Dis ’n groot voorreg. Dit help my om by te bly met die jongste navorsing, en die interaksie met studente gee my baie energie. Dis heerlik om te sien hoe die studente dit wat jy aan hulle leer, waardeer en toepas.
Dr Dawid Kuyler, VGK-emeritus
Ons het by dr Dawid Kuyler, VGK-emeritus en sedert 2019 gasdosent aan die Justo Mwale Universiteit in Zambië, gaan hoor hoe hy dit ervaar om in ’n ander land en kultuur klas te gee. Hy voltooi sy jaarlikse onderrigkontrak daar aan die einde van Julie. Ons wou eerstens weet hoe dit gekom het dat hy in dié pos beland het.
Nadat ek aan die einde van 2016 op Reebok gaan aftree het, sien ek toe in 2018 in Vrypos dat my vriend, dr Gideon van der Watt, ’n pos as dosent aan die Justo Mwale Universiteit adverteer. In 2014, toe ek nog skriba van die VGKSA se algemene sinode was, het ek Justo Mwale besoek toe al die skribas van die NG Kerkfamilie in Suider- Afrika daar vergader het – die voorloper van die stigting van die Reformed Family Forum. Ek was dus bekend met die plek en sy uitdagings.
So is ek in 2019 deur die NG Kerk Vrystaat gestuur om vir een semester, van Mei tot Julie, te gaan klasgee. Ek was verantwoordelik om kerkgeskiedenis en kerkreg vir die BTh 4-groep aan te bied. Die uitdagings van ’n kantoor sonder ’n drukker en klasgee sonder ’n dataprojektor is gelukkig spoedig opgelos toe ek dit kon aankoop met fondse voorsien deur die NG Kerk Sinode Vrystaat se Vennote in Getuienis. Boonop was Zambië toe alreeds ook geteister deur beurtkrag.
In 2020 was ek byna op pad na Zambië, toe Covid-19 alles in die wiele gery het en ek aanlyn moes klasgee.
Jou verantwoordelikhede het toe mettertyd meer begin geword. Vertel meer daarvan.
In 2021 kon ek weer gaan; dié keer vir twee semesters, van Januarie tot Julie. Ek kry toe ook vakke in praktiese teologie by om te doseer, soos prediking, liturgie, asook sielkunde en godsdiens.
Later, in 2023, is prediking aan ’n ander dosent toegewys terwyl my werkslading uitgebrei is na direkteur van nagraadse studies en navorsing.
Uit die vakke waarvoor ek verantwoordelik is, kan afgelei word dat dit help as ’n dosent in meer as een vakrigting klasse kan aanbied. Ons is maar tien dosente wat al die teologiese vakrigtings moet dek. Gelukkig het ek in ekklesiologie gespesialiseer en klasgegee aan die Universiteit van Stellenbosch en later, in 2005, het ek na die Universiteit van die Vrystaat se Departement Praktiese Teologie oorgeskuif.
Om steeds ná aftrede akademies betrokke te bly, is natuurlik baie verrykend. As dit boonop in ’n ander kultuur is, soveel te meer. Vertel ons hoe jy hierdie aspek ervaar.
Dis ’n groot voorreg. Dit help my om by te bly met die jongste navorsing, en die interaksie met studente keer so ’n bietjie die verouderingsproses.
Een van die uitdagings om in Afrika klas te gee, is dat studente dikwels uit ’n kultuur kom waar lees en boeke nie hoog aangeslaan word nie. As jy sukkel om te oorleef, dan is die koop van boeke baie laag op die prioriteitslys. Selfs op skool moet kinders boeke deel en kan dit nie huis toe geneem word nie. ’n Skoolsisteem waar kinders net gehelp word om te memoriseer en nie met begrip te lees nie, skep sy eie probleme as hulle op universiteit kom.
Engels as voer- en skooltaal in ’n land met 73 etniese groepe en tale help dat jy met die mense hier kan kommunikeer, maar dit is ook nie sonder uitdagings nie.
Van waar is jou studente oral, en wat word prakties van jou verwag?
By Justo Mwale word studente as leraars vir die Reformed Church in Zambia, Reformed Church of Zimbabwe, Reformed Church of Mozambique, Church of Central Africa Malawi, Zambia, Zimbabwe en DRC Botswana opgelei. Ons het ook enkele studente uit charismatiese kerke.
Die interaksie met studente gee my baie energie. Dis heerlik om te sien hoe die studente dit wat jy aan hulle leer, waardeer en toepas.
Benewens klasgee is my taak ook om die NG Kerk Vrystaat se oë en ore op die kampus te wees en van behoeftes bewus te word. Behalwe om verslae te stuur, moet ek ook die huis waarin ek woon op die kampus in stand hou. So het ons al ’n paar projekte afgehandel: ’n badkamer en toilet opgegradeer, mure en geutplanke geverf, plafonne herstel, die dak laat regmaak, ’n kragomsetter met battery en sonpanele laat installeer, en natuurlik ’n braaiplek gebou! ’n Huis moet leefbaar wees vir die inwoner en ook vir sy gaste wat kom kuier.
Die nodige beddegoed en breekware is mettertyd aangevul sodat die huis funksioneel kan wees. In die tyd wat ek nie in Lusaka is nie, is die huis ook beskikbaar vir ander kerkverwante besoekers.
Dr Nico Mostert kom gereeld hier besoek aflê en bring gewoonlik leraars saam. Ek is dan die gasheer, gids vir die gaste en taxibestuurder, danksy ’n voertuig wat dr Nico aan die einde van 2021 vir ons aangekoop het.
Behalwe al die praktiese verantwoordelikhede is daar natuurlik ook ander behoeftes wat ’n mens begin raaksien. Raak julle daarby betrokke? Indien wel, hoe gaan julle te werk om die leeromgewing vir studente en die dosente makliker en aantrekliker te help maak?
Behalwe om die woonhuis in stand te hou, probeer ons ook help waar ons behoeftes raaksien. So het ons in 2019 15 lessenaars vir studente aangekoop, in 2021 vyf dataprojektor-staanders laat maak, en in 2023 is 29 stoele herstel terwyl ons ook een van die klaskamers van gordyne voorsien het. Ons het ook die universiteitsklok herstel. Vanjaar kon ons help dat die lekkende watertenks wat aan die universiteit en al die personeel water verskaf, reggemaak word.
Die universiteit sit met groot skuld wat oor jare opgebou het, en my kollegas het 15 maande laas salaris ontvang. Dit is ’n wonder dat hulle steeds voortgaan om te werk! Vennote in Getuienis sorg tans dat alle personeellede vir ’n jaar lank elke maand R500 ontvang.
Hulle het ook vir dr Gerhard Botha aangestel om te kom konsulteer oor die pad vorentoe. Ons is nou besig met die proses.
Dosent-wees is dus nie net klasgee nie, maar ook om nutsman te wees en te help waar jy kan. Die feit dat ek op ’n plaas grootgeword het en my lewe lank in VGK-gemeentes gedien het, kom handig te pas.
Hoe ervaar jy die alleen-wees, aangesien jou vrou nie altyd saamkom nie? Hoe en by wie skakel jy in om jou behoefte aan jou eie kultuur so nou en dan te voed?
My vrou, Wilmien, het in 2019 kom kuier en vanjaar weer vir ’n maand. Ek gaan gewoonlik in April vir drie weke tuis kuier. As jy alleen is, word jy gedwing om ook die kok in die huis te wees en jou eie wasgoed te doen. Ek is al heel handig as dit by kosmaak en bak kom, maar verleer gou die vaardighede as ek tuis is. Te veel kokke in een kombuis werk nie.
Thijs en Marike Blok van die Protestanse Kerk in Nederland (PKN) het sedert laat 2018 tot April vanjaar op kampus gewoon en was my plaaslike ondersteuning. Ons het beurte gemaak om Woensdae by mekaar te eet. Sedert hul vertrek kuier ek saam met dr Ryan Faber van die Christian Reformed Church in North America (CRCNA), wat ook hier dosent is en wat op kampus woon. Hulle het sewe kinders en dus kan ek die huisgesin net een keer per maand oornooi vir ete.
Ek skakel ook in by die DRC in Zambia se gemeente in Lusaka. Dit is die gemeente waarvan dr Nico Mostert vir baie jare leraar was. In 2022 was ek vir sewe maande hul leraar terwyl hulle ’n beroep uitgebring het om ’n leraar aan te stel. Ds Willem Schoeman is toe verlede jaar bevestig. Die gemeente het drie preekpunte: Livingstone, Lusaka en Chisamba. So, ek help daarmee en preek gereeld ook in Afrikaans.
Dr Nico Mostert het onlangs aan jou gevra of jy nog die kapasiteit en aptyt vir dié werk het.
Dit is nou my vyfde jaar by Justo Mwale Universiteit. Op hierdie stadium het ek nog die kapasiteit en aptyt, maar dit word mettertyd minder. My ooreenkoms met hom is dat hy my sal vra om te gaan voordat ek ’n suurstofdief word, en ek sal hom weer betyds inlig as my kapasiteit en aptyt te min raak sodat ons iemand anders kan kry om die bediening hier voort te sit.
En hoe vind jy die weer, die paaie en Lusaka?
Die weer is goed. Daar is net twee seisoene hier: ’n reënseisoen wat duur vanaf einde Oktober tot einde Maart met ’n reënval van so tussen 800 en 1 200 mm, en ’n droë seisoen wat duur vanaf April tot Oktober. In Lusaka dra jy op die koudste dag slegs ’n langmouhemp.
Zambië is ’n veilige en vriendelike land; ek stap oral sonder om bevrees te voel. Die paaie in Lusaka het sedert 2019 aansienlik verbeter en dis ook ’n stad waar jy al die winkels en produkte van Suid-Afrika kry.
En ek het slaapplek as iemand wil kom kuier.
Kontak dr Dawid Kuyler by dkuyler98@gmail.com of WhatsApp hom by +27 83 274 7616 vir meer inligting.