Skip to content Skip to footer

DEGNOS

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Huise bou op Tsumkwe en Mangetti Duin

Deel van ’n sendingorganisasie wat transformeer en help met die selfstandig raak van gemeentes is dat goed in plek gestel moet word om die proses te ondersteun.

Op Tsumkwe word daar gebou aan ’n sinkhuis vir ds Leviet, en op Mangetti Duin bou ons twee sinkhuise – een vir Mishe, die nuwe voltydse Jeugwerker, en een vir Visser, die nuwe koster van die gemeente.

Maar in Boesmanland is nie winkels nie. 

Al die materiaal moet ’n bakkievrag vol op ’n slag aangery word – 300 km ver na Tsumkwe en 200 km ver na Mangetti Duin. Dit is ’n frustrerende en duur proses om vier keer in een week hierdie distansies af te lê, net om die boumateriaal en -toerusting op die plek te kry sodat jy kan begin bou. 

Bid asseblief saam met ons vir elkeen van ons vier drywers – Alex, Christiaan, Isak en Jesaja – wat alles en almal (mense en “goeterse”) moet aanry tot waar dit nodig is.

Tsumkwe opleiding

Die Tsumkwe opleiding het goed afgeskop. Jesaja (drywer) het verlede Saterdag van Mangetti Duin af deurgery na Tsumkwe om die tolke en hout bymekaar te gaan maak om kos te kook vir al die mense. Verlede Sondag het hy by Wyk 3 tot 8 se habitatte om gery en die mense gaan oplaai vir opleiding in Tsumkwe. Die afgelope Saterdag het hy reeds hierdie studente teruggeneem – ’n bakkievrag op ’n slag – en Sondag het hyby Wyk 1 en 2 se 16 habitatte om gery om die volgende groep studente op te laai.

Ons beplanning is om die sowat 70 studente deur twee rondtes van een week se opleiding te sit in die volgende ses weke. Begrote distansies vir die Tsumkwe opleiding, net om mense op en af te laai, is sowat 3 000 km.

Gaste

Prof Eugene Baron, dr Zack Pienaar en mev Millinda Coffee kuier saam met ons hierdie week. Ons beplan om so 70% van die ECD-sentrums te besoek en om darem by sowat 14 habitatte uit te kom.

Ons program is as volg:

  • Maandag – Wildevy Tsintsabis omgewing
  • Dinsdag – Omatako Vallei en Luhebu-Noord
  • Woensdag – Tsumkwe-gemeente
  • Donderdag – Reis na Caprivi
  • Vrydag – Wes-Caprivi-gemeente
  • Saterdag – Huiswaarts

Begrote kilometers vir die week se besoeke, saam met die gaste, is sowat 4 000 km.

Bytjie in die enjinkap

Vriende, u lei seker van hierdie week se omsendbrief af dat ons iets probeer sê oor die tyd wat ons in die bediening agter ’n motor se stuurwiel sit. Ons doen dit almal uit liefde vir ons Here, en daarom vra ons dat u vir ons sal bid vir beskerming, vir voorsiening om die voertuie in stand te hou, bande te koop, diesel in te gooi en om van tyd tot tyd die voertuie te vervang.

Terselfdertyd vra ons dat u saam met ons bid en die Here dank. Want sonder Sy voorsiening deur die mense wat tot dusver bygedra het tot hierdie bediening sou ons bitter min van hierdie werk kon doen. 

Dikwels word ons gekonfronteer met die vraag: “Moet ons nie maar net minder doen nie?” en dan die oortuiging – nee, want daar is nog soveel meer wat gedoen kan word. Soos ’n vriend van my altyd sê: “If it is the Lord’s will, it is also His bill”. 

DEGNOS-groete.

Een van ons grootste uitdagings is om alles te kry waar dit moet wees, ’n bakkievrag vol op ’n slag.
Ds Johannes se opleiding op Tsumkwe het goed afgeskop - Wyk 3 se mense was die eerste om opleiding te ontvang.

Die 90-jarige blinde ouderling, Johannes Kapanza van Bravo, se boodskap aan die kerk: “Geregtigheid sal ’n gordel om sy middel wees, en betroubaarheid ’n gordel om sy heupe.” Jesaja 11:5 AFR20

 

 | verskaf deur: Andries Gous, DEGNOS.