Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DEGNOS-dinge

Deur Andries Gous, DEGNOS

Rentmeesterskap as nuwe bedieningsrigting by DEGNOS

Sedert verlede jaar het ’n belangrike vraag diep in ons harte geleef: Hoe leer ons Bybelse wysheid op ’n opbouende, lewensveranderende manier aan mense sonder ’n Christelike agtergrond?

Ons beleef dat die Here vir ons ’n praktiese en tydige antwoord gegee het deur ’n rentmeesterskap-model wat deur Dawie van Vuuren van Veritas met ons gedeel is. Hierdie model is intussen in al die fasette van ons bediening toegepas en begin reeds duidelike vrug dra.

Die eerste beginsel wat ons geïmplementeer het, is eenvoudig maar diepgaande: “Moenie skade doen nie; wees ’n seën.” Ons ankervers, 1 Korintiërs 13:5 – “Die liefde soek nie sy eie belang nie” – het rigting en fokus gebring in ons denke en optrede. Ons sien hoe hierdie ingesteldheid verhoudinge herstel, gemeenskappe versterk en nuwe perspektiewe oopmaak.

Ons nooi voorbidders om steeds saam met ons te bid dat hierdie rentmeesterskap-lering duidelik en volhoubaar in die bediening gevestig sal bly.

Geseënde uitreik na Hentiesbaai

Ons is dankbaar vir ’n veilige en besonder geseënde uitreik na Hentiesbaai. Die gasvryheid en ondersteuning van die plaaslike gemeente en gemeenskap het diep indruk gemaak.

Vir baie van die koorlede was dit hul eerste ontmoeting met die see. Een het opgewonde uitgeroep: “Nou verstaan ek wat die Bybel bedoel – God het die land en die water geskei!” Dit was ’n kosbare oomblik van verwondering oor God se skepping.

Met ons terugkeer na Grootfontein het die bus onklaar geraak. Hoewel dit spanning veroorsaak het, is dit laat die aand herstel (met groot dank aan Ferdie), en die Omatako-koor kon veilig verder reis. Ons het opnuut beleef hoe die Here voorsien – selfs langs die pad.

Studente – Groep 2 Blok 1: Vaste Fondamente

Ná die Hentiesbaai-besoek moes ons vinnig gereed maak vir die volgende groep van 22 studente wat hul eerste Blok-opleiding in die Vaste Fondamente Module 1 bygewoon het.

Die week was weereens ’n hoogtepunt. Studente het met oorgawe deelgeneem aan klasse wat van 07:30 soggens tot 17:00 saans geduur het – met huiswerk wat teen die volgende dag voltooi moes wees. Dit is intensiewe dae, maar die vrug is sigbaar.

Dit bly besonders om te sien hoe gelowiges uit uiteenlopende habitatte hier aankom, aanvanklik effens vreemd vir mekaar, en aan die einde van die week vertrek as ’n hegte groep – saamgesnoer deur gedeelde inspanning en geestelike groei.

Ons het gesien hoe skille van verblinde oë afval en hoe die Drie-eenheid ’n werklikheid word vir studente. Daar was tasbare verligting wanneer studente ontdek dat die duiwel ’n skepsel is en nie ’n skepper nie – en wanneer Satan in die lig van Johannes 8:44 herken word vir wie hy is: die vader van die leuen.

Die skeppingsverhaal het vir baie nuwe sekerheid gebring, met die besef dat God alles goed en mooi gemaak het vir die Bruid van Sy Seun.

Studente groep 2 Blok 1
Studente groep 2 Blok 1

Geestelike groei en mentorskap

Ds Dirk en ds Amon het die studente deur die geestelikegroei-module begelei. Studente is gehelp om hul roeping duideliker te verstaan en om vry te word van skuld en vrees. Die onderwerpe het diep klasgesprekke ontlok en moeilike, maar noodsaaklike vrae na vore gebring.

As deel van DEGNOS se opleidingsfilosofie is met elke student ook ’n intensiewe mentorskapgesprek gevoer. Hierdie gesprekke help studente om eerlik te verwoord waar hulle in hul reis met die Lewende God staan. Hierdie tye het telkens uitgeloop op besondere oomblikke van insig en genade – vir student én mentor.

Vooruitkyk: ’n Besige week

Die bediening beweeg vinnig vorentoe:

  • Gholfdag ten bate van DEGNOS: Windhoek-Oos hou ’n gholfdag ter ondersteuning van die bediening, met Andries en Tracey wat DEGNOS daar verteenwoordig het.

  • Prediking: Andries het die Woord by Windhoek-Oos bedien met die tema: “Uit die donker na die lig.”

  • Studente – Groep 3: ’n Nuwe groep, oorwegend Engelssprekend en grootliks afkomstig uit die Bwabwata National Park in die Caprivistrook, het vir hul eerste Blok-opleiding arriveer.

  • Jeugkamp: Voorbereidings is getref vir die eerste jeugkamp van die jaar in Tsumkwe.
  • Bouprojek: Die span in Tsumkwe het betekenisvolle opgraderings voltooi – ’n ou karavaan is leefbaar gemaak met ’n nuwe dak en rioolstelsel, die badkamer is verbeter en voorbereidings vir verdere uitbreidings is goed op dreef.

 

Wildevy-besoeke

Ds Regina en broer Isak Xare het lidmate in Tsintabis en omliggende plase besoek, terwyl ds Poppie saam met broer Isak die plase rondom Grootfontein bedien het. Ons dra ds Regina veral aan die Here op terwyl sy met haar gesondheid worstel.

Met verwondering terugkyk

Soms voel dit of ons stroomop swem, met meer werk as hande. Tog, wanneer ons terugkyk, staan ons verstom oor wat die Here die afgelope jare gedoen het. Sy trou dra ons.

Dankie aan elke gemeente, voorbidder en ondersteuner – ook binne die NG Kerk Vrystaat – wat saam met ons hierdie pad stap. Ons beleef dat die Here self Sy werk vestig en vermeerder.

DEGNOS-groete

Bou werk op Tsumkwe vorder
Bou werk op Tsumkwe vorder

 | Foto’s is deur Andries Gous, DEGNOS, verskaf.