Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Boikot korrupsie

Verlede Sondag ontvang ek ‘n kort video-boodskap van Leon Foot waar aartsbiskop Magoba, van die Anglikaanse kerk, met die president praat oor korrupsie. Dit is ‘n kort video, maar aan die einde van die video wil ek soos ‘n charismatiese prediker skreeu: “Amen! En Halleluja!” Die boodskap wat hy gebring het is baie eenvoudig en kom op die volgende neer:

In die boek Konings gee God aan Elisa die opdrag om die grot waarin hy geskuil het, te verlaat en om na die wêreld toe te gaan met ‘n boodskap. In dieselfde gees roep God vandag die kerk om uit ons aanbiddingsplekke te kom en om te praat oor die situasies van die burgers van hierdie land. As die kerk dit nie gaan doen nie, sal die klippe dit uitroep, soos Jesus in Lukas sê.

Ons harte, ons siele, ons gedagtes en ons lywe is gevul met die krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar – die gemeenskap se geld; geld wat lewens moet red en suurstof moet verskaf aan die armste van die armes om asem te kan haal word verduister en gevat. Die geld word gesteel in weerwil van die tien gebooie waarin daar ‘n gebod is dat jy mag nie steel nie. Wat aan die gebeur is, is nie net diefstal nie, maar dit is die uitwissing van die lewens van die armes, dit is amper in effek ‘n volksmoord wat gepleeg word.

Korrupte grootkoppe het deel geword van die regering, en in plaas daarvan dat hulle die gemeenskap bedien, tree hulle met minagting teenoor die gemeenskap op. Hulle dade afbrekend en suig die lewe uit die gemeenskap. Hulle is soos die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat Jesus “witgepleisterde grafte” genoem het in die evangelie van Matteus. Op hierdie tydstip in die geskiedenis van ons land, moet daar nou ‘n streep in die grond getrek word. Die skynheiliges en die diewe moet die gesteelde geld teruggee aan die armes, en hulle moet na die tronk gestuur word waar hulle oranje oorpakke moet dra.

‘n Duideliker uitspraak teen korrupsie sal ‘n mens nie sommer kry nie. Korrupsie word deur hom vergelyk met volksmoord. Die gesprek rondom volksmoord is iets wat aan ons bekend is, want dit word baie keer in verband met plaasaanvalle gebruik. Hier maak hy egter die situasie baie breër en word dit in verband met die armes gebring. Dalk is dit tyd dat elkeen van ons begin opstaan, nie net teen plaasaanvalle nie, maar teen korrupsie in die geheel. Dit begin by elkeen van ons deur net die regte ding te doen. Christene leef in elk geval met ‘n ander stel reëls as die wêreld daarbuite. As Christene nie deelneem aan korrupte dade nie en dit in die oopte bring, dan het ons al ‘n ver pad gevorder op die pad om korrupsie in die kiem te smoor.