Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Goeie bestuur – die sleutel tot ’n meer volhoubare kerk en kerklike instansies

“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”

| Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis

Die Reformed Family Forum (RFF), bestaande uit die algemene sekretarisse van al ons NG Kerkfamilies in Suid-Afrika en ons Gereformeerde susterskerke in Sub-Sahara- Afrika, vergader een maal per jaar.

Vanjaar het dit vanaf 23 tot 26 Oktober by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS) in Wellington plaasgevind. Die byeenkoms het afgeskop met ds TK Ilesanmi as gasspreker. Hy is die uitvoerende direkteur van Leadership Development Initiative (LDI) in Suid-Afrika en die onderwerp wat bespreek is, was “Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions”.

Ná heelwat groepbesprekings tydens die aanbieding het ons by dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis, meer gaan uitvind oor wat hy ná die drie dae wyser is oor dié onderwerp. Ons wou ook weet wat hy kan toevoeg uit sy jare lange ervaring in hierdie veld.

Nico, dis nogal ’n komplekse onderwerp. Wat het julle hierop laat besluit?

“Ek en dr Daniël de Wet, my kollega in die Wes-Kaap, het besef dat ons RFF-kerke met baie administratiewe uitdagings te kampe het, aangesien ons kerkstrukture oor die jare verskillend ontwikkel het. Waar die NG Kerk ’n baie gedesentraliseerde stelsel het wat die bedieninge in streeksinodes betref, het van ons susterskerke meestal ’n gesentraliseerde pad gevolg. Hulle werk dus meer sentraal vanaf ’n algemene sinodale vlak af. Werksaamhede soos hul jeug- en armoedeverligtingsprogramme sorteer dus meestal onder die mandaat van hul algemene sinodale kantore.

“Vennote vanuit ander denominasies en donateurs skakel dan by hierdie programme en instellings in en raak daarby betrokke, maar dit moet natuurlik alles bestuur word.

“Ons het mettertyd agtergekom dat sommige van dié projekte sleg ten gronde begin gaan; dermate dat baie van die vennote en donateurs nie meer saam met van hierdie kerke die programme wil doen of ondersteun nie. Dit is as gevolg van ’n verlerlei faktore, soos byvoorbeeld verkeerde aanstellings in die bestuur, ondeursigtigheid met finansies, inmenging deur kerkleiers in operasionele aangeleenthede, ensovoorts.

“Een groot verandering wat in ons kerkfamilie uitgelig kan word, is verskuiwings wat in teologiese opleidingsinstellings begin plaasvind het. Baie van die tradisionele teologiese skole of opleidingsinstansies het oor die jare universiteitstatus begin aanneem. Kerke het dus nou universiteite begin ontwikkel waar hulle teologiese opleiding doen, maar omdat dit nie altyd finansieel volhoubaar is nie, bied hulle dan ook ander studierigtings aan om die pot aan die kook te hou.

“Die dilemma is egter dat hierdie universiteite in baie gevalle deur predikante en nie bestuurkundiges in die veld van hoër onderwys nie, bestuur word. Sinodebesluite word dikwels geneem sonder om die praktiese gevolge daarvan vir hoër onderwysinstellings of universiteite te verreken. Die kombinasie van verkeerde besluite en aanstellings skep ’n legio probleme.

“Omdat die speelveld van hoër onderwys en die universiteitswese ’n baie gespesialiseerde veld is, is daar armlengte-afstand nodig om gehalte-onderrig en volhoubare bestuur te verseker.  As daar dus nie die nodige bestuursafstand tussen die kerk en die instellings is nie, is daar voortdurende inmenging, en dit bemoeilik en verlam die effektiewe bestuur van hierdie instellings. ’n Harde realiteit is dat van ons familiekerke tans finansieel swaar gebuk gaan onder die las van hoër onderwysinstellings en universiteite wat nie goed funksioneer nie.”

Hoe het dit gebeur dat julle so gelukkig was om ds TK Ilesanmi as gasspreker te kry?

“Ek het ds TK Ilesanmi vroeër vanjaar by ’n Association for Christian Theological Education in Africa (ACTEA)- vergadering raakgeloop. Hy doen baie konsultasiewerk oor die lengte en breedte van Afrika, juis om te help met die bestuur van kerkinstellings. Hy begelei instellings om goeie beheerrade aan te stel sodat daar onafhanklikheid tussen die kerk en sy universiteit en/of instellings kan bestaan. Op hierdie manier kan akademiese vryheid en akademiese gehalte nie op die spel geplaas word nie en kan ander instellings soos hulpagentskappe van die kerk goed funksioneer.

“Ds Ilesanmi was die ideale persoon om ons algemene sekretarisse oor hierdie delikate onderwerp te kom toespreek. Hy het meer as dertig jaar se pastorale en bestuurservaring, wat hom ’n deeglike begrip vir beide die kultuur en die konteks van leierskapskwessies in Afrika gee.

“Buiten ’n BTh in Teologie (1992) het hy ook ’n MA in Leierskap (2012) verwerf. Hy is ook ’n geakkrediteerde bestuurskonsultant van BoardSource in die VSA en het al verskeie referate oor organisatoriese leierskap en beheer by verskeie konferensies regoor die vasteland van Afrika en verder gelewer.

“Ds Ilesanmi se aanbieding was van groot waarde oor hoe ons algemene sekretarisse hul eie organisasies, instellings en programme beter kan struktureer en die verskil tussen beheer (governance) en bestuur (management) beter kan verstaan.

“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen – wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”

Nico, wat sou jy sê is ons kerkleiers se grootste persoonlike uitdagings in die bestuur van gemeentes, nadat jy na almal tydens die konferensie geluister het?

“’n Groot uitdaging waarmee Afrika worstel, is dat toe daar met sendingwerk begin is, sendende kerke en sendingorganisasies in baie gevalle ’n bepaalde kerkregeringstelsel of kerkbestuurstelsel in plek gehad het wat net so in die nuwe kerk gedupliseer is.

“Hierdie kerkregeringstelsel was nie aangepas om in Afrika diens te doen nie; dis in baie gevalle ’n Europese of Amerikaanse stelsel wat op Europese of Amerikaanse denke en ordereëlings geskoei is. In die Afrika-konteks werk dit heeltemal anders. Ander stelsels wat dikwels baie meer effektief is, funksioneer hier. Ons het nooit hierdie stelsel laat integreer of geïnterkulturaliseer met inheemse Afrika-stelsels nie. Ons het eenvoudig net gesê: ‘Dis soos jy ’n kerk regeer en dis hoe dit moet werk.’

“Ons familiekerke se uitdaging is dus nou dat ons ’n bepaalde struktuur in stand moet hou wat van ons NG Kerk-voorouers geërf is. Dit word egter al moeiliker om hierdie stelsel te bly implementeer, want hierdie stelsel is vreemd en duur. Dit werk op bepaalde aannames, naamlik dat jy bepaalde strukture en mense in plek moet hê om bepaalde uitkomste te kan genereer.

“Mettertyd is hierdie stelsel egter al deur die susterskerke geïnterkulturaliseer, maar in baie gevalle het ons dit ongelukkig verder ver-Europees of ver-Amerikaans in plaas daarvan om dit minder Europees of Amerikaans te maak. Weens kapasiteitsprobleme ten opsigte van goeie bestuursvaardighede en nypende finansiële druk kan ons dikwels hierdie groot, lomp stelsel net nie meer in stand hou nie.

“So, met toenemende armoede op ons kontinent is geld die groot uitdaging; finansiële ondersteuning is nodig om hierdie stelsels te kan onderhou. Daar is strukture en poste geskep en gemeentes kry swaar om hierdie strukture aan die gang te probeer hou. Tog voel hulle dis hoe hulle dit moet doen en hoe die kerk moet funksioneer.

“Wat egter nie gebeur nie, is dat daar dikwels nie ’n kritiese evaluering van ons ekklesiologie en modelle van kerkregerings plaasvind nie. Krities-evaluerende vrae soos ‘Kan ons dit anders doen; iets wat dalk meer inheems en baie meer koste-effektief sal wees?’ is baie belangrik.”

Watter rol speel die ekonomiese en sosiale realiteite wêreldwyd?

“’n Term wat die afgelope twee jaar in my ekumeniese skakeling met ander Afrika-lande gereeld opkom, is African contextual realities. Die oorloë in byvoorbeeld die Oekraïene en nou ook Gaza het wat stygende kos- en energiepryse betref, ’n bepalende invloed op Afrika. Aan die ander kant is daar Afrika se interne konflikte (Soedan, die Kongo en die Sahara-streek), wat ’n baie onstabiele geopolitieke omgewing op die kontinent skep. Dit alles lei direk tot verhoogde armoede en die uitbuiting van mense.

“Alhoewel daar gesprek gevoer word oor de-kolonialisering (die gesprek oor die effek van die koloniale verlede op Afrika), is daar op ons kontinent ook ander hedendaagse kolonialiserende magte aan die werk. Dit gaan dus nie meer net soseer oor die Westerse kolonialisering wat plaasgevind het nie, maar ook oor die neo-kolonialisering as deel van ons African contextual realities wat in die huidige tyd afspeel. Hier kan ons byvoorbeeld China noem wat ’n groot speler in die Afrika-ekonomieë is. Die Chinese pas nie altyd etiese praktyke toe nie; ons lande word al dieper en dieper in die skuld gedompel en ons natuurlike hulpbronne word in baie gevalle geplunder. Dus word die kontinent uitgebuit onder die dekmantel van ontwikkeling en dra dit by tot groeiende armoede.

“Tesame hiermee sit ons met ’n baie sterk invloed van ’n Amerikaanse teologie van wealth, health, happiness and prosperity wat inkom as ’n ‘teenvoeter van Afrika-armoede’. Hierdie model word dan voorgehou as ‘God se seën’ en ‘verseker finansiële voortuitgang’ vir die leier en sy kerk as dit gevolg word. So, dit beteken dat daar op ’n manier ’n verryking van kerkleiers plaasvind ten koste van die arm lidmate wat bydraes lewer in die hoop dat God hulle sal help om uit te styg bo hulle armoede.

“Die vraag is dan: Hoe volhoubaar is ons kerke? Ons kan volhoubaar wees as ons in-kulturaliseer en regtig kontekstueel kerk begin wees. Maar dan gaan dit verg dat ons ander denke oor en modelle van kerkwees op die tafel sal moet sit; denke weg van gesentraliseerde mag en modelle wat nie poog om duur strukture en geboue in stand te hou nie; modelle en denke waar die kerk plaaslik in gemeenskappe ’n verskil maak en die lidmate bemagtig word om hul getuienistaak uit te leef en hulle binne hul fisiese lewensomstandighede kan floreer.

“Ons NG Kerk hier in Suid-Afrika sit met dieselfde bagasie. Ons het ook groot kerkgeboue en strukture wat in stand gehou moet word en wat alreeds vir baie gemeentes ’n stryd is.

“Ons sal dus opnuut met mekaar moet saamdink oor wat dit beteken om volhoubaar kerk in Afrika te wees. Is ons kerkmodelle volhoubaar, of is daar Afrika-modelle wat kerk regtig vir ons sinvol maak? Mense wat in ’n area te woon waar hulle hard moet werk om ’n bestaan te kan maak, soos op die platteland, is nie minderwaardig teenoor diegene wat in ’n stedelike kantooromgewing werk nie. Ons moet outentiek kerk wees in sowel plattelandse as stedelike kontekste. Ons moet daar wees waar die Here ons geroep het om kerk te wees, of dit nou in Noord-, Suider-, Oos- of Wes-Afrika is. Of dit onder ’n boom of in ’n gebou is, is irrelevant ten opsigte van ware kerk-wees.

“Volhoubaarheid lê by onsself; dis nie iets wat iemand anders vir ons gaan doen nie. Dis belangrik om ons eie maniere van volhoubaar kerk-wees te ontdek binne die konteks waarin ons ons bevind. Dalk sal dit goed wees as ons deur die evalueringsprosesse ten opsigte van ons instellings gaan en bepaal: Moet ons hiermee besig wees – Ja of nee? Kan ons kerk wees sonder om met hierdie modelle te werk wat eintlik in hulle wese Westers is?”

Nico, hoe sou jy voorstel moet kerkleiers omgaan met donateurs?

“In die konteks waarmee ons vandag sit, is baie van ons kerke ‘donor dependant’, so die strukture en instellings wat tot stand gebring is, kan nie regtig deur onsself onderhou word nie. Donateurs of vennote kom van buite af in om te help, maar met hul eie bepaalde oogmerke.

“As agtergrond is dit belangrik om te onthou dat geld wêreldwyd al hoe skaarser word. Soos daar ’n inkrimping in hoofstroomkerke hier in Suid-Afrika is, is daar ook ’n inkrimping in Europa en Amerika. Dit beteken dat geld wat wêreldwyd vir humanitêre hulp of sending beskikbaar is, ook al hoe minder word.

“Die kerke wat ontstaan het as afhanklike kerke van groter kerke is dus baie afhanklik van hierdie kerke vir die finansiering van hul werksaamhede, programme en instellings, maar hierdie fondse is besig om dramaties op te droog.

“My en kollega dr Daniël de Wet van Wes-Kaap se werk is om ons gesprek met donateurs en vennote wêreldwyd aan die gang te hou. Dit raak egter al hoe moeiliker. Donateurs het hul eie oogmerke of doelwitte wat hulle graag wil bereik met die geld wat beskikbaar is. Dit raak, namate geld al skaarser word, dus nou baie meer gedefinieerd. So, geld word nie meer net gegee nie, maar gegee met ’n bepaalde doel.

“Een van ons grootste struikelblokke in Afrika is om werklik verantwoordbaar vir en deursigtig te wees met die geld wat ons ontvang. In baie gevalle het programme doodgeloop en donateurs onttrek omdat daar nie deursigtigheid was nie; daar is nie verantwoordelikheid aanvaar vir die gebruik van die geld nie.

“My raad aan kerkleiers is: Moenie met die geld wat jy ontvang, omgaan soos jy wil nie; speel volgens die reëls wat deur die donateurs vasgestel is. Jy moet sélf bepaal of jy die geld van die donateur wil ontvang of eerder nie. As daar byvoorbeeld te veel bepalings op die donateur se lys is waarvoor jy nie kans sien nie, stel ek voor dat hierdie geld dan eerder nie aanvaar word nie.

“Die hartseer wat ons sien, is dat die geld dikwels as gevolg van groot desperaatheid eenvoudig net aanvaar word. Jy aanvaar dus geld wat jy weet jy nie volgens die donateurs se bedoeling kan aanwend nie. Jy gaan dus nie deursigtig daarmee om nie en daar sal ook nie die nodige checks and balances wees nie. Geouditeerde state, goeie finansiële bestuur en al daardie belangrike bestuursbeginsels is dan afwesig.

“Eintlik word daar vandag eerder van vennootskappe in plaas van donateurs gepraat. Wêreldwyd sal min instellings ’n donateur wees wat net geld gee. Gewoonlik word dit in ‘n vennootskapsooreenkoms of memorandum van verstandhouding (memorandum of understanding) gedoen: ‘Ons sal hierdie en hierdie fondse beskikbaar stel, maar dan moet dit en dat die uitkomste wees wat ons graag wil sien.’

“Ons kerkleiers sal baie meer aandag hieraan moet gee en ons eie interne sisteme moet opgradeer en goeie verhoudings met donateurs moet hê. Jy kan nie net besluite neem en nie jou donateurs en vennote inlig nie. Jy kan nie net jou eie ding doen met die geld wat hulle vir jou gee nie; dis ’n samewerkings- en vennootskapsverhouding en ons sal as kollegas moet saamwerk om juis dit te versterk.”

Wat sou jy sê is die grootste struikelblokke in die leierskap van ons kerke in Afrika?

“Ten opsigte van ons kerkregeringstelsels is daar grootliks drie tipes, naamlik die episkopaalse stelsel wat werk met die biskop of die pous wat die outoriteit het en die besluite neem en die ander kerkvergaderings is dan raadgewend tot die besluite van hierdie persoon. Tweedens kry jy die presbiterale stelsel waar lerende (leraars) en regerende ouderlinge saam regeer en waar hulle volgens ons belydenisskrifte nie bo mekaar verhewe is nie. Dieselfde aantal leraars as ouderlinge regeer die kerk.  Derdens kry ’n mens die kongregasionalistiese (congregationalist) stelsel waar onafhanklike gemeentes self besluite neem oor hoe hulle regeer moet word.

“Die model waarmee die NG Kerk sendingwerk gedoen het en waaruit ons susterskerke in Afrika ontstaan het, is ’n presbiteraal-sinodale stelsel. Ons kerkrade, wat uit leraars, ouderlinge en diakens bestaan, vergader en daarmee vorm ons ringe en sinodes. Dis ’n baie plat struktuur met ’n moderator as voorsitter van die sinode.

“Die uitdaging wat ek by sommige van ons kerkleiers merk, is dat hulle geskuif het van ’n presbiterale na ’n meer episkopaalse stelsel. Dit beteken dat van die moderators en moderature hulleself al hoe meer as biskoppe begin beskou. Hulle wil dan ook graag ’n bepaalde mag en identiteit aan die taak koppel. In sommige gevalle word die moderatuursposisies ook net deur leraars beklee; daar is dus geen interaksie met ouderlinge nie.

“Dit maak die leierskap baie uitdagend, want jy sit met leierskappe soos moderature wat al hoe meer met ’n episkopaalse mag en gesagstruktuur funksioneer. ’n Uitvloeisel daarvan is dat daar dikwels buite kerkordes opgetree word en dit soms selfs na goeddunke eensydig verander word. Dit lei tot baie spanning en konflik binne die kerke.

‘n Outokratiese leierskapstelsel is nie vir ons kontinent vreemd nie, omdat die stamhoof of hoofman van ’n area vir ons ’n aanvaarbare struktuur is waar hulle outokraties in die besluitnemingsmandaat optree.

“In ons Gereformeerde verstaan kies ons egter juis vir die presbiterale stelsel waar die ouderlinge saam met die leraars regeer.

’n Subtiele skuif in ’n kerkregeringstelsel veroorsaak dat dit die kerkregering bemoeilik, veral vir die algemene sekretarisse wat dan dikwels ten opsigte van besluitneming nie in ag geneem word nie. As Gereformeerdes moet ons waak teen die geneigdheid na ’n episkopaalse stelsel. Die presbiterale stelsel waarvoor ons kies, wil juis gelykheid binne die kerk daarstel waar ons saam met mekaar, en nie teenoor mekaar nie, kan besluite neem.”

Waarop moet dan gefokus word om kerkregering te verbeter of meer effektief te kan laat werk?

“Dis eintlik ’n teologiese vraag wat in ons teologiese opleiding aan die orde gestel moet word. Dis juis hier waar ek dink ons teologiese opleiding ’n bietjie in die moeilikheid is, omdat ons tans in heelwat Afrika-lande nie baie geskikte persone in kerkgeskiedenis en kerkreg het om ons kerkleierskap te begelei om hierdie knelpunte te help verstaan en aan te pak nie. Ek dink daar moet op die lang termyn ’n ander nadenke ten opsigte van kerkverstaan en -begrip of ekklesiologie kom.

“Maar goed, ons werk met die Reformed Family Forum se algemene sekretarisse en help dink saam aan oplossings vir ons unieke uitdagings in ons verskillende situasies en kontekste.

“Ons kerke sal maar op ons eie manier moet leer wat effektief werk en wat nie; lidmate beweeg na ander denominasies toe as hulle ervaar dat hulle uitgebuit word, of dat die kerkleierskap nie deursigtig is nie. Dis soms ’n harde leerskool vir kerke.

“Ek dink dit doen die Koninkryk van die Here baie skade aan, want my waarneming is dat die heersende kerkbegrip in ons kontinent ’n episkopaalse kerkregeringstelsel is; nie net in die hoofstroomkerke nie, maar veral ook in die onafhanklike kerke. In die onafhanklike kerke hoor ons al hoe meer die terme profeet, biskop, aartsbiskop en selfs kardinaal. Dis terme wat uit die Rooms-Katolieke en Anglikaanse tradisie kom, maar die onafhanklike kerke gebruik al meer en meer hierdie titels. Die vraag bly of dit ’n onevangeliese soeke na outoriteit en mag is, of omdat dit dalk meer aanklank vind binne die Afrika-kulturele raamwerke van outoritêre leierskap. Ek dink dit is die uitdaging waaroor ons sal moet praat.

Die vraag is ten slotte: “Is dit ’n goeie regeringstelsel en is dit volhoubaar om dit so in Afrika te doen?”

 

Kontak dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za vir meer inligting.

 | verskaf deur dr Nico Mostert: Groepbesprekings tydens die aanbieding van ds TK Ilesanmi oor ‘Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions’.

 | verskaf deur dr Nico Mostert: Ds TK Ilesanmi en dr Nico Mostert.

116 | Maatskaplike NOODLYN