Deur Ethan Kleynhans, ’n tweedejaar-teologiestudent (BDiv) aan Kovsies
Vroeg op ’n Dinsdagoggend het predikante en enkele teologiestudente van die Vrystaat Sinode koers gekies na Amanzi Private Game Reserve, vir drie dae se wegkeer van die gewoel, en ’n stilwordkans om weer te hoor, te bid en saam te onthou.
By aankoms het ds Jan Lubbe almal verwelkom, waarna ds Adrie Potgieter die eerste stilwordgeleentheid gelei het. Met Elia se verhaal as reismaat: vlugtend, moeg en tog deur God opgeraap; het die stilte vir baie ’n sagte rusplek geword. Stil sit, saam luister en stil bid was die hart van hierdie drie dae, en tussen-in het kort stappies in die veld en diep gesprekke nuwe asem gebring.
’n Kernoomblik was ook dr Tom Smith se roepingsgesprekke, waar elkeen weer kon nadink oor waar en hoe God roep; vir hulself, hul gemeentes en hul gemeenskap. In geselskap is hoop en wanhoop eerlik gedeel: hoe ons kerk dikwels swaar dra, maar ook steeds nuwe ruimte vind vir hoop.
Op die eerste aand het die koue die planne vir ’n ete in die Bush Boma gedwarsboom, maar binne was dit warm, nie net in die vertrek nie, maar ook in harte. Christof van den Berg het met sang en klaviermusiek ’n atmosfeer van vrede geskep, wat die stilte net dieper gemaak het.
Teen die laaste oggend is die laaste stilwordkans oor Elia, hierdie keer wetend en op pad terug, ’n laaste anker vir almal se roeping. Die legitimasie van ’n nuwe diensleraar het herinner dat God steeds roep, en die pad huis toe is aangepak met kospakkies in die hand en ligter harte.
Vir baie was dit nie net die stilte wat vernuwing gebring het nie, maar die gemeenskap: om te besef ons is nie alleen nie. In stories, lag en gebed is ons weer herinner dat ons saam roepingsdraers is, en dat God sy genade dikwels fluister deur die stilte, maar ook deur mekaar.






















































