Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ontvou die skoonheid Vrystaat-studente reik hand uit na Zambië

Deur Marlou Strydom, Studentebediening

Net anderkant die Botswana-grens en anderkant die Victoria-waterval bevind ‘n groep Vrystaatse studente van Kopanong Studentebediening hulle tydens ‘n twee weke lange avontuur in Zambië. ‘n Avontuur wat die weeklikse kerkroetine verbreek sodat hulle die Here se skepping en genade op ander plekke ontdek. In samewerking met die Vrystaatse Sinode rig dié groep studente hul oë op die Justo Mwale Universiteit in Lusaka om ‘n helpende hand te reik sowel as om verbintenisse onder mekaar en met die studente aan dié universiteit te vorm.

Die doel van hierdie uitreik was nie bloot om geboue en fasiliteite te herstel nie, maar ook iets anders van die Heilige Gees te ervaar, die kweek van verhoudings en die herontdekking van die diep skoonheid wat na vore kom uit dienende aksies. Hul uitreik het ‘n dubbele doel gehad: Logistieke doelwitte wat die opknap van klaskamers en fasiliteite behels en op ‘n dieper vlak, die geestelike groei van die span.

 

Maande van sorgvuldige beplanning het die reis voorafgegaan, waar die span finansiële uitdagings oorkom het deur gemeenskapsteun en kreatiewe fondsinsamelings-aksies. Die gesamentlike doel het ‘n gevoel van eenheid gekweek wat verder strek as die herstelwerk wat hulle aanpak het. Die 13 dae saam, dikwels saamgepak in ‘n minibus, het verhoudings tot stand gebring wat slegs deur gedeelde ervarings en ‘n redelike mate van ongemak gevorm kon word.

 

Die praktiese doel van die uitreik was handearbeid: Klaskamers verf, vensters vervang, meubels herstel en ‘n speelpark opknap. Dit was egter meer as die fisieke arbeid; dit het gegaan oor uitbeweeg uit gemaksones en deur die handewerk, nuwe insigte oor onsself sowel as ons menswees in die Here te ontdek. Daar gebeur wonders wanneer ons die Evangelie uitleef en dit wat ons herhaaldelik op ‘n Sondag in die vorm van woorde inneem, op ‘n praktiese vlak uitleef.

 

Die span het oomblikke van rus, persoonlike besinning en uitruil van kulturele sieninge ervaar. ‘n Besoek aan die Victoria-waterval het die wonder van die natuur ontvou, terwyl interaksies met die plaaslike gemeenskap in Livingstone en Lusaka die liefde wat grense oorskry, geopenbaar het. Onder meer het die studente van Bloemfontein geleer om bietjie van die plaaslike dialek, Nyanja, te praat en die studente van Justo Mwale het ’n bietjie Afrikaans geleer – ‘n pragtige toonbeeld van die eenheid wat gevorm is sowel as die samekoms van die Here se kinders oor grense heen.

 

Die uitreik was nie net ‘n fisieke reis nie; dit het ‘n pelgrimsreis van geestelike groei geword. Getuienisse het die diepgaande impak op persoonlike lewens en verhoudings weerspieël. Elke dag se Bybelstudie was ‘n platform waar die span hoogtepunte en laagtepunte gedeel het, waar die hoogtes dikwels nuwe dimensies van God openbaar het … en die laagtepunte ongenoem gegaan het weens die tekort aan enige laagtes!

 

Die uitdagings tydens die uitreik is omskep in geleenthede vir die span om hul vaardighede te toon; hulle het dikwels met vindingryke oplossings vorendag gekom. Deur saam te werk om die struikelblokke te oorkom het die span verseker dat hierdie uitreik een vir die boeke was. Stories loop bykans ‘n maand later nog en die studente kan nie uitgepraat raak oor die wonders wat hulle ervaar het gedurende die uitreik nie.

 

Die impak van die uitreik gaan verder as die werk wat uitgerig is en die struikelblokke wat oorkom is. Dit is ‘n verhaal van vriendskappe en verbintenisse wat gevorm is, liefde wat ervaar is en ‘n getuienis van die Here se genade en hand oor sy kinders. Kopanong se uitreik na Zambië was ‘n toonbeeld van eenheid, groei en genade, wat nie net ‘n onuitwisbare merk op die universiteit gelaat het nie, maar ook op die harte en gedagtes van diegene wat aan hierdie transformerende reis deelgeneem het.

 | verskaf deur Marlou Strydom: Kopanong se Zambië-uitreik.