Deur Mariëtte Odendaal
“Van die mees besondere oomblikke was saans wanneer ons saam met die plaaslike predikant om die vuur gesit en al geselsend kosgemaak het.”
Ds Wouter van Velden
Leraar van die Kopanong-bediening
Vir meer as ’n dekade al reik die Kopanong-bediening in Bloemfontein jaarliks tydens die wintervakansie uit na ons geloofsfamilie in Lesotho; ’n onontbeerlike blootstelling wat wedersydse inter-kulturele begrip vir mekaar help vorm.
Vanjaar het ’n groepie van agt, waarvan een ’n teologiestudent was, vanaf 23 Junie tot 3 Julie weer die langpad soontoe gevat en weereens verryk teruggekom. Ons het meer hieroor gaan uitvind by ds Wouter van Velden, leraar van Kopanong, wat ook op die uitreik was.
Wouter, hoe het die groep die uitreik ervaar en watter plekke het julle alles besoek?
“Vir sommige van die jongmense was dit hulle eerste ervaring van so ’n uitreik. Hulle was vir langer as ’n week weg van hul huis op besoek in ’n ander land en moes vinnig aanpas in effens meer uitdagende omstandighede as waaraan hulle gewoond is.
“Ons het drie plekke besoek, naamlik die Lesotho Evangelical Church in Southern Africa (LECSA) seminarium in Morija, die Farming God’s Way-opleidingsplaas naby Maphutseng en die gemeente in Qomo-Qomong.
“Morija was al redelik heuwelagtig, maar by Maphutseng en Qomo-Qomong was ons omring deur die majestueuse berge wat so eie aan Lesotho is. Ons het asemrowende sonsopkomste en -ondergange gesien met die sonlig wat so teen die berge val. Die sneeu op die spitse het dit nog meer aanskoulik gemaak.
“Dit was ‘n besondere en kosbare ervaring om tyd met die Basotho’s te spandeer en bande met hulle te bou. Ons is by elke besoekpunt waar ons aangedoen het, hartlik en vriendelik ontvang; iets wat ons net opnuut weer laat besef het dat ons een groot geloofsfamilie in Christus is.
Wat was die hoofdoel van julle besoek en wat het dit vir die uitreikspan beteken, Wouter?
“’n Belangrike deel van die uitreik is om kulturele blootstelling aan ons lidmate en teologiestudente te gee, verhoudings met ons Sotho-geloofsfamilie in Lesotho te bou en om te help waar ons kan.
“Ons is baie opgewonde oor die moontlikheid dat van die LECSA-studente wat ons nou tydens ons uitreik ontmoet het, dalk later vanjaar na Bloemfontein kan kom om hier saam met ons ‘n paar projekte te besoek.
“Op hierdie manier word die uitreik ‘n wederkerige geleentheid waar ons mekaar se lewenswêrelde kan verken en belangrike verhoudings kan bou.
Elke besoekpunt bied natuurlik iets unieks, né?
“Ja, beslis. Dit was in geheel ’n ryk en gevarieerde blootstelling; iets wat so nodig is om mekaar se wêrelde beter te kan help verstaan.
“Op Maphutseng het ons lopende (en warm) water gehad, spoeltoilette en ‘n toegeruste kombuis.
“Op Qomo-Qomong moes ons egter water by ‘n sentrale kraan gaan tap. Boonop was daar net puttoilette en moes ons ‘n vuur en gasstofie gebruik om kos te maak. As jy aan die einde van die dag wou bad of stort, moes jy water in ’n kan kook en in ‘n skottel bad – en onthou, dis in die hartjie van die winter – in Lesotho! Vir die minder dapperes was daar wel die opsie van ’n wet wipe-bad.
“Op Morija het van die studente van die teologiese seminarium spesiaal hul vakansiedae opgeoffer om ons eers te ontvang voordat hulle met vakansie gegaan het; iets wat ons baie waardeer het. Hulle het ons op die stasie begelei met besoeke aan die seminarium-geboue, die verpleegsters se opleidingskollege, die drukkery op die dorp asook die Christelike radiostasie.
“By Maphutseng het ons tyd deurgebring saam met die studente wat deel vorm van die opleidingsprogram. Ons is ingelig oor die Farming God’s Way-program, het deur die landerye geloop en ’n bietjie plaasarbeid gedoen. Daarna het ons saam met die studente en personeel Bybelstudie gedoen.
“Die laaste aand daar was baie spesiaal. Ons span het toe vir hulle kos gemaak nadat ons eers saam Bybelstudie gedoen het. Ná ete het ons lekker saam bordspeletjies gespeel; ’n vrolike afsluiting van ‘n besondere aand wat ons nooit sal vergeet nie.
“By Qomo-Qomong het ons deelgeneem aan die erediens. Ek het die dag voor die tyd sommer ‘n impromptu-uitnodiging ontvang om te preek. Gelukkig het ek ‘n preek in my Bybelsak beskikbaar gehad!
“Ons is toe ook genooi na ‘n fondsinsamelingsgeleentheid daarna. Dit werk so: jy kan voor in die kerk kom dans, maar jy moet aanhou totdat iemand jou ‘uitkoop’, wat nogal vermoeiend kan raak. Die uitkoopgeld word dan deel van die fondsinsameling en verskaf baie pret.
“Ons het ook gedurende die uitreik die binnekant van die kerk ‘n nuwe laag verf gegee, van ons spanlede het met die kinders gespeel en ons het ook ‘n pastorale huisbesoek meegemaak.
“Ons gemeente, in samewerking met Bloemfontein-Wes, het ook, as deel van Projek Winterhoop, klere en skoene ingesamel wat ons aan die gemeente in Qomo-Qomong geskenk het. Terloops, met die dag van ons vertrek uit Bloemfontein het ons besef dat ons glad nie genoeg plek in die waentjie het vir al die klere wat ons ontvang het nie. Ons moes toe inderhaas gou die agterste ry stoele in ons bussie uithaal om plek te maak!
“Van die mees besondere oomblikke was saans wanneer ons saam met die plaaslike predikant om die vuur gesit en al geselsend kosgemaak het.”
Wat het hierdie uitreik vir die mense beteken?
“Dit was vir ons almal ‘n baie leersame ervaring gewees. Tydens nabetragting oor die uitreik is getuienisse soos die volgende gehoor: ‘Ek het tydens die uitreik nederigheid en lankmoedigheid geleer’, en ‘Ek het God meer leer vertrou deur gedeelde en geleefde ervarings.’ Iemand anders het getuig: ‘Ek het God se getroue voorsiening gesien,’ en ‘Ek het ’n dieper liefde vir God se mense en sy skepping in eenvoudige, alledaagse momente gekry.’
“Vir die Sotho’s by die seminarium en Maphutseng was dit lekker om ons as besoekers te kon ontvang, en op Qomo-Qomong is daar groot waardering uitgespreek vir die klere en die uitverf van die kerk.
“Ons dank die Here vir hierdie kosbare blootstelling wat vir beide ons Sotho-vriende en vir ons ’n wonderlike en verrykende ervaring was. Volgende jaar maak ons weer so!”
Vir meer inligting kan ds Wouter van Velden by vanvelden.wouter@gmail.com gekontak word.
| Verskaf deur: Ds Wouter van Velden.
					
	
								






