Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kougom 2026 – ’n nuwe begin

Deur ds Wouter van Velden, Kopanong Studentebediening

“Goodbye Yesterday”. Dit was die tema van die jaarlike Waypoint[1] studentekamp wat vanjaar van 23 tot 26 Januarie plaasgevind het (of, as jy ’n spanlid was, alreeds van die 22ste af). Gedurende hierdie paar dae het jongmense op die VCSV Retief kampterrein bymekaar gekom vir lofprysing en geestelike gesprekke, maar ook vir vele vorms van pret en plesier.

Vanuit Paulus se lewensverhaal is daar nagedink oor die nuwe begin wat veral die eerstejaarstudente nou maak. Enersyds sê hulle totsiens aan gister, aangesien skool nou verby is en ’n nuwe fase op universiteit afskop. Andersyds het die verhaal ons ook aangemoedig om die ou self, die sonde van die ou mens agter te laat en om as die nuwe mense wat God ons gemaak het, te leef (2 Korintiërs 5). En om te ontdek dat God ook vir elkeen van ons as nuwe mense ’n spesifieke roeping het.

In hierdie verband het die getuienis van Ivor Swartz, wat Saterdagmiddag as gasspreker opgetree het, ’n besondere impak gemaak. Hy het jongmense aangemoedig om te ontdek watter roeping God vir hulle het, ongeag hoe hulle verlede lyk.

Ons hoop dat elkeen van die eerstejaars wat die kamp meegemaak het, vinnig ’n geloofstuiste hier in Bloemfontein sal vind (sien ook hieronder die grafika met QR-kodes vir die verskillende punte waar hulle kan inskakel) en dat hulle op hulle beurt volgende jaar se eerstejaars sal kom verwelkom.

[1] Waypoint: die studentebedieningsnetwerk van die NGKV en wat bestaan uit Kopanong, SINK by Langenhovenpark, Pellisier en Centre of Faith by Geloofsentrum

 | Foto’s van Kougom 2026 is deur ds Wouter van Velden, verskaf.