voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Waar staan ons nou ná Donderdag, 3 Oktober?
Die afgelope Buitengewone Sinode van die NG Kerk Vrystaat verlede Donderdag by Kopano Nokeng, was ons derde sitting in drie jaar (Maart 2022, April 2023, Oktober 2024). Só baie het in ons Vrystaat gebeur, sóveel is daar onder ons oor alles gepraat. Ons het ’n welwillende weg met mekaar begin soek, tree vir tree. Ons het geleer om soggens ons oog op die wolk te hou – “of dit nou twee dae, ’n maand of langer was” – en om met die verwagting te leef dat Gód ons sal lei (Numeri 9:15-23). Ons het leer bid vir “wysheid van bo (wat) suiwer, vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis, goeie vrugte en geregtigheid” is (Jakobus 1:5, 3:17-18). In die lewe van ’n gelowige en kerk is dít nooit klaar nie.
Vandaar my eerste gedagte by nabetragting oor verlede Donderdag: Wat behoort in ’n sinode te gebeur? Ons bely dat Christus sy Kerk “deur sy Woord en Gees in die eenheid van die ware geloof vergader, beskerm en onderhou” (HK Sondag 21). Oók wanneer die Kerk in haar vergaderings byeenkom, getuig ons Kerkorde (Artikels 20, 21, 22, 24, 32 en 37). “In die lig van God se Woord”, staan daar telkens. As Sinode het ons nou drie keer duidelik gesê dat die Bybel vir ons Gods Woord is, wat deur eeue Skrif geword het; wat vir ons sy Skeppingswoord belig; wat vlees geword het in Christus en ons roep om Hóm in liefde en waarheid te volg; wat lewend gemaak word deur sy Gees in elke tyd. Daarom moet ’n sinode luisterend te werk gaan, geloofsonderskeidend: Wat vra Jesus hier van ons; hoe lei God ons nou – in die volheid van sy openbaring?
’n Tweede gedagte. Dié gawes van God se lewende Woord en Gees word aan ’n hele sinode gegee – aan broers en susters sáám. Dis die geskenk van só ’n vergadering; nie net “ék” met wat in mý binnekamer gebeur nie, maar “óns” sáám, hier. Geloofsonderskeiding vra dat ons ons belydenis oor die communio sanctorum ernstig sal neem en daar ín vergadering oefen; “dat almal saam en elkeen afsonderlik sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander sal aanwend” (HK Sondag 21). Dis hoekom daar kerkraadslede in só ’n sinode moet wees: Gelowiges soos ’n ma of pa met ’n kind, ’n boer wat genetika ken, ’n regsgeleerde, ’n pastorale sielkundige, ’n ervare verpleegkundige, ’n mediese spesialis… wat getuig oor hoe húlle die Woord lees, verstaan en glo – soos verlede Donderdag. Ons leer van mekaar en óók by diegene wat van my verskil. Aan dié ryke verskeidenheid van stemme in ons geloofsgemeenskap, moet ek my liewer nie onttrek nie.
Maar mens moet ook – derdens – perspektief behou oor hoe só ’n vergadering tot ’n besluit kom. Die Kerk is ’n Christokrasie, bely ons, nie ’n outokrasie όf demokrasie nie. ’n Outokrasie werk met vrees en dwang, mag en manipulasie. Ons het as Vrystaatse NG Kerk die afgelope drie jaar daarvan probeer wegbly, deur na mekaar te bly luister, inklusief en deursigtig te werk. ’n Demokrasie weer, werk met die mag van meerderhede. As dit net oor ’n stemming oor drie beskrywingspunte gegaan het, kon ons dit mos maar van die huis af of uit die konsistorie whatsApp of op “google forms” voltooi en instuur, klaar? En die tel van koppe vooraf όf agterna: 10 stemme is tog nie noodwendig 5 gemeentes nie? Met ’n uitpluis van wie wat gestem het en wat as dié of daardie ánders gestem het? Gaan dit oor “wen” of “verloor”, of oor die vind van ’n konsensus, so goed ons kan? Ons het verlede Donderdag verwysings na Handelinge 15 se eerste kerkvergadering gehoor: Dáárdie afhanklikheid van die Gees in die vormingsjare van die Nuwe Testamentiese Kerk; eenheid in essensie, terughoudendheid in die res; nié ekstreme nie, maar vryheid van gewete; die intensie van Jesus se gebed vir ons (die héle Johannes 17). Ons het nié die uitkoms van die stemming vuis in die lug na enige kant toe – triomfantlik όf woedend – ontvang nie, en daaroor is ek dankbaar.
Ons moet voorts eerlik wees oor die werklikhede waarin ons leef – dit is my vierde gedagte. Wat ookal ons verlede Donderdag sou besluit, verander niks aan die groter konteks van ons samelewing nie. Ons NG Kerk tel ± 70 000 siele in ’n Vrystaat met by die 3 miljoen inwoners; ons is klein. Suid-Afrika is ’n sekulêre staat; ’n demokrasie waarin ’n verskeidenheid van kulture en oortuigings moet saamleef; ’n grondwet wat minderhede beskerm; ’n huwelikswet wat ruimte maak vir ánder opvattings as net myne en moontlik ook al meer gáán. Wat is ons profetiese- en priesterlike taak in só ’n land? Behoort ons as predikante byvoorbeeld ook huweliksbevestigers te wees wat namens die owerheid sulke juridies-administratiewe funksies verrig? Ons nadenke en getuienis hieroor, is nie verlede Donderdag afgehandel nie.
Nét so moet ons realisties wees oor die posisie waarin die NG Kerk “in algemeen sinodale verband” haar bevind – ons konteks as kerkverband. Enersyds gaan dit oor vrae oor die reikwydte en bindingskrag van die 2019-hofuitspraak – kan ek teen my gewete in gedwing word om iets te doen waarvan ek nie oortuig is nie? Nee. Sou ek hiervan kon “wegkom” deur my “van die Algemene Sinode te distansieer” of ’n ander kerk te vorm? Twee (regs)menings… Aan die ander kant: ’n “Algemeen sinodale verband” beteken ook dat ons deel is van ander NG Kerke regdeur Suider-Afrika, ’n groot veelheid en verskeidenheid waarin ons met vryheid en verantwoordelikheid kan tuis wees. Word ons bediening regtig hierdeur “gedwing”? Ons opdrag aan die Moderamen was om ná 3 Oktober verder te dink oor wie ons as gereformeerde kerkfamilie is en om ons verstaan van ons identiteit en selfstandigheid aan die res van ons kerkverband oor te dra.
’n Voorlaaste gedagte, oor die konteks in ons gemeentes. Ons het verlede Donderdag vir mekaar gesê dat dit oor mense gaan, God se kinders – mans, vroue, hetero- én homoseksueel. Dít is die realiteit waarin ons lidmate in gesinne en families leef; in verhoudings, jonk en oud, vóór- en buite- en ná ’n huwelik. Ons word gevra om saam met hulle die Woord van God te lees en te bedien; ’n Woord waarin daar tussen Genesis en Openbaring véél geskryf is oor menslike seksualiteit, erotiek en liefdesverhoudings. Soos wat Jesus gesê het oor God se bedoeling heel aan die begin (Matteus 19) én dat daar in die hemel waarheen ons op pad is, nie in huwelike getree sal word nie (Matteus 22) – ons is tussen dié begin en einde onderweg. Ons sal die Skrif nóg beter moet lees vir ons seksuele etiek, en bid dat die Heilige Gees ons sal lei om rein en verantwoordelik hiermee te leef, wie ons ookal is.
’n Slotgedagte ter nabetragting: Daar is ánder vrae hier in die Vrystaat. Mense is honger en bang, ons lidmate kry swaar, baie verloor moed – die Evangelie praat hieroor! Gemeentes het kleiner geword en baie het nie meer ’n dominee nie – wie, en hoe gaan ons help? Ons leef in ’n gewelddadige land en wêreld – Jesus het die treurendes, barmhartiges en vredemakers “geseëndes” genoem. Die punt is dat ons ’n roeping hier in die Vrystaat het; kom ons vat nou hande en gee mekaar vir ’n wyle tyd en spasie oor ’n kwessie waaroor ons nie alle antwoorde het nie. Miskien wag daar nou iets groters om te doen; iets wat duidelik met mense se saligheid te doen het, naamlik hul verlange na ’n God van genade en geregtigheid, na die rus en die sagte juk van Jesus (Matteus 11:28-30).
Pastorale Brief
aan Gemeentes ná Sinode 2024-10-04
Goedgekeurde Notule
van die Buitengewone Sinodesitting op 3 Oktober 2024
NG Kerk Vrystaat: Só sê sinodegangers ná vergadering in Bloem
(Kerkbode, deur Chris de Vries / 7 Oktober 2024 / @sinode)
Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse
(Kerkbode, deur Chris de Vries / 4 Oktober 2024 / @sinode, Gewild)