Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Ons groet julle in die Naam van ons Here Jesus Christus. Dit is vir ons ’n groot vreugde om te getuig van hoe die Here deur mense werk om te voorsien in die bediening van DEGNOS.
Beskerming teen Malaria
Soos baie van julle weet, het malaria verlede jaar ’n groot aantal lewens in ons gemeenskappe geëis. Om voorbereid te wees vir die komende reënseisoen, het Tracey aansoek gedoen by die Sinode van die Wes-Kaap se Snymanfonds om muskietnette aan te skaf.
Ons is dankbaar dat ’n bedrag van N$25,000 aan ons bewillig is. Daarby het die vervaardigers, Mozi Nets in Grootfontein, vir ons ’n verdere afslag gegee. Daardeur is dit moontlik gemaak dat ons 85 muskietnette in ontvangs kon neem.
Hierdie nette word teen ’n gesubsidieerde prys van N$100 aan die gemeenskappe beskikbaar gestel (teenoor die standaardprys van N$300). Die inkomste uit die verkope sal weer gebruik word om nóg nette aan te koop, sodat die beskerming teen malaria verder uitgebrei kan word.
Gemeente-ontwikkeling
Met groot dankbaarheid deel ons ook dat die Ferndale Foundation uit die Verenigde Koninkryk, deur die bemiddeling van Veritas College International, die werk en vervoerkoste van ds Isak Chameia en sy drywer, Jesaja, vir nog ’n jaar moontlik gemaak het. Hierdie ondersteuning gee lewe aan die kosbare bediening om die Luhebu-Noord-gemeente te begelei op hul pad na ware selfstandigheid.
Dank en getuienis
Ons loof die Here vir Sy getrouheid en vir die liggaam van Christus wat saamstaan en saamwerk. Dit is juis deur hierdie samewerking dat die Koninkryk van God sigbaar word hier in die verre Noord-ooste van Namibië. Baie dankie dat julle saam met ons bid, ondersteun en hoop bring!
Het jy geweet?
DEGNOS staan vir Diens en Getuienis Noord-ooste Streek.
Ons missie: Om die Evangelie deur Woord en daad te verkondig in die 80,000 km² Noord-oostelike blok van Namibië – met die fokus op bediening aan die San-Boesman gemeenskappe.
Besige Maandagoggend, douvoordag
Trudie van Niekerk (CEF Direkteur) is saam met ons drie jeugwerkers – Mishe Matteus (Luhebu-Noord – Mangetti Duin), Star Khubes (Wildevy – Oerwoud), en Lucia Shikunda (Luhebu – Omatako) – op pad na Suid-Afrika vir die Junior Youth Challenge Facilitators Course. Die doel met hierdie kursus is om praktiese toerusting in te win om die jeug met die Evangelie te bereik.
Hulle ry ±1800 km, slaap oor in Keetmanshoop en Olifantshoek, en sal later by Lenteland Opleidingsentrum, Vereeniging, aankom. Bid asseblief vir Trudie wat siek is en alleen bestuur en vir ons drie jong werkers wat vir die eerste keer buite ons streek én Namibië reis.
Kos en skole in die Caprivi
Riana en Isak het vertrek met kos vir die skole op Omega, Chetto en Omega 3 (1400 km retoer). Riana sal ook die onderwysers besoek, mentor en ondersteun. Bid vir ’n veilige reis en ’n geseënde tyd in die Bwabwata-gebied.
Bouwerk in Grootfontein
Ons is besig met ’n nuwe busloods vir die groot bus, die woonstelverbouing by die sentrum (Riana trek binnekort in) en die huis sal gebruik word vir Christiaan en Sonja Oosthuysen.
Wiele wat draai – kosbare drywers
Die kinders van die CEF-kamp in Otavi is gaan haal en teruggebring na Grootfontein en Tsumeb en Isak het Mishe en Lucia by Omatako en Mangetti Duin gaan haal. Ds Petrus Kaimbi is onderweg om kampmateriaal by Mkata af te laai en ’n leerder van Otjituo is opgetel. Hierdie week ry Isak meer as 2 500 km! Bid vir ons drywers wat ure op swak paaie bestee – hul diens is ook ’n roeping van die Here.
AMOS Slypskool
Riana (ons ECD-koördineerder) keer Woensdag terug uit die Caprivi en vertrek Donderdag Windhoek toe vir die AMOS Meerkatskool-slypskool vir monitors. Sy dra tans verantwoordelikheid vir 15 skooltjies, 24 onderwysers en 450 kinders. Bid vir energie en deursettingsvermoë vir haar.
DEGNOS is op vele fronte besig – van jeugopleiding en skole, tot kosverskaffing, bouwerk en lang reise. Ons glo: “Saam werk ons vir een Koning in een Koninkryk.”
DEGNOS-groete
| Verskaf deur Andries Gous

