-intuïtiewe gewaarwording kom van hoe gevaarlik en verbysterend hierdie belydenis oor God se skepping in werklikheid is nie. Dit is allermins vanselfsprekend – gaan teen die grein in – en staan soos ’n paal bo water: Hierdie God van die ashoop, op elke liewe Golgota daar buite, is die almagtige Skepper van hemel en aarde.