Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Na afloop van die besoek aan Hentiesbaai saam met die koor het die fokus onmiddellik verskuif na die voorbereiding vir die volgende groep van 22 studente wat hul eerste blokopleiding bygewoon het. Hierdie groep, bekend as Groep 2 Blok 1, het die module Vaste Fondamente aangepak.
Die opleiding het weereens as ’n besondere hoogtepunt uitgestaan. Studente het met oorgawe deelgeneem aan intensiewe klasse wat daagliks van vroegoggend 07:30 tot laatmiddag 17:00 gestrek het, met addisionele huiswerk wat teen die volgende dag voltooi moes word. Wat veral opvallend was, is hoe studente van uiteenlopende agtergronde aanvanklik as vreemdelinge aangekom het, maar as ’n hegte groep vertrek het – saamgesnoer deur gedeelde uitdagings en geestelike groei.
Gedurende die week het daar merkbare geestelike verdieping plaasgevind. Studente het nuwe insigte verkry, onder andere oor die werklikheid van die Drie-eenheid van God. Daar was ook duidelike oomblikke van verligting toe studente besef het dat die duiwel ’n skepsel en nie ’n skepper is nie, en dat sy aard as “die vader van die leuen” in Johannes 8:44 geopenbaar word. Die skeppingsverhaal het opnuut sekerheid gebring en die besef verdiep dat God alles goed en mooi geskep het vir die Bruid van sy Seun.
In die module oor geestelike groei het ds Dirk en ds Amon die studente begelei in hul roepingsbewustheid. Studente is gehelp om vry te kom van skuld en vrees, en is uitgedaag tot verdere geestelike groei. Hierdie temas het aanleiding gegee tot diep en eerlike klasgesprekke waarin moeilike vrae aangespreek is.
’n Kernaspek van die opleiding by DEGNOS bly die mentorskapgesprekke. Elke student het die geleentheid gekry vir ’n intensiewe persoonlike gesprek waarin hul geestelike reis bespreek is. Hierdie tye het dikwels uitgeloop op besondere en betekenisvolle oomblikke vir beide student en mentor.
Intussen het die bediening op verskeie ander terreine voortgegaan. In Windhoek het Andries en Tracey DEGNOS verteenwoordig tydens Windhoek-Oos gemeente se jaarlikse gholfdag, wat ten bate van die bediening aangebied is. Verdere skenkings is ook by Suiderhof gemeente ontvang. Tydens die besoek is daar waardevolle gesprekke gevoer met kerkleiers en opleidingsinstansies oor moontlike samewerking om teologiese opleiding meer toeganklik in Namibië te maak. Andries het ook die Woord by Windhoek-Oos verkondig met die tema: Uit die donker na die lig, voordat hulle teruggekeer het na Grootfontein om die volgende groep studente te verwelkom.
Groep 3 het kort daarna vir hul eerste blokopleiding aangekom. Hierdie oorwegend Engelstalige groep sluit studente uit verskeie afgeleë gebiede in, insluitend die Bwabwata-gebied in die Caprivi-strook. Die logistieke uitdagings was groot – onder andere is daar meer as 1500 km afgelê om studente te vervoer – maar die dankbaarheid oor hul aankoms het swaarder geweeg.
Voorbereidings vir die eerste jeugkamp van die jaar in Tsumkwe was ook in volle swang. Riana en haar span het hard gewerk om gereed te wees vir die bediening van sowat 60 laerskoolkinders uit Tsumkwe en omliggende nedersettings. Hierdie kamp vorm deel van ’n reeks van ses wat vir die jaar beplan word.
Op infrastruktuurvlak het die bouspan beduidende vordering gemaak in Tsumkwe. Opknappingswerk het onder meer die herstel en aanpassing van ’n karavaan, die bou van ’n nuwe dak, die installering van ’n verbeterde rioolstelsel en die opgradering van geriewe ingesluit. Verdere projekte, soos die oprigting van ’n nuwe watertenkstaander en die ontwikkeling van gastegeriewe, is steeds aan die gang.
Die Wildevy-gemeente het intussen voortgegaan met plaasbesoeke oor ’n uitgestrekte bedieningsgebied. Ds Regina en br. Isak het lidmate in afgeleë gebiede besoek, ondanks uitdagings soos swaar reën en moeilike padtoestande. Die besoekprogram is tydelik aangepas om hierdie omstandighede te akkommodeer. Ds Regina se gesondheid het in hierdie tyd ook aandag gevra, en voorbidding vir haar herstel bly belangrik.
Te midde van die vele uitdagings wat die bediening daagliks ervaar, bly daar groot dankbaarheid oor dit wat die Here reeds gedoen het. Hoewel dit soms voel asof die werk teen ’n sterk stroom voortgaan, getuig terugblik van die Here se trou en voorsiening oor die afgelope jare.
Voorbidding vir die werk van DEGNOS, die dosente, studente en al die betrokkenes bly van kardinale belang.
DEGNOS-groete
| Foto’s is deur Andries Gous, DEGNOS, verskaf.

