Deur ds Riaan van Zyl, ondervoorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
“Omdat Ek lewe, sal julle ook lewe.” – Johannes 14:19
Daar is min dinge wat ’n mens so diep nodig het soos hoop. Nie oppervlakkige optimisme nie. Nie die soort hoop wat sê: “Alles sal seker maar uitwerk” nie. Maar ’n hoop wat bly staan wanneer die lewe donker word; wanneer ons nie antwoorde het nie; wanneer ons bang is; wanneer ons verlies beleef; wanneer die toekoms onseker is.
Viktor Frankl, die bekende psigiater en oorlewende van die Nazi-konsentrasiekampe, het gesê: “He who has a why to live for can bear with almost any how.”
Dit is ’n diep waarheid. ’n Mens wat weet waarom hy leef, kan dikwels deur buitengewone moeilike omstandighede volhard. Maar vanuit die perspektief van die opstanding kan ons dalk sê Frankl – en die oorspronklike gedagte wat dikwels aan Nietzsche toegeskryf word – het dit nét ’n klein bietjie verkeerd gestel.
Die opstandingsvertaling sou dalk so klink: “He who has a WHO to live for can bear with almost any how.”
Want ons grootste hoop is uiteindelik nie ’n wat nie. Dit is nie ’n doelwit, ’n droom, ’n sukses of ’n plan nie.
Ons hoop is ’n Persoon.
Jesus Christus.
Die opstanding verander alles omdat Jesus nie bloot vir ons ’n mooi filosofie of ’n beter manier van lewe kom gee het nie. Hy het die dood binnegestap – en weer uitgestap.
Daarom kon Hy sê: “Omdat Ek lewe, sal julle ook lewe.”
Dit is die hart van ons hoop.
Die Christelike geloof sê nie dat gelowiges nooit swaarkry nie. Dit sê nie dat ons altyd verstaan waarom dinge gebeur nie. Dit sê nie dat die pad maklik sal wees nie.
Maar dit sê: Jesus leef.
En omdat Hy leef, is die donkerste oomblik nie noodwendig die einde van die verhaal nie.
Daar is nog ’n aanhaling wat hierdie waarheid vir my besonder mooi verwoord:
“I am not the man I ought to be. I am not the man I wish to be. I am not the man I hope to be. But thank God, I am not the man I used to be.” (John Newton)
Dit is die hoop van die opstanding.
Ek is dalk nog nie waar ek behoort te wees nie. Ek is nog nie alles wat God wil hê ek moet wees nie. Ek struikel nog. Ek faal nog. Ek het nog baie om te leer.
Maar ek is nie meer waar ek was nie.
Die opgestane Jesus verander mense.
Hy het Petrus verander van ’n man wat Hom verloën het, in ’n man wat Hom verkondig het. Hy het Paulus verander van ’n vervolger in ’n apostel.
Hy verander steeds mense.
Die opstanding gee ons daarom hoop vir gister, vandag en môre.
Gister is daar vergifnis. Vandag is daar genade en krag. Môre is daar ’n toekoms.
Want ons hoop is nie bloot dat dinge beter sal gaan nie.
Ons hoop het ’n Naam.
Jesus.
En omdat Hy leef, kan ons leef. Omdat Hy opgestaan het, is daar altyd hoop.

