Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Vrystaat Gemeentes – In Pas met die Lewende God!

Deur ds Christo Nel, voorsitter van die dagbestuur van Bedieningsbegeleiding

Woensdag 16 September gaan waarskynlik as ’n oomblik in die kerk onthou word, waar gemeentes opgewonde kon raak oor Kerkwees! Nie alleen opgewonde raak nie, maar prakties kon sien en leer hoe gemeentes God se roeping kan uitleef.

Drie en twintig gemeentes, om en by 55 lidmate en 20 dominees, het by Mooigenoeg Kampterrein bymekaar gekom. Ds Lourens Bosman het saam met prof Kobus Schoeman die praktiese van In Pas as ’n Missionale manier van kerkwees kom verduidelik. Gemeentes het gehoor en prakties geoefen hoe om byvoorbeeld “Wandel in die Woord” as gewoonte te gebruik om na die Drie-Enige God te luister. Hoe luister ons na mekaar en na die wêreld, is gewoontes wat nie moeilik is om te doen nie.

Vanuit hierdie gewoontes het gemeentes ’n hele aantal ander gewoontes aan blootstelling gekry wat hulle kan help om Roepingsgetrou te wees. Die Ritmes en Gewoontes is prakties bekyk. Dit help gemeentes om opgewonde te raak oor die Koninkryk! Met ander woorde om nie net na binne gerig te wees nie, maar om te besef ons is geroep na ons wêreld en gemeenskap rondom ons.

Missionale gemeentewees is lankal nie meer ’n wit-swart gedagte nie, maar dat ek eerder geroep word na alles en almal in my gemeenskap. Missionale gemeentes vra Godsvrae – waarmee is God besig in ons gemeenskap? Wat wil Hy in en deur ons doen? Ons het gepraat oor die Identiteit en Roeping van ’n Missionale gemeente.

Uiteindelik het ons gesels oor hoe implementeer ’n gemeente hierdie gewoontes. Niemand het weggestap en gewonder wat moet volgende gebeur nie. Gemeentes is gereed om Roepingsgetrou gewoontes te begin inoefen. En nie alleen nie! Gemeentes het min of meer in Ringsverband saam beplan oor hoe gaan hulle mekaar help en verantwoordbaar hou om die In Pas-proses volhoubaar in die gemeente uit te rol.

Lanklaas het ek lidmate en dominees so opgewonde gesien om ’n maklike verstaanbare en implementeerbare proses te begin leef! Daar is gereedskap in die hand gegee. Ek is oortuig dat daar so ’n tree of wat nader gekom is aan hoe die Here die Vrystaatse kerk wil gebruik om Sy Koninkryk uit te brei en ons gemeenskappe ’n beter plek te maak.

Dis nog verseker nie te laat om deel te wees nie. Kontak ds Christo Nel by 076 943 2006. Hy sal jou vinnig op hoogte kry en dan kan julle reis ook saam begin!

 | Foto’s is deur ds Christo Nel verskaf