Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Christene se respons op die Mawlid al-Nabi (die geboortefees van Mohammad)

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Op Moslems se historiese almanak is Augustus ’n maand van besondere betekenis. Vir baie Moslems het die geboortefees van Mohammed (Mawlid al‑Nabi), wat op 25 Augustus gevier word, van besondere betekenis. Dit herinner hulle aan sy lewe van gehoorsaamheid aan Allah. Die dag word gebruik om sy karakter te bestudeer, hul geloof te verdiep en liefde vir die profeet te uitdruk deur gebede, lofliedere en liefdadigheid. Al vier nie alle Moslems die Mawlid nie, bly dit vir die meerderheid ’n belangrike geestelike en sosiale geleentheid wat hulle identiteit en verbondenheid as geloofsgemeenskap bevestig.

Die Mawlid dien as ’n jaarlikse geestelike “herstelpunt” –  ’n geleentheid om te vra hoe hulle lewens met syne ooreenstem. Mohammad word gesien as die ideale menslike voorbeeld, en die fees help gelowiges om hulle morele kompas te hernu in ’n wêreld vol morele verwarring.

In baie lande is die Mawlid ’n groot sosiale gebeurtenis. Families kom saam vir maaltye. Moskees hou spesiale dienste en lesings, liefdadigheid word beoefen en Mohammad se stories word aan die kinders geleer. Hierdie rituele bou ’n gevoel van ummah — die wêreldwye gemeenskaplikheid onder Moslems.

Vir baie Moslems is liefde vir Mohammed ’n kernaspek van hulle geloof. Die Mawlid word daarom gebruik om lofgedigte (qasidas) te sing, gebede op te sê, dankbaarheid vir sy lewe uit te spreek en om sy deugde te eer. Hierdie liefde is nie net emosioneel nie; dit is ’n vorm van aanbidding en ’n bron van troos en stabiliteit.

Nie alle Moslems vier die Mawlid nie. Sekere Salafi‑ en Wahhabi‑tradisies sien dit as ’n latere toevoeging tot Islam. Maar die meerderheid wêreldwyd — veral in Afrika, Suid-Asië, die oostelike deel van die Middelandse See en groot dele van Europa — vier dit met groot liefde en toewyding.

Hoe behoort Christene teenoor Moslemds te reageer wat hierdie fees betref? Christene kan op ’n respekvolle, teologies duidelike en pastorale manier oor die Mawlid dink. Drie riglyne is veral belangrik:

  • Respek en erkenning

Christene kan erken dat die Mawlid vir Moslems ’n belangrike geestelike dag is wat hulle geloof verdiep, hulle gemeenskap versterk en hulle herinner aan ’n figuur wat vir hulle heilig is. Hierdie erkenning bou vertroue en wys dat Christene nie neerhalend of defensief is nie.

  • Teologiese duidelikheid

Christene hoef nie die profeet se rol in Islam te onderskryf nie. Ons moet duidelik wees daaroor dat ons glo Jesus die Seun van God is, dat die evangelie sentreer rondom Christus se persoon en werk en dat ons Jesus as die finale openbaring van God sien. Teologiese fermheid hoef nooit onvriendelik te wees nie. Dit kan met sagmoedigheid en eerbied geformuleer word.

Christene kan die Mawlid gebruik om te verduidelik hoe ons Jesus se geboorte vier en te wys hoe die evangelie die mens se hart verander. Dit gee ons die geleentheid om te deel hoe Christus se lewe, dood en opstanding ons hoop is. Dit skep ’n natuurlike brug na Jesus se karakter.

Hierdie fees, soos reeds genoem handel oor die geboorte van Mohammad. Gebruik dit as ’n geleentheid om te getuig van Christus se geboorte, lewe en opstanding. Gebruik die geleentheid om op ’n sagte te manier deel:

  • dat Jesus se geboorte vir ons die koms van God se lig beteken
  • dat sy lewe die volmaakte openbaring van God se hart is
  • dat sy opstanding die bron van ons hoop is

Die Mawlid is vir Moslems ’n geleentheid om hulle geloof te verdiep en hulle liefde vir die profeet te vier. Vir Christene is dit ’n kans om:

  • respek te wys
  • brugbouers te wees
  • Christus se liefde te deel
  • evangeliegesprekke te voer wat sag, eerbiedig en eg is

Wanneer Christene met nederigheid en liefde praat, word die evangelie nie verdun nie — dit word helderder.

 

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

’n Reeks Islam-artikels. Hier is ’n artikel wat handel oor Christene se respons op die Mawlid al-Nabi (die geboortefees van Mohammad).