Die afgelope meer as dertig jaar is daar ’n groep wat jaarliks na ons medegelowiges in die Zambezi-streek (voorheen bekend as die Caprivi) uitreik. Ds Dries Cronjé, leraar van die NG Kerk Viljoenskroon, is al 15 jaar deel daarvan. Ons het meer daaroor by hom gaan uitvind.
Wat is die doel van so ’n uitreik, Dries?
“Tans gaan ons daarheen met die doel om die gemeentes daar te ondersteun. Ons dra finansieel by tot die lekepredikers se lewensmiddele en besoek hulle een maal per jaar.
“In hierdie tyd doen ons gemeentebesoeke, bid saam met die lidmate, bedien die Woord, speel met die kinders, skenk Living Ball-sokkerballe en leer hulle hoe om die evangelie aan hul maats te verkondig volgens die Woordlose Boekie waarvan die kleure op die sokkerballe uitgebeeld word.”
Wie was vanjaar almal deel van jul uitreik en wat het dit behels?
“As gevolg van die Covid-pandemie was ons vanjaar vir die eerste keer ná vier jaar weer in die Zambezi-streek op besoek. Ons was ’n span van nege waarvan drie volwasse mans en een ’n vrou was wat die Woordbediening hanteer het. Die ander vyf spanlede was jongmense wat veral baie aandag aan kinderbediening gegee het.
“Tydens ons uitreik het ons met die lekepredikers geskakel en hulle met gebed bemoedig, asook na hul gemeentes se uitdagings geluister en saam help dink aan moontlike oplossings.
“Ons eie gemeente (Viljoenskroon) is by 17 gemeentetjies daar betrokke waarvan ons vanjaar 14 besoek het. Dis oor ’n baie groot area versprei en veeleisende werk. Tydens ons besoek het ons so drie gemeentes per dag besoek met die doel om hulle as ons mede-gelowiges te bemoedig.”
Wat was die hoogtepunte van vanjaar se uitreik en wat het dit vir julle beteken?
“Een van die hoogtepunte was die gulhartigheid waarmee ons ontvang is. Dit was wonderlik om ons jarelange gevestigde vriendskappe en geloofsverhoudinge weer te kon herbevestig.
“Ons ken nou al die lekepredikers en lidmate baie goed danksy verhoudinge wat oor baie jare gebou is. Van die heel eerste lekepredikers, soos die 90-jarige Samson by die Iseke-gemeente, is nog steeds daar. Hy was al daar werksaam sedert ons daar begin uitreik het.
“Hierdie uitreike beteken gewoonlik meer vir die spanlede as vir die mense na wie toe ons uitreik.
“Tydens die laaste aand van ons besoek het een van die meisies getuig dat sy gedink het sy kom om iets te gee, maar dit wat sy daar ontvang het, was baie meer werd en kosbaarder as enigiets wat sy kon gebring het.
“Een van ons ouer spanlede het die afgelope jare deur ’n moeilike tyd gegaan. Die laaste twee aande om die vuur het hy aan my vertel hoe die Here hom op hierdie uitreik gehelp het om homself weer te kon vind; dat hy die Here weer ervaar het as deel van sy lewe.
“Vir my persoonlik is dit nie net ’n voorreg om die Woord in die Zambezi-streek te gaan bedien nie, maar die verhoudings en verbintenisse wat daar tussen die gelowiges en die gemeentes ontstaan, is iets baie spesiaals.
“Ons moes groeteboodskappe van soveel mense oordra en weer hul antwoorde daarop hierheen bring.
“Dis ’n kosbare deel van ons gemeentebediening en ons is dankbaar om deel daarvan te kan wees.”
Wat was die uitdagings van julle uitreik?
“Die twee-dae-lange reis soontoe is altyd ’n uitdaging. In Namibië en Botswana is jy ver van alles af. As ’n voertuig breek, is dit moeilik om te herstel. Gelukkig het ons lanklaas teenspoed gehad.
“Vanjaar was daar net ’n kleinigheidjie wat deur vriendelike mense op Katima Mulilo herstel is; iets waaroor ons baie dankbaar is.”
Dries, hoe het dit gekom dat julle as gemeente by hierdie uitreik betrokke geraak het?
“Die Zambezi-uitreik is al jare lank deel van die NG Kerk Vrystaat se werksaamhede toe daar nog predikante in sinodale diens was vir Diens van Barmhartigheid en Sending.
“Die Vrystaat was toe betrokke by die dienswerk in die destydse Caprivi, veral rondom die hoofstad, Katima Mulilo; van die Zambezirivier weswaarts, ’n hele klompie kilometer in die rigting van Rundu. Rondom Katima Mulilo is daar ook ’n hele klompie nedersettings.
“Aanvanklik was die NG Sendingkerk daar werksaam en met die stigting van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in 1994 het die ring daar deel van die VGK geword.
“Tydens die proses van afwenteling is die werk vanaf die sendingkantoor toe verdeel tussen verskillende ringe en gemeentes. Die Ring van Vredefort het die verantwoordelikheid vir die werk in die Caprivi aanvaar.
“Die gemeentes is toe destyds ingedeel by die drie streke wat in hierdie ring was, naamlik Parys-Vredefort, Viljoenskroon-Vierfontein en die drie gemeentes in Bothaville.”
Vandag is die indeling ietwat anders en julle betrokkenheid daar het met die jare verander. Vertel meer.
“Ons is nou deel van die Ring van Valsrivier. Parys-Vredefort is nie meer deel van die werksaamhede nie, maar Viljoenskroon-Vierfontein en Bothaville is nog deel daarvan en dan het die Kroonstad-gemeentes nou bygekom wat deel is van die uitreik saam met die Bothaville-groep.
“Die Viljoenskroon-Vierfonteingroep bedien die oostelike gedeelte van die Zambezi al vir meer as dertig jaar. Ons bedien daar in samewerking met die VGK Ring van Ngwese en vergader jaarliks met die Bothaville- en Kroonstad-gemeentes en Ngwese se uitvoerende komitee.
“Hulle deel dan hul behoeftes met ons waarby ons deur die loop van die jaar betrokke is en ons maak dit dan deel van ons voorbereiding vir die volgende jaar.
“Dis mense wat swaar kry en baie arm is. Verlede jaar het hulle ook gebuk gegaan onder ’n geweldige droogte. Hulle kon geen oeste insamel nie; iets wat ’n groot impak op hul lewenskwaliteit gehad het. Ons (saam met Bothaville en Kroonstad se gemeentes) oorweeg tans om verder te help deur mieliemeel te verskaf.”
Vertel meer oor jul toekomsplanne.
“Alhoewel ons finansies beperk is, hoop ons om in die toekoms nog meer betrokke te kan raak.
“Ek hoop ook dat ons volgende jaar weer met ’n groter span soontoe kan gaan. Hoe groter die span is, hoe meer kan ons doen. Ons kan dan ook by meer mense uitkom.
“Ons besoek dan nie net gemeentes nie, maar ook die plaaslike skole. Tydens hierdie besoeke skenk ons dan ook ’n paar Living Ball-sokkerballe aan die kinders en leer hulle om die evangelie op daardie manier uit te dra.”
Meer inligting
Kontak ds Dries Cronjé by driescronje3@gmail.com
Erediens in Kababwana.
Erediens by Libuyu.
Bybels word oorhandig aan een van die lekepredikers.
Woordbediening.
Kinderbedieningspan.
Samson is die lekeprediker in Iseke. Hy is nou 90 jaar oud en van die begin af deel van die uitreik na die Caprivi.
Die Woord word bedien deur middel van ‘n tolk. Die plaaslike taal is Lozi.
Tipiese kerkgebou. Hierdie een by Iseke. Die gemeente het oor jare staalstrukture vir die verskillende gemeentes opgesit, wat dan deur hulle self toegemessel is, gewoonlik met houtlatte en modder (soos hier).
Die span met ons vertrek uit Viljoenskroon.