“Hou hierdie spasie dop! Ek skryf en illustreer aan ‘n splinternuwe reeks, Blêr, saam met die NG Kerk Vrystaat en JONK Vrystaat – en dit is awesome! Ons is hard aan die werk met ons eerste verhaal, spesiaal vir die jongspan!” So skryf skrywer, illustreerder en uitgewer Martin Cyril Schwella van Schink Art alreeds op 31 Mei op sy Facebook-blad.
Ons is dus nou baie opgewonde om aan te kondig dat dié reeks kinderstories, Blêr, so pas die lig gesien het. In die reeks lees ons van die avonture van Leon, ’n nuuskierige skapie, wat via verskeie opwindende avonture waarhede oor God, die kerk, die lewe en sy identiteit in Christus ontdek. Hy kom ook tot die wonderlike gevolgtrekking dat hy nog al die tyd, van die begin af al, aan God behoort.
Dié opwindende reeks bestaan uit twaalf kort kinderverhale, geskryf en geïllustreer deur Schwella, en word uitgegee in samewerking met ds Francois Lamprecht, sameroeper van die NG Kerk Vrystaat se Netwerk JONK Vrystaat. Dit beloof om baie gewild onder ons kinders te wees.
Die reeks fokus op kinders, maar is toeganklik vir ’n baie wyer groep lesers. Die NG Kerk Vrystaat doen ’n beroep op ouers om saam met hul kinders hierdie pragtige reeks te lees. Dit bied aan gesinne ’n gulde geleentheid om sáám op ’n ontdekkingsreis met God te gaan.
Die eerste van dié 12 stories gaan vanaf 18 Augustus vanjaar tot 1 Maart 2024 in elke Vrypos-uitgawe verskyn.
Kom gerus saam met ons op reis na ons eerste Blêr-reeks!
Vir meer inligting kan ds Francois Lamprecht (NG Gemeente Pellissier) by 082 374 3983 of francois@ngkerkpellissier.co.za gekontak word.