Vandag vorm die gee van geskenke vir mekaar ‘n sentrale deel van Kersfees. Vir baie is die kans om geskenke te kry dikwels die hoogtepunt van die feestyd. Waar kom die gebruik vandaan?, vra jy. Party sou sê dit kom van die wyse manne uit die Ooste wat vir Jesus geskenke gebring het, geskenke gepas vir ‘n Koning. Tog weet ons dat die grootste geskenk wat ons kry is Jesus wat aarde toe kom, God wat Sy Seun vir ons kom gee.
Dalk is die vraag wat ons eerder moet vra, nie wat het jy gekry nie, maar eerder wat het jy gegee? Wat gee jy hierdie jaar? Filippense 2:5-11 dui daarop dat ons gesindheid moet ooreenstem met dié van Jesus. God kom en gee vir ons sy Seun, die heel grootste geskenk wat ons ooit kan ontvang. ‘n Duur geskenk wat Sy lewe kos, Hy gee homself en is bereid om vir ons te sterf. As ons dan sê Jesus gee Sy lewe, wat gee ons?
Die grootste geskenk wat ons ooit kan kry is Jesus, maar hierdie geskenk se betekenis word eers dieper ontdek wanneer jy dit vir ander begin gee en met ander deel. Jesus se voorbeeld wys vir ons dat ons ook onsself moet gee.
Kerstyd is ‘n tyd van deernis. ‘n Tyd waar ons dié om ons raaksien wat nie kos op hulle tafels het nie. Dis die tyd waar ons ‘n kruk word vir dié wat deur die lewe mank geslaan is. Kerstyd is omgee-tyd, trane-afdroog-tyd, selfgee-tyd.
Jesus sê vir ons in Johannes 12:46 “Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat die wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”
Kerstyd vra van ons om ligte vir hierdie donker wêreld te wees.
Mag jy in hierdie Kersfeestyd Jesus se wonderlike geskenke ontvang. Mag jy dit ook gaan deel met almal rondom jou!

