Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Weereens: Die twee nature van Christus aan Moslems verduidelik

Foto: Canva

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

’n Vraag wat Moslems vra, en wat hulle onder andere daarvan weerhou om Christene te word, is dat Jesus tog nie God kan wees as Hy gesterf het nie. Hoe kan God sterf en dan steeds deur Christene as God erken word? Hierdie vraag sluit aan by die vorige artikel wat gehandel het oor die twee nature van Christus. Dit is belangrik dat ons dit vir hulle vanuit die Bybel verduidelik, maar ons moet ook by hulle leefwêreld aansluit en die Koran en die Hadiths in die gesprek benut.

Die leer oor die twee nature van Christus, dat Hy waarlik God en waarlik mens is, is selfs vir Christene ’n ingewikkelde leerstuk. Ons bely dit omdat die Bybel dit leer. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 1:1-3: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie”.

Die Woord, Jesus Christus, het bestaan voor enigiets anders bestaan het. Hy was (en is steeds) God van ewigheid tot ewigheid. Hy is die Skeppingsmiddelaar. Hy wat God was (en is) het egter ook mens geword. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 1:14: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Christene bely dus nie dat God gesterf het nie, maar dat Jesus, wat van ewigheid saam met die Vader en Heilige Gees as God bestaan, deel geword het van sy skepping toe Hy ’n mens geword het as Jesus van Nasaret. Hy wat God was (en is) het ’n menslike natuur aangeneem en was daarom by vermoë om as mens (nie as God nie) te sterf.

Nog ’n teks wat hierdie waarheid leer, is Filippense 2:5-8 waar ons lees: “Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. (2020-vertaling).

Moslems leer dat Allah nie ’n mens kan word nie, trouens nie op enige manier deel van sy skepping kan word nie. Dit is egter nie wat die Hadiths leer nie. Die Hadiths leer dat Allah elke nag deel word van die skepping, trouens die wolkehemel, wanneer hy neerdaal om na Moslems se gebede te luister. Daar staan in een van die Hadiths, Jami At Trimidi 446[1]: Allah’s Messenger said: “Allah, Blessed and Exalted is He, descends to the earth’s heaven every night when the first third of the night has passed …”.

Die punt is dat as Allah op hierdie manier deel word van sy skepping op ’n daaglikse basis, dan is dit tog nie vergesog vir hulle om te glo dat die God van die Bybel deel geword het van Sy skepping, deurdat Hy deur Sy Seun ’n menslike natuur aangeneem het nie.

Ons voer hierdie argumente ’n volgende keer verder deur na nog sulke voorbeelde uit die Koran en die Hadiths te kyk, wat benut kan word in gesprekke met Moslems rakende die twee nature van Christus.

[1] Jami At Trimidhi, Book 2, Hadith 299, Sunnah.com

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel oor die saak van die twee nature van Christus. Dit is ’n moeiliker artikel om te verstaan. Apologetiese gesprekke met Moslems is egter maar ’n ingewikkelde saak.