Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DEGNOS

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Rus

Die hele DEGNOS-span het kans gehad om die week ná Paasnaweek bietjie te rus. Ons is nou weer sterk op dreef.

Jeugkamp op Mkata

Riana en haar span is volstoom aan die gang met ’n groot Jeugkamp op Mkata waar daar 110 tieners uit die Luhebu Noord-gemeente bymekaar is. Baie dankie aan mnr Chris van !Ai, Primary School, wat vir ons die fasiliteite beskikbaar stel vir die kamp. Dankie ook aan Trudie en Roderick van CEF wat vir ons die kamp begelei saam met ’n hele groep vrywilligers van die gemeente wat optree as leiers van die groepe en help met die kosmaak.

Bid asseblief vir die kampgangers vir ’n ontmoeting met ons Here en vir al die aktiwiteite op die kamp. Bid ook asseblief vir die beskerming van elkeen op die kamp teen die Bose.

Aucamp-familie kuier by ons vir opleiding

Ds Johannes Aucamp en sy familie kuier by ons vir die volgende drie maande waar Johannes sal help met die opleiding van die geestelike leiers van die 45 habitatte van die Tsumkwe-gemeente.

Jesaja, ons drywer van Mangetti-duin, sal die mense aanry na Tsumkwe vir die opleiding. Hierdie gedeelte is die grootste uitdaging. Die veld is nog baie nat ná die goeie reënseisoen en baie van die villages is moeilik bereikbaar. Nhaka Cwi en haar span sal die kos versorg vir die opleidingsgroepe, en ds Leviet, Kamashe, Temi en Frankie sal die tolkwerk en begeleiding hanteer vir die opleiding.

Bid asseblief vir hierdie geleentheid, vir die logistieke uitdagings, vir voorbereide harte en vir Johannes en sy familie wat midde-in hierdie erge malaria-tyd daar op Tsumkwe werksaam is.

Besoek aan ds Shottu Mayebo en die Kanovlei-gemeente

U sal onthou dat ons ’n jaar terug berig het van die probleme op Kanovlei en dat ons gevra het dat u moet bid vir die werk daar. Die Here is so getrou! Dit gaan baie goed in die gemeente, en ds Shottu en broer Visser vertel dat die gemeente groei. Dit is egter kommerwekkend dat die groei net vroue en kinders is, daar is baie min mans betrokke in die gemeente.

Met my aankoms daar kry ek almal hard aan die werk met die insamel en verwerking van die katollo- (rosalie)-oes, en die eerste mielies lê en droog op die rakke. Die mahangu lyk pragtig en eersdaags sal die mahangu-oes ook ingebring en verwerk word.

Dank saam met ons die Here vir die groot kos-oes en pleit saam met ons by die Here vir die mense-oes, veral onder die mans in die gemeenskap.

DEGNOS-groete

Bid asseblief vir elke een van die kinders om die Here te ontmoet op die jeugkamp.
Ouma Njamba en haar familie is besig om die katollo-oes te verwerk sodat dit gedroog kan word op Kanovlei. Die kos-oes is groot hierdie jaar, pleit asseblief dat die siele-oes ook hierdie jaar groot sal wees.
Trudie en Roderick - twee sendelinge van Child Evangelism Fellowship wat ’n verskil maak in kinders se lewens.
Tydens elke jeugkamp kom daar ook honger kinders wat nie deel is van die kamp nie, om iets te kom eet. Ruth en Maria help om die honger lyfies kos te gee.

 | verskaf deur: Andries Gous, DEGNOS.