Deur ds Louwrens Scheepers Sameroeper:
VBO Netwerk en aanbieder van Stillepolis-retraites in Philippolis
Hierdie artikel is ds Louwrens Scheepers se opsomming van die webinaar van John Dominic Crossan oor “The Biblical God of Justice”.
Die webinaar van John Dominic Crossan oor “The Biblical God of Justice” is ’n poging om die Bybelverhaal deur een lens te lees: God se begeerte vir distributiewe (verspreidende) geregtigheid – ’n wêreld waar daar genoeg is vir almal, en waar lewe gedeel word eerder as opgegaar word.
Geregtigheid is nie hoofsaaklik straf nie – maar regverdige verdeling
Een van Crossan se sentrale idees is dat “justice” in die Bybel primêr distributief eerder as retributief is. Met ander woorde:
- God se geregtigheid gaan nie eerstens oor straf nie,
- Maar daaroor dat almal genoeg het,
- dat lewe gedeel word,
- dat die kwesbares beskerm word,
- en dat die skepping nie deur magtiges beheer word nie.
Ek dink die werklikheid is dat baie gemeentelede “geregtigheid” verstaan as:
- sonde wat gestraf moet word,
- morele orde wat gehandhaaf moet word,
- hemel/hel.
Crossan herinner my dat die profete, die Torah, Jesus se bediening, en Handelinge se gemeenskapslewe alles sterk ekonomiese, sosiale en gemeenskapsdimensies het. Veral in ’n Suid-Afrikaanse konteks van ongelykheid kan dit help om evangelie en daaglikse lewe weer aan mekaar te verbind.
Genesis 1 gaan volgens Crossan oor orde en genoeg – nie oor wetenskap nie
Crossan lees Genesis 1 as ’n visie van kosmiese harmonie, ritme, balans en genoegsaamheid vir almal.
Die Sabbat is vir hom die klimaks: Dit gaan nie oor “werk harder” nie, maar oor rus, beperking van produksie, beperking van mag, menswaardigheid vir almal.
Vir my help dit as prediker om in die lees van Genesis nie eerstens te vra “Hoe het God geskep?” nie, maar “Watter soort wêreld wil God hê?”
Crossan lees die Bybel as ’n voortdurende stryd tussen God se droom vir die wêreld en wat die mens daarmee maak
Crossan se groot narratief: God roep ons telkens om ’n wêreld te skep waar ons dit wat vir ons gegee word met mekaar deel. Die mens bly egter voortgaan om eie koninkryke van hiërargie, geweld en uitbuiting te bou.
Crossan sien hierdie spanning reeds tussen die skeppingsverhaal in Genesis 1 en die verhaal van Kain; ’n spanning wat voortgaan in Egipte, die koningstydperk, Babilon, Rome, en uiteindelik in moderne imperialistiese sisteme.
Hierdie deel van Crossan se aanbieding help my onthou dat die Bybel nie net individuele reddingstories, morele lesse of dogmatiese stellings is nie. Die Bybel is ’n dramatiese verhaal van God se droom vir die mensdom, en die mensdom se voortdurende weerstand daarteen.
Jesus se kruis en bediening word polities én geestelik
Crossan beklemtoon sterk dat Jesus binne die Romeinse Ryk geleef het, en dat sy boodskap van God se koninkryk direk bots met Rome se manier van regeer. Maar belangrik: Hy sien Jesus se antwoord nie as gewelddadige revolusie nie, maar as radikale nie-geweld, tafelgemeenskap, genesing, insluiting, gedeelde brood.
Baie kerke val in een van twee slaggate:
- ’n “spiritual only” Jesus,
- of ’n “political activist only” Jesus.
Crossan probeer die twee weer bymekaar bring:
- God gee om vir siele én strukture,
- vir aanbidding én ekonomie,
- vir gebed én geregtigheid.
Crossan dwing my om moeilike vrae te vra
Selfs waar ’n mens dalk nie met alles saamstem nie, is Crossan baie waardevol omdat hy vra:
- Waarom lees ons sekere tekste só?
- Wie baat by ons interpretasies?
- Hoe is Bybellees deur mag beïnvloed?
- Waarom ignoreer ons party temas in Jesus se bediening?
Dit is waarskynlik sy grootste waarde:
Hy ruk jou uit gemaklike leespatrone. Vir ’n predikant is dit goud werd – veral as jy in ’n konteks van:
- historiese verdeeldheid,
- ekonomiese spanning,
- of kerkvervreemding werk.
Waar ’n predikant dalk krities moet onderskei
Crossan is baie invloedryk, maar ook kontroversieel. Baie tradisionele Christene sal voel dat hy:
- die bonatuurlike elemente van die evangelies minimaliseer,
- die opstanding te simbolies lees,
- of Jesus soms te veel reduseer tot ’n sosiale profeet.
Ek stem beslis nie met alles saam nie, maar sy werk help my om:
- die sosiale dimensie van die evangelie te herontdek,
- die Bybel groter te lees,
- en Jesus se koninkryk meer konkreet te verstaan.
Kyk die video HIER.

